Die Neckartaldam is sowat 40 km noordwes van Keetmanshoop in die ||Kharasstreek geleu00EB. Foto argief
Die Neckartaldam is sowat 40 km noordwes van Keetmanshoop in die ||Kharasstreek geleu00EB. Foto argief

Geld briek besproeiing

3 705 hektaar word benodi
Weerstand van grondeienaars en ’n gebrek aan finansiering vertraag die besproeiingskema by die Neckartaldam.
Nikanor Nangolo

Planne om die volle landboupotensiaal van die Neckartaldam te ontsluit, het tot stilstand geruk aangesien die regering nie 3 705 hektaar strategies geleë landbougrond kan bekom nie.

Dit ten spyte daarvan dat die regering reeds meer as 20 000 hektaar vir N$19,54 miljoen aangekoop het.

Die regering se planne om die besproeiingskema by die Neckartaldam in die ||Kharasstreek uit te brei, word teruggehou deur grondeienaars wat nie bereid is om slegs gedeeltes van hul plase te verkoop nie.  Nog ’n stok in die wiel is die gebrek aan finansiering om die oorblywende grond wat vir die projek benodig word, te bekom.

Die adjunkdirekteur in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, Albertus Engelbrecht, sê gewillige verkopers (eienaars) wil hê die regering moet die plaas in sy geheel koop en nie net gedeeltes wat vir besproeiing nodig is nie.

Tydens ’n besoek van die staande komitee oor natuurlike hulpbronne aan die streek, het Engelbrecht gesê daar is geen begrotingsvoorsiening vir die verkryging van grond vir die besproeiingskema nie.

“Sodra ons hierdie 3 705 hektaar bekom het, kan ons volstoom voortgaan met die hele besproeiingsprojek sodat die 5 000 hektaar wat ons geoormerk het, gedek kan word,” het Engelbrecht gesê.

Hy het bygevoeg net 5% tot 10% van die grond wat reeds verkry is, kan besproei word. Die res is beter geskik vir veeboerdery, voerkrale en ander landbougebruike. Sommige eiendomme is te ver van die waterbron geleë, wat bykomende pypleidings en infrastruktuur vereis.

“Ons beskik wel oor die 20 000 hektaar, maar ons kan nie die 5 000 hektaar bekom wat ons beoog en waarvoor ons beplan nie. Maar as ons die bykomende 3 705 hektaar kry, dan dink ek ons ​​sal meer geskikte grond vir besproeiingsdoeleindes kry,” het hy gesê.

Die probleem, het hy verduidelik, is dat die betrokke grondeienaars wil hê die regering moet die hele plase aankoop, wat die koste van die verkrygingsprogram aansienlik verhoog.

Die konstruksie van die Neckartaldam het in 2013 begin en is in 2019 voltooi, voordat dit amptelik in Maart 2020 ingewy is. Die projek het meer as N$5,7 miljard gekos, wat dit een van Namibië se grootste beleggings in waterinfrastruktuur maak.

Die dam is Namibië se grootste dam, met ’n bergingskapasiteit van ongeveer 856 miljoen kubieke meter water. Bestaande infrastruktuur sluit ’n balanseringsdam en ’n waterpyplyn in, wat bedoel is om water aan die beplande besproeiingskema te verskaf.

Die regering gaan nietemin voort met voorbereidings vir die volgende fase.

As deel van die tweede fase van die projek het die ministerie Dunamis Consulting aangestel om ’n omvattende tegniese en finansiële haalbaarheidstudie vir die ontwikkeling van besproeiing stroomaf te onderneem.

Die studie sal die geskiktheid van die grond beoordeel, gepaste gewasvariëteite identifiseer, vereistes vir die verspreiding van water bepaal, geleenthede in plaaslike en uitvoermarkte evalueer en doeltreffende watergebruik verseker om grondagteruitgang, versadiging en grondversouting te voorkom.

Die konsultant is ook verantwoordelik vir haalbaarheidstudies, voorlopige en omvattende ingenieursontwerpe, tenderdokumentasie en konstruksietoesig. 

Gedetailleerde ontwerpe sal na verwagting teen Desember vanjaar voltooi wees, terwyl die afgebakende kommersiële landbou-eenhede na verwagting voor die einde van die 2026-’27-boekjaar geadverteer sal word.

Volgens die direktoraat van landbouproduksie, uitbreiding en ingenieurswese (suidelike afdeling) het die regering wettiglik 19 303 hektaar rondom die balanseringsdam verkry om landbou-ontwikkeling stroomaf te vergemaklik.

Die verkrygings sluit Gedeelte 1 van Plaas Tschaunap no. 75, Plaas Dagbreek no. 420, die res van Gedeelte 2 van Plaas Schlangkopf no. 124, Gedeelte 4 van Plaas Eppenau no. 123 en gedeeltes van Plaas Schaapplaats no. 414 in.


VEE

Vetaruhe Kandorozu, ’n lid van die staande komitee, het tydens die besoek aan ||Kharas kommer uitgespreek oor die implementering van die regering se rotasieskema vir vee.

Volgens hom het politieke inmenging dit uiters moeilik gemaak om vee van begunstigdes terug te kry.

“Dit is baie uitdagend. Ek was daar. Oor die kwessie van rotasiekredietskemas en diere, ek was daar. Ek was ’n voormalige raadslid van die Okakarara-kiesafdeling. Dit is polities nie moontlik nie, maar dit is prakties moontlik,” het Kandorozu gesê.

Volgens hom is politici dikwels huiwerig om beeste of bokke van begunstigdes, veral gedurende verkiesingstye, terug te neem. 

“Jy sal nooit die steun van politici kry om beeste of bokke weg te neem en aan ander boere te gee nie. Hulle sal aanhou uitstel en dan ’n moratorium tydens verkiesings plaas en sê, kom ons begin weer ná die verkiesings,” het hy gesê.

Kandorozu sê begunstigdes is dikwels politieke aktiviste op grondvlak, wat die afdwinging daarvan polities sensitief maak.

“Die raad is dus om polisiebeamptes te betrek en die saak meer wetlik bindend te maak, sodat die prokureur met hulle kan skakel in plaas daarvan om deur politieke amptenare te werk. Dalk is dit hoe jy daardie 14 diere by die volgende een sal kry.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer