Duisende steeds geskuld vir vleisuitvoere

Wanbetaling spruit uit handelsooreenkoms
Die Ghanese sakeman is vroeër geloof vir sy hulp om Wes-Afrika se markte vir Namibiese beesvleis te ontsluit.
Sonja Smith

’n Ghanese sakeman wat eens geprys is vir sy hulp om Wes-Afrika se markte vir Namibiese beesvleis te ontsluit, skuld Meatco N$300 000 vir produkte wat aan die Ghanese mark verskaf is. 

Die verskaffing het plaasgevind onder die vaandel van ’n beesvleis-uitvoerooreenkoms tussen Namibië en Ghana wat meer as vier jaar gelede van stapel gestuur is.

Meatco het bevestig die sakeman Thomas Abanga, deur sy maatskappy Abanga Foods Group, het ’n uitstaande balans wat voortspruit uit beesvleisuitvoere wat vir verspreiding in die Ghanese mark bestem was.

“Hy skuld N$300 000,” het Meatco se tussentydse uitvoerende hoof, Albertus Aochamub, aan Republikein bevestig.

Volgens Aochamub verteenwoordig die bedrag die uitstaande bedrag van ’n groter bestelling wat deur Meatco ingevolge ’n kommersiële ooreenkoms met die Ghanese maatskappy gelewer is.

“Produkte wat deur Meatco verskaf is, was vir verspreiding in die Ghanese mark. Dit is die uitstaande balans van ’n veel groter bestelling wat deur die kliënt behartig word,” het hy gesê.

Die skuld spruit voort uit wat eens beskou is as ’n grensverskuiwende landbouhandelsvennootskap wat Suider- en Wes-Afrika onder die  Afrika-vryhandelsgebied (AfCFTA) verbind.

Die verhouding tussen Abanga en Namibië se beesvleisbedryf dateer terug na Augustus 2021. Die Ghanese sakeman het toe ’n hoflikheidsbesoek by die destydse adjunk- eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Netumbo Nandi-Ndaitwah, afgelê. Die besoek was daarop gemik om sakegeleenthede in Namibië te ondersoek.

Tydens die besoek het Abanga en die voormalige uitvoerende hoof van Meatco, Mwilima Mushokabanji, ’n samewerkingsooreenkoms vir die uitvoer van Namibiese beesvleis na Ghana onderteken.

Die volgende jaar het die Namibiese hoë kommissaris in Ghana, Selma Ashipala-Musavyi, by amptenare in Tema aangesluit om die aankoms van die eerste besending van 15 ton Namibiese beesvleis bestem vir die Ghanese mark, te vier.

Die vennootskap tussen Meatco en Abanga Farm and Food Systems is destyds as ’n belangrike mylpaal in die versterking van handelsbetrekkinge tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (Ecowas) beskryf.

Aochamub sê Meatco se verhouding met Abanga was streng sakegebaseerd.

Volgens hom het die korporasie op 31 Augustus 2021 ’n standaard aankoop- en voorsieningsooreenkoms met Abanga Foods Group vir ’n tydperk van 24 maande aangegaan.

“Die kontrak is ten volle geïmplementeer en het sy volle duur voltooi,” het Aochamub gesê en bygevoeg Meatco is steeds vol vertroue dat die uitstaande bedrag vereffen sal word.

“Die kliënt het uitstaande fakture wat vereffen word volgens voorwaardes waaroor daar met die kliënt ooreengekom is. Ons is vol vertroue dat Abanga Food Group al hul verpligtinge sal nakom,” het hy gesê.

Aochamub wou nie besonderhede oor die terugbetalingsreëling bekend maak of aandui wanneer die uitstaande bedrag na verwagting ten volle vereffen sal word nie.


AMBISIE

Buiten vir die handelsooreenkoms vir beesvleis het Abanga verskeie ambisieuse landbou-ontwikkelingsplanne vir Namibië in die openbaar gedeel. 

Dit het voorstelle vir sentrums in verskeie streke wat die doeltreffend van landbou deur die gebruik van meganiese tegnologie te verhoog, ’n vervaardigingsaanleg vir kunsmis wat sowat 400 werksgeleenthede sou skep, uitgebreide bedrywighede vir die maal van graan, asook grootskaalse gemeganiseerde boerderystelsels ingesluit.

In ’n stadium is daar glo van Abanga ook verwag om as konsultant vir projekte op te tree wat onder die Namibië projek vir landboumeganisering en saadverbetering (Namsip) val. 

Laasgenoemde is ’n inisiatief wat deur die Afrika-ontwikkelingsbank ondersteun word en daarop gemik is om voedselsekerheid, landelike inkomste en landbouproduktiwiteit te bevorder. 

Volgens senior regeringsbronne het dié konsultasierol egter nooit gerealiseer nie.

“Afgesien van sy kommersiële ooreenkoms met Meatco, blyk dit die naaste te wees wat hy aan formele samewerking met Namibië se ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming gekom het,” het ’n regeringsbron gesê.

Die ministerie van landbou het hom sedertdien van Abanga en projekte wat met hom verband hou, gedistansieer.

In Januarie vanjaar het senior woordvoerder, Simon Nghipandulwa, aan Republikein gesê die ministerie het geen formele ooreenkoms met Abanga of enige maatskappy wat met hom verband hou, aangegaan nie. 

“Die ministerie het geen kontrak, memorandum van ooreenkoms of ander formele reëling met mnr. Thomas Abanga of enige maatskappy wat met hom geassosieer word, aangegaan, goedgekeur of onderteken nie. 

“Dit het ook geen landbou- of verwante verwerkingsprojekte wat met hom verband hou, goedgekeur of daartoe verbind nie,” het Nghipandulwa gesê.

Volgens hom is geen monetêre transaksies, beleggings, befondsing, waarborge of staatsverbintenisse ooit deur die ministerie met betrekking tot Abanga of sy entiteite gemagtig of verwerk nie.

Onlangse aanlyn berigte in Sierra Leone het bewerings teen Abanga met betrekking tot onverwante landbou-ondernemings in daardie land gemaak. 

Die bewerings is nie in die hof getoets nie en kon nie onafhanklik deur Republikein geverifieer word nie. Pogings om Abanga vir kommentaar te bereik, was onsuksesvol. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer