Grondraad verwyder onwettige heinings

Operasie in Omaheke, Oshikoto en twee Kavangostreke
Die landbouministerie belowe om kommunale grondregte te beskerm.
Loise Shiimi

Die Grondraad het ’n landswye inisiatief van stapel gestuur om onwettige heinings op kommunale grond te verwyder.

Romeo Muyunda, woordvoerder van die die ministerie van landbou, visserye, water en gronhervorming, het in ’n onderhoud met Republikein het gesê die ministerie werk saam met streekrade, kommunale grondrade en tradisionele owerhede om die toepassing van die Wet op Kommunale Grondhervorming van 2002 te versterk.

Hierdie veldtog toon die regering se verbintenis om gemeenskaplike grondregte te beveilig, gedeelde weidingsgebiede te bewaar en te verseker dat kommunale grond vir alle regmatige gebruikers toeganklik bly.

“Die program het reeds in die streke van Omaheke, Kavango-Wes- en -Oos begin en is tans aan die gang in die Oshikotostreek, waar die operasies Maandag begin het,” het Muyunda gesê.

Hy het bevestig dat soortgelyke pogings in ander kommunale gebiede oraloor die land sal plaasvind as deel van ’n gekoördineerde nasionale strategie om die wet te handhaaf en billike toegang tot kommunale grond te bevorder.

Muyunda het beklemtoon dat onwettige omheining die billikheid in die gebruik van kommunale grond belemmer. 

“Dit beperk wettige toegang tot kommunale weidingsgebiede, asook geleenthede vir vir boere se vee en skep onnodige twiste binne gemeenskappe. 

“Die ministerie is daartoe verbind om te verseker dat kommunale grond regverdig, deursigtig en in ooreenstemming met die wet bestuur word,” het hy gesê.

Die wet verbied die oprigting van nuwe heinings op kommunale grond sonder magtiging.

“Dit vereis ook die verwydering van enige onwettige heinings deur gevestigde prosedures soos in die wet uiteengesit,” het Muyunda verduidelik. 

Hy het aangedui dat sekere strukture, insluitend heinings rondom plaaswonings se erwe, beeskrale, waterpunte en landerye, moontlik vrygestel kan word, mits dit aan die wet voldoen.

Die ministerie het beklemtoon dat die verwyderingsproses nie willekeurig sal wees nie.

“Voordat enige heining afgebreek word, sal die betrokke owerhede die wettigheid van die struktuur nagaan, skriftelike kennisgewings aan geraakte persone uitreik, ruimte laat vir vrywillige nakoming en geraakte partye toelaat om regsmenings in te win. Verwyderingsoperasies sal slegs in gevalle van nie-nakoming uitgevoer word,” het Muyunda verduidelik.

Hy het die publiek aangemoedig om met amptenare saam te werk en grondkwessies deur die toepaslike administratiewe en regskanale aan te spreek.

In die Oshikotostreek het operasies Maandag begin. Die kommunale grondraad van die streek het in 2020 vyf onwettige heinings geïdentifiseer en vier eienaars het ná ontvangs van kennisgewings gehoor gegee, wat slegs een heining oorgelaat het wat gedwonge verwydering vereis het.

Dr. Paulina Uugwanga, voorsitter van die Oshikoto kommunale grondraad, het gesê die huidige operasie vind plaas by die Onamishu-nedersetting in die Nehale Lya Mpingana-kiesafdeling in reaksie op klagtes uit die gemeenskap.

“Ons ontvang gewoonlik berigte uit die gemeenskap oor onwettige heinings. Ons ondersoek dit deur met die hoofman te konsulteer om te bevestig dat hy van die saak bewus is. 

“Ons hou by die behoorlike proses deur die eienaar te versoek om die heining te verwyder. As hulle nie daaraan voldoen nie, het die raad die bevoegdheid om dit te verwyder,” het sy gesê.

Fabian Venasiu, lid van die Oshikoto kommunale grondraad, het inwoners aangespoor om die korrekte prosedures te volg. 

“Almal begeer ’n stuk grond, maar dit is noodsaaklik om die vereiste protokolle te volg. Moenie begin omhein sonder om met iemand te konsulteer nie. 

“Praat met jou hoofman oor die grond wat jy wil beset sodat die raad kan beoordeel of daardie gedeelte benut kan word en hoe dit omliggende gebiede kan beïnvloed,” het hy gesê.

Die ministerie het aangekondig dat die landswye operasie sal voortduur totdat alle aangemelde onwettige heinings op kommunale grond hanteer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer