Hommeltuie kan aansienlike voordele vir die landboubedryf inhou, insluitend die inspeksie van heinings en grense, monitering van waterinstallasies, ontbossing, gewasmonitering, veemonitering en teenstropery-aktiwiteite. Foto ter illustrasie/argief
Hommeltuie kan aansienlike voordele vir die landboubedryf inhou, insluitend die inspeksie van heinings en grense, monitering van waterinstallasies, ontbossing, gewasmonitering, veemonitering en teenstropery-aktiwiteite. Foto ter illustrasie/argief

Hommeltuie steeds snag woelig

Nampol, NCAA bewus van kwessie
Die Namibië Landbou-unie en die gesamentlike misdaadvoorkomingsforum is in gesprek met die Namibië Burgerlike Lugvaartowerheid, die Namibiese polisie en ander relevante rolspelers om hierdie kwessie aan te pak.
Francoise Steynberg

Oor die afgelope paar maande is verskeie waarnemings van hommeltuie in verskillende dele van Namibië aangemeld, veral snags. 

Die Namibië Landbou-unie (NLU) en die gesamentlike misdaadvoorkomingsforum (JCPF) het bevestig hulle is in gesprek met die Namibië Burgerlike Lugvaartowerheid (NCAA), die Namibiese polisie (Nampol) en ander relevante rolspelers om hierdie kwessie te takel. 

Volgens die regulasies van die NCAA is die vlieg van hommeltuigvlugte snags verbode, maar talle boere in die Suide het verskeie voorvalle al by NCAA en Nampol aangemeld waaroor Republikein berig het.

Adelaide von Wielligh van die JCPF het Vrydag bevestig vier hommeltuie vlieg tans in 'n blokpatroon tussen die plase Aruab en die Auberus in die ||Karasstreek. ’n Boer in die omgewing van Grünau het in ’n stemgreep gesê hy het Donderdagaand drie hommeltuie in die nag gesien.

“In die Hardapstreek was dit laas vroeg in Februarie gesien,” het Von Wielligh gesê. 

Elize Cilliers, ’n boervrou in die Maltahöhe-distrik in die Hardapstreek, het Vrydag gesê die hommeltuie vlieg nie tans oor hul plaas nie, maar wel in die omgewing.

“Ja, ons het hulle gesien,” het sy gesê.

Cilliers het vanjaar telkemale haar kommer teenoor Republikein en owerhede uitgespreek oor hommeltuie wat snags oor haar plaas vlieg waar sy vrees vir die veiligheid van haar stoet Appaloosa-perde. Volgens haar weet die polisie ook nie onder watter aanklag haar klag aanhangig te maak nie. 

“Die gebruik van hommeltuie in Namibië is nog relatief beperk. Hoewel wetgewing en regulasies bestaan, is daar steeds ’n aantal grys areas en die hommeltuigsektor ontwikkel vinnig, soos in ander dele van die wêreld gesien kan word,” lui die jongste nuusbrief van die NLU.

“Aan die een kant kan hommeltuie aansienlike voordele vir die landbou inhou, insluitend die inspeksie van heinings en grense, monitering van waterinstallasies, ontbossing, gewasmonitering, veemonitering en teenstropery-aktiwiteite.” Hommeltuie word ook in mynbedrywighede vir prospektering gebruik en Nampol maak self gebruik van hommeltuie vir soek- en toesigoperasies.

Aan die ander kant kan hommeltuie ook vir onwettige aktiwiteite soos stropery en veediefstal gebruik word. 

Die NLU sê NCAA en Nampol is bewus van die situasie.

“Enige verdagte waarnemings van hommeltuig, veral snags, wat nie direk geverifieer kan word nie (byvoorbeeld by bure), moet onmiddellik aangemeld word. Indien ’n patroon in hommeltuigaktiwiteite geïdentifiseer kan word, moet Nampol vooraf daarvan in kennis gestel word.”

Volgens die NLU kan Nampol se hoofinspekteur Israel van 24 uur per dag by +264 81 222 2883 gekontak word. 

Waarnemings moet ook aan die NCAA gerapporteer word by [email protected] sodat vasgestel kan word of enige geregistreerde aktiwiteit plaasvind.

“Dit is belangrik om die presiese koördinate vas te stel van waar die hommeltuie waargeneem is. Dit kan gedoen word deur Google Maps of Apple Maps te gebruik deur jou posisie te merk, die liggingwyser op die kaart te druk en ‘deel ligging’ in die kieslys te selekteer. Liefs moet die rigting en beraamde afstand ook aangeteken word.”


REGULASIES

Die volgende algemene reëls en regulasies is van toepassing op die gebruik van hommeltuie in Namibië:

- Elke hommeltuig moet by die NCAA geregistreer wees,

- Afhangend van die grootte van die hommeltuig geld verskillende vereistes vir vlieënierlisensies.

- Elke vlug moet by die NCAA geregistreer word. Boere kan aansoek doen vir jaarlikse goedkeuring om binne hul plaasgebied te vlieg.

- Die maksimum vlughoogte is 150 voet bo grondvlak.

- Toeriste wat hommeltuie in Namibië wil gebruik, moet dit voor aankoms by die NCAA registreer.

- Dit is verbode om in nasionale parke of beskermde gebiede te vlieg.

Meer inligting is beskikbaar op die NCAA se webwerf. – Bykomende bron: NLU

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer