Hommeltuie ’n hulpmiddel vir boere

Teenstropery, brandbestryding
Danksy die verskeidenheid elektroniese veiligheidstelsels is dit glad nie moeilik om 'n hommeltuig in 'n landboukonteks te gebruik nie.
Francoise Steynberg
Talle boere is steeds nie vertroud met hommeltuie nie, wat hul vermoë beperk om voordeel uit dié tegnologie te trek.

“Die tye waarin ons leef, vereis verandering en hommeltuie stel ons in staat om hierdie uitdagings daadwerklik aan te pak. Hulle kan landboubedrywighede meer doeltreffend en veiliger maak,” lui die jongste nuusbrief van die Namibië Landbou-unie (NLU).

Hier is ’n blik op die wêreld van hommeltuie en wat dit vir boere kan beteken, met die huidige fokus op termiese hommeltuie vir sekuriteitstoepassings – spesifiek die DJI M3T (reeds vervang), M30T en M4T.

’n Sekuriteitshommeltuig is in wese ’n kompasbeuel (gimbal)-gestabiliseerde kamera wat op ’n lugplatform gemonteer is. In hierdie eenvoudige definisie lê die antwoord op watter hommeltuig die beste vir jou gaan werk.

KAMERA

• Hitte-opsporing teenoor sigbare lig: ’n Termiese kamera meet hitte. Die “prentjie” wat jy sien, is eintlik ’n hittekaart, wat jou twee belangrike voordele bied: ’n Hommeltuig met ’n termiese kamera kan in volkome duisternis “sien”, sonder enige infrarooi beligting, en dit stel jou in staat om liggame wat warmer as die omgewing is, raak te sien. Al is die resolusie van bekostigbare termiese sensors laag (640 x 480, ofte wel 0,3 megapixel), is hulle ongelooflik doeltreffend. ’n Termiese hommeltuig kan maklik beeste tot 2 km ver raaksien, met min invloed van plantegroei.

• Inzoem van kamera: Om te bevestig wat jy op die termiese beeld sien, het jy ’n kamera met ’n goeie zoemfunksie nodig. Byvoorbeeld, die M3T het 56x hibridiese zoem, die M30T het 200x en die M4T 112x. Met 200x-zoem kan jy die tipe en kleur van ’n voertuig tot sewe kilometer ver identifiseer. Let daarop dat dié kameras slegs goed werk met voldoende omgewingslig, maar die M4T het uitstekende laeligversterking.

• Laserafstandmeter: Die M30T en M4T het ’n laserafstandmeter met ’n reikafstand van onderskeidelik 1 200 m en 1 800 m. Dit stel die vlieënier in staat om GPS-punte op daardie afstande vas te lê sonder om fisies bo die ligging te wees – ideaal vir die opsporing en merk van stropers sonder om hul aandag te trek.

LUGPLATFORM

• Vermyding van hindernisse: Beide die M30T en M4T het ’n optiese hindernisvermydingstelsel; die M4T het boonop infrarooi sensors aan die onderkant. Dit maak dit byna onmoontlik om teen groot voorwerpe te bots (behalwe dalk kraglyne). Die M30T beskik ook oor ’n ADSB-ontvanger wat jou waarsku oor nabygeleë vliegtuie met ADSB.

• Voorsorg: Hierdie hommeltuie is toegerus met dubbele stelsels vir kritieke funksies. Die M30T het selfs ’n ekstra battery. Albei kan nog land (al is dit rof) wanneer een van die vier enjins sou faal.

• Weerbestandheid: Die M30T kan in ligte reën vlieg, die M4T nie.

• Topsnelheid: Die M30T en M4T het onderskeidelik ’n topspoed van 83 km/h en 76 km/h.

• Batterylewe: Realistiese battery-uithouvermoë is 22 minute vir die M30T en 26 minute vir die M4T.

• Vlugafstand: Teoreties is die sein se bereikbaarheid 8 km vir die M30T en 25 km vir die M4T, maar dit is grotendeels teoreties gesien. ’n Vlug van 25 km heen en terug teen ’n maksimum spoed sal 40 minute neem, sonder tyd op die terrein, wat dus ver buite die battery-uithouvermoë val. Heuwels en hoë plantegroei beïnvloed ook die sein. ’n Praktiese reikafstand van sowat vier kilometer vir die M30T is meer as voldoende om ’n tipiese 1 000 ha kamp te deursoek.

• Landingsblok: Beide hommeltuie is beskikbaar in ’n dock-weergawe – ’n landingsblok soos hul eie weerbeskermde “skuur”. Dit is ’n baie nuttige opsie vir plaaswerk waar die eienaar nie altyd aanwesig is nie. Die hommeltuig kan selfstandig opstyg, ’n voorafbepaalde roete vlieg en weer land.

Danksy die verskeidenheid elektroniese veiligheidstelsels is dit glad nie moeilik om ’n hommeltuig in ’n landboukonteks te gebruik nie. Take kan vooraf geprogrammeer word, sodat alles outomaties gebeur – van opstyg tot landing. Al wat die boer hoef te doen, is om die kameraskerm dop te hou.

KOSTE

Hier is waar baie mense tou opgooi.

Die M30T en M4T kos tussen N$150 000 en N$200 000, wat insluit voldoende batterye en ’n behoorlike 220V PSW-invoerder vir jou bakkie, sodat jy batterye ter plaatse kan herlaai.

Wat jy vir daardie belegging kry:

• Die mees praktiese teenstropery-oplossing beskikbaar, met ’n baie hoë afskrikwaarde.

• Die vinnigste plaaspatrollie-oplossing beskikbaar. Om ’n verlore dier op te spoor (mits dit nie reeds gevrek het nie), neem een en ’n half uur op ’n kamp van 1 000 ha. Ek weet daarna presies waar die dier is, of dat dit nie meer daar is nie.

• Uitsonderlik in brandbestryding – hulle kan deur rook sien en gee die koördineerder duidelike insig in hoe die brand ontwikkel.

• Lopende koste is minimaal en met goeie sorg hou die hommeltuig vir jare.

• Met die karteringfunksies wat albei hommeltuie het, kan jy jou plaas met uiters hoë akkuraatheid en resolusie karteer – baie beter as enigiets op Google Earth.

BEPERKINGS

Daar is praktiese beperkings aan termiese hommeltuie.

Die meeste beperkings kan egter met beplanning en ervaring oorkom word. Een belangrike beperking is die huidige wetgewing van die Namibiese Burgerlugvaartowerheid (NCAA). Dit is feitlik onmoontlik om ’n hommeltuig wettig te vlieg vir die doel soos hierbo uiteengesit. Dit beteken ook dat jy nie jou hommeltuig sal kan verseker nie – hoewel, gegewe hoe veilig hulle is, dit dalk nie noodsaaklik is nie.

“Ons hoop die NCAA sal die dringendheid van hierdie saak begin besef en ons behoefte om ons

bestaansmiddele te beskerm,” sê die NLU.

’n Verdere uitdaging is die beskikbaarheid van vinnige internet in landelike gebiede. ’n Hommeltuig

benodig ’n vinnige en mobiele internetverbinding, iets wat tans nie in Namibië gewaarborg is nie.

– Namibië Landbou-unie

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer