Utaara Mootu sê die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het nie ’n goed gefinansierde plan om werklike grondhervorming te dryf nie. FOTO ARGIEF
Utaara Mootu sê die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het nie ’n goed gefinansierde plan om werklike grondhervorming te dryf nie. FOTO ARGIEF

Geld te min vir grondhervorming

Skaars 3,6% van nasionale begroting
Miljoene hektaar grond word steeds deur afwesige grondeienaars beheer, terwyl die meeste Namibiërs grondloos bly, sê 'n LPM-parlementslid.
Ellanie Smit
Die parlementslid en verteenwoordiger van die Landless People’s Movement (LPM), Utaara Mootu, het die begrotingstoekenning vir landbou en grondhervorming skerp gekritiseer.

Ten spyte van die dringende behoefte aan strukturele verandering in die landbousektor, sê Mootu die toekenning van N$2,5 miljard – skaars 3,6% van die nasionale begroting – is totaal onvoldoende.

Dit is veral gesien in die lig van die omvang van grondongelykheid, ekonomiese uitsluiting en voedselonsekerheid wat die bedryf veronderstel is om te takel.

Volgens haar is die bedrag minder as 10% van die N$10,9 miljard wat jaarliks onder die omvattende Afrika-landbou-ontwikkelingsprogram (CAADP), ’n verdrag waartoe Namibië amptelik verbind is, voorgestel word.

Mootu het gemaan die dieper kwessie lê in die afwesigheid van ’n goed georganiseerde, goed gefinansierde plan om werklike grondhervorming aan te dryf.

Net N$250 miljoen is opsy gesit vir die verkryging van grond, wat volgens haar nie naastenby genoeg is om grond op ’n betekenisvolle skaal aan te koop nie.

“Die Ueitele-verslag beraam die waarde van grond wat tydens die Duitse koloniale besetting verloor is op N$235 miljard. Die begroting kom neer op ’n simboliese gebaar wat skaars ’n handvol plase kan koop.”

Wat volgens Mooto selfs erger is, is dat die regering steeds klem lê op 100 hektaar-plotte vir hervestiging, wat op ’n basiese wanbegrip van beide landbou-lewensvatbaarheid en ekonomiese geregtigheid dui.

“In ’n semi-droë land wat deur droogtes en swak grondkwaliteit geteister word, wat is ’n plot van 100 hektaar veronderstel om te bereik?

“Die huidige benadering hou effektief swart Namibiërs gevange in lae produktiwiteit en bestaansboerdery wat wêrelde verwyder is van kommersiële lewensvatbaarheid en voorvaderlike herstel,” het sy gesê.

Volgens Mooto vererger die wantoewysing van geld net verder die probleem. Slegs ses mense is die afgelope jaar hervestig.

“Die grondwetsontwerp staan sonder enige verduideliking stil. Daar is geen strategie vir massaherverdeling of ondersteuning ná hervestiging nie.”

Terselfdertyd word miljoene hektaar grond volgens haar steeds beheer deur afwesige grondeienaars, terwyl die meeste Namibiërs grondloos bly.

“Die teenstrydigheid behoort polities onaanvaarbaar te wees. Hierdie ministerie moet besluit of dit bestaan om die grondlose landelike armes te dien of om buitelandse kapitaal te beskerm.”

Muuto sê die weiering om die wurggreep van buitelandse grondeienaarskap te konfronteer, onthul ’n diep strukturele konserwatisme wat die kern van die staat is.

Volgens haar het dié afwesige grondeienaars wat deur afstand en die wet beskerm word, hulself vir geslagte met gesteelde grond verryk, terwyl inheemse gemeenskappe arm en grondloos bly.

“’n Regering wat aanhou om sy besittings te beskerm, kan nie daarop aanspraak maak dat hy postkoloniaal is nie. Hy is aandadig aan ’n vorm van neokolonialisme wat setlaarkapitalisme onderhou.”

Mootu sê grondhervorming sonder onteiening is nie hervorming nie.

“Dit is verraad. Enigiets minder as radikale herverdeling is eenvoudig ’n voortsetting van koloniale verowering op ander maniere.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer