DVS inspekteer beeste op skip na Mauritius
Die departement van veeartsenykundige dienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming was gister op die hawe van Walvisbaai waar die tweede besending beeste vir Mauritius gisteraand gelaai is.
Dit is bevestig deur die uitvoerende beampte vir gehalteversekering by die Lewendehawe en Lewendehaweprodukte Raad van Namibië (LLPBN), dr. Anja Boshoff-de Witt.
“Dit is dieselfde vaartuig, die Gelray Express, wat die eerste besending na Mauritius verskeep het en DVS het die vaartuig se geriewe en prosesse in terme van dierewelstand goedgekeur,” het Boshoff-de Witt gesê.
“Soos voorheen gestel, is hierdie ’n geleentheid vir Namibië se veebedryf. Verantwoordelike bemarking bly ’n prioriteit en Namibië se beeld as ’n handelsparty wat op streng veeartsenykundige regulasies en dierewelstand fokus, is kern tot onderhandelinge en besluitneming.
PERMITTE
“Die vereiste permitte is uitgereik soos bevestig deur die bemarkingsafdeling van die LLPBN. Die voorwaarde vir so ’n permit is dat ’n veeartsenykundige invoerpermit reeds deur die invoerland uitgereik is, sowel as ’n Namibiese veeartsenykundige uitvoerpermit,” verduidelik Boshoff-de Witt.
Die huidige uitvoeroperasie behels 28 beeslorries wat by Kilo 40, noord van Otjiwarongo, bymekaarkom om 2 700 stuks beeste na die hawe van Walvisbaai te vervoer.
Hierdie tweede besending beeste uit Namibië volg nadat Mauritius sy deure vir Suid-Afrika gesluit het weens die uitbreking van bek-en-klouseer in die buurland. Namibië se sterk dieregesondheidstatus maak dit die enigste Afrikaland wat tans in staat is om aan hierdie vraag te voldoen.
Hierdie beeste, wat hoofsaaklik tussen 250 kg en 390 kg weeg, val onder die 450 kg-drempel wat vir plaaslike waardetoevoeging en slagting by Namibiese uitvoer-abattoirs geoormerk is. Dit stel hulle vry van die standaard 30%-staatsuitvoerheffing.
Volgens Goliath Tujendapi, waarnemende uitvoerende hoof van die LLPBN, hou hierdie gewigsklas potensiaal in vir produsente in die Noordelike Kommunale Gebiede (NCA’s), wat dikwels nie die weidingskapasiteit het om diere tot volle slaggewig groot te maak nie.
Deur toegang tot hierdie nismark te kry, kan Namibiese boere mededingende pryse vir ligter beeste verseker en die buitensporige koste van plaaslike voer – wat tot 75% van produksie-insette kan beloop – vermy.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie