Grensheiningtender gekanselleer
Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) het die omstrede tender van N$123 miljoen vir die veterinêre kordonheining vir die suidelike en suidoostelike grens amptelik gekanselleer.
Dit volg weke nadat ’n tenderevalueringskomitee (BEC) aanbeveel het dat die projek aan ’n Chinees-gekoppelde gesamentlike onderneming (JV) toegeken word. ’n Kennisgewing gedateer 7 September en deur Republikein gesien is, het gesê die tenderproses het nie die verwagte uitkoms geskep of bereik nie.
Dit volg op ’n beroep van die CPBN aan benadeelde tenderaars om hul besware teen verlede Vrydag op 4 September 2026, in te dien.
“Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië stel u hiermee in kennis dat bogenoemde tender gekanselleer is ingevolge artikel 54(1)(g) van die wet op openbare verkryging, soos gewysig.
“Die raad erken en waardeer die tyd en moeite van alle deelnemende tenderaars in die voorbereiding en indiening van hul tenders,” het CPBN se voorsitter, Mary Shiimi, geskryf.
Sy het bygevoeg: “Hierdie kansellasie tree in werking vanaf 3 September 2026, ná die proses van voorneme om te kanselleer en skriftelike vertoë deur benadeelde tenderaars.”
Die kennisgewing maak nie bekend hoeveel besware ontvang is, watter tenderaars dit ingedien het of watter gronde hulle aangevoer het nie. Dit meld ook nie of die projek weer geadverteer sal word nie.
Republikein het verlede maand berig dat plaaslike ondernemings kommer oor die tender uitgespreek het, veral oor die vooruitsig dat ’n Chinees-gekoppelde JV die multimiljoendollar-kontrak sou bekom, asook oor die beperkte deelname van plaaslike maatskappye.
’n Plaaslike kontrakteur wou toe weet waarom ’n Chinese-gekoppelde maatskappy oorweeg moet word vir wat hy as ’n eenvoudige projek beskryf het.
“Sê jy dat ons in Namibië, in die hele land, nie die kapasiteit het om ’n eenvoudige heining op te rig nie? Namibiërs het heinings op plase, om ons huise en oral elders opgerig,” het die kontrakteur aan Republikein gesê.
Die tender behels die oprigting van ’n heining langs Namibië se grens met Suid-Afrika. Dit beslaan 155 kilometer langs die Oranjerivier en nog 30 kilometer tussen die Klein Menasse- en Mata Mata-grensposte in die ||Kharasstreek.
Republikein het in Augustus berig ’n BEC by die CPBN het vir China Jiangxi International (Namibia) (Pty) Ltd, in ’n gesamentlike onderneming met Homefin Properties CC, eerste vir die kontrak gelys.
Die JV is as die voorkeurtenderaar aangewys, nadat ’n voorkeurmarge sy geëvalueerde prys tot N$120 miljoen verlaag het, wat dit voor tien ander tenderaars geplaas het wat tydens die finansiële evalueringsfase as geskik beskou is.
’n Verslag van die BEC, gedateer 18 Augustus en in Republikein se besit, toon dat die werklike tenderprys N$126,4 miljoen was, belasting op toegevoegde waarde (BTW) ingesluit.
Puanchu International Construction Engineering (Pty) Ltd, in ’n gesamentlike onderneming met Southern Africa Projects was tweede met sy tender van N$122 miljoen. Landmark Projects (Pty) Ltd, in ’n gesamentlike onderneming met Transact Investments CC was in die derde plek, nadat die gewysigde tender van N$131 miljoen na N$125 miljoen aangepas is.
Volgens die evalueringsverslag het die BEC die tenderaars volgens die pryse van die laagste tot die hoogste met inagneming van die voorkeurmarge gerangskik en die kontrak sou aan die laagste geëvalueerde tenderaar toegeken word .
Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het die tender op 22 Junie uitgereik en teen die sluitingsdatum 23 tenders ontvang.
Die regering het verlede maand die bekendstelling van ’n heiningstrategie van N$1,5 miljard in die ||Kharasstreek aangekondig om Namibië se bek-en-klouseervrye status te versterk midde die uitbreking van die siekte in buurlande.
Die landbouminister, Inge Zaamwani, het gesê die projek is daarop gemik om beheermaatreëls teen bek-en-klouseer (BKS) te verskerp, buffersones op te skep en Namibië se winsgewende beesvleisuitvoere te beskerm.
Namibië bly sonder inenting BKS-vry en behou sy internasionale uitvoerstatus na markte na onder meer die Europese Unie (EU) en China.
“Hierdie en voorheen geïmplementeerde beheermaatreëls het die land in staat gestel om sy status as BKS-vryesone te handhaaf,” het Zaamwani gesê.
Vrae wat Maandag aan die woordvoerder van CPBN, Johanna Kambala, gestuur is, is teen druktyd nog nie beantwoord nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie