Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Gehalte bo kwantiteit

Strategiese plek in die wêreldwye beesmark
Met net 2,8 miljoen beeste het die land ’n nis as ’n topprodusent uitgekerf en lewer hoëgehalte, naspeurbare beesvleis aan internasionale markte.
Ellanie Smit

Namibië se beeskudde maak minder as 1% van die wêreld s’n uit, maar sy rol in die internasionale beesvleismark is strategies betekenisvol. 

Met ’n nasionale kudde van 2,8 miljoen sterk is die land stewig geposisioneer as ’n nis-produsent van topgehalte, eerder as ’n volume-mededinger in ’n bedryf waar jaarlikse produksie van 60 miljoen ton oorskry. Die wêreldwyde beeskudde het in 2024 ongeveer een miljard bereik.

Dit is volgens Meatco se geïntegreerde jaarverslag vir 2024-’25 wat die maatskappy onlangs vrygestel het. 

Hoewel landbou minder as 4% tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) bydra, bly veeboerdery sosioëkonomies van kritieke belang. 

Volgens die verslag ondersteun die sektor lewensonderhoud regoor landelike Namibië en maak dit ongeveer twee derdes van die totale landbou-uitset uit, wat die belangrikheid daarvan vir die breër ekonomie benadruk. 

Daarin word gesê dat vleisverwerking ’n bykomende 0,2% tot 0,4% tot die BBP bydra, met verwerkte vleisuitvoere wat in 2024 sterk gestyg het – wat Namibië se groeiende voetspoor in internasionale markte verder bevestig.

Wêreldwyd is beesvleisproduksie en -uitvoere by ’n paar dominante spelers gekonsentreer, soos die Verenigde State van Amerika (VSA), Brasilië, China, Australië en Argentinië – terwyl die vraag die sterkste bly in Oos-Asië, die VSA en dele van Europa. 

“Skommelinge van aanbod, klimaatdruk, siekte-uitbrekings en geopolitiek bly die wêreldwye prysdinamika en handelsvloei vorm. Dit skep sowel risiko’s as geleenthede vir kleiner uitvoerders soos Namibië,” sê Meatco. 

Die verslag lui gegewe sy skaalbeperkings, Namibië se rooivleisbedryf met gehalte, naspeurbaarheid, dieregesondheid en marktoegang moet meeding. 

“Sy vergelykende voordeel lê daarin om prima-beesvleis vir hoëwaarde-markte te produseer eerder as om volume na te jaag. 

“Volhoubare groei hang daarvan af om winsgewendheid vir produsente te verseker, ondersteunende beleidsraamwerke te handhaaf, in infrastruktuur te belê en ’n stabiele regulatoriese omgewing te bewaar.”

Kern tot hierdie strategie is die rol van Meatco, volgens die verslag. 

"Meatco, as die land se grootste gesertifiseerde uitvoerabattoir," tree as die stabiliserende instelling binne Namibië se rooivleisbedryf op.

"Dit maak toegang tot internasionale markte moontlik, anker binnelandse beesvleispryse en beskerm produsente-opbrengste.

“Sonder Meatco sou die bedryf die risiko loop om terug te val op ’n kommoditeitsgebaseerde model wat deur aansienlike laer pryse en verhoogde skommeling gekenmerk word – ’n skuif wat Namibië se goeie posisiie in die wêreldmark sou ondermyn,” lui die verslag. 

“In ’n internasionale bedryf wat deur een miljard beeskuddes oorheers word en deur geopolitieke onsekerheid gevorm word, lê Namibië se krag nie in skaal nie, maar in strategiese fokus – die beskerming van gehalte, marktoegang en institusionele stabiliteit om sy plek in die wêreldwye beessektor te verseker.”

Meatco sê suid van die veterinêre kordonheining wil hy uitvoer-gedrewe waardeskepping en die handelsmerkposisie dryf. Noord van die heining ondersteun dit pogings van die regering om produksie te stabiliseer, marktoegang uit te brei en kommunale boerderystelsels te versterk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer