‘Hervestigingsplase is nie vir naweekboere’
Grond behoort na mense te gaan wat aktief gaan boer, nie na naweekboere nie.
Met die bekendstelling van die hersiene nasionale hervestigingsbeleid van 2023 Vrydag in Windhoek, het die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, dit beklemtoon.
“Kom ons gee grond aan die mense wat daarop gaan werk, nie dit as ’n toevlugsoord vir naweke en vakansies gaan gebruik nie.”
Sy het gesê die huidige stelsel plaas te veel klem op akademiese kwalifikasies en behoort eerder aansoekers met bewese boerderyvermoëns te prioritiseer.
“Grond behoort nie te gaan na dié wat dit as ’n leefstylbate bekom nie,” terwyl die regering dit oorweeg om Namibië se keuringskriteria vir begunstigdes van hervestiging ingrypend te hersien.
“Die werklike suksesvolle boere is nie PhD-gegradueerdes nie. Hulle rol net die moue van hul oorpakke op en kry die werk gedoen, baie beter as ander PhD-boere,” het Zaamwani gesê.
Haar opmerkings dui op ’n moontlike hersiening van die huidige puntetoekenningstelsel vir hervestiging, waarvolgens aansoekers met meesters- en PhD-kwalifikasies outomaties hoër punte ontvang.
“As jy ’n meestersgraad of ’n PhD het, kry jy meer punte. Daardie een, kollegas, moet ons hersien,” het sy benadruk.
Die minister het die opmerkings gemaak tydens die bekendstelling van die hersiene nasionale hervestigingsbeleid, wat die 2001-raamwerk vervang en aanbevelings uit die Tweede Nasionale Grondkonferensie wat in 2018 gehou is, insluit.
PRODUKTIEWE GRONDGEBRUIK
Die nuwe beleid het ten doel om hervestiging te verander – van ’n program wat grootliks op grondherverdeling gebaseer is na een wat op produktiewe grondgebruik, voedselsekerheid en ekonomiese bemagtiging fokus.
Onder die hervormings is die instelling van verskillende hervestigingsmodelle wat die uiteenlopende ervaring en ondersteuningsbehoeftes van begunstigdes erken, insluitend ontluikende kommersiële boere en kommunale boere.
Die beleid skep ook ’n pad vir suksesvolle begunstigdes om van huurpagreg na
voorwaardelike eienaarskap van titelakte-grond te vorder.
Zaamwani het egter beklemtoon dat begunstigdes nie toegelaat sal word om grond te bekom, dit met wins te verkoop en dan weer in die hervestigingsry in te val nie.
“As jy wil verkoop of nie meer die grond wil hê nie, sal die regering dit aan iemand anders toeken. Ons het gesien hoe mense bates bekom, dit verkoop en dan weer by die ry aansluit. Ons wil dit vermy,” het sy gesê.
Die hersiene beleid poog ook om een van die program se langdurige swakpunte te takel deur ondersteuning ná vestiging te versterk.
Zaamwani het gesê baie hervestigde boere het gekla dat hulle aan hul eie lot oorgelaat is nadat hulle grond ontvang het.
“Ek het baie boere ontmoet wat vir my gesê het sedert hulle hervestig is, niemand van die ministerie gekom het om te kyk hoe dit met hulle gaan of of hulle sukkel nie,” het sy gesê.
Onder die nuwe raamwerk sal begunstigdes voortgesette ondersteuning ontvang deur landbouvoorligtingsdienste, tegniese opleiding, die ontwikkleing van infrastruktuur, verbeterde toegang tot finansiering by Agribank, markskakels en sterker institusionele ondersteuning.
Namibië produseer tans ongeveer 40% van sy voedselbehoeftes, met die regering wat daarna mik om dit teen 2030 tot 80% te verhoog.
“Ons wil die hervestigingsprogram omskep in ’n program vir produktiewe grondbenutting en ekonomiese bemagtiging, nie net bloot vir hervestigingsdoeleindes nie,” het Zaamwani gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie