‘Dis ’n oorlog’
Die Namibiese Landbou-unie (NLU) versoek die regering om ’n noodtoestand af te kondig ná die bevestiging van bek-en-klouseer (BKS) binne Namibië se internasionaal erkende BKS-vrye sone waarna vleis van die winkelrakke opgeraap is.
Die unie het benadruk die uitbreking hou ’n ernstige bedreiging vir die veebedryf, landelike gemeenskappe en die nasionale ekonomie in.
“’n Noodtoestand sal die volle hulpbronne en magte van die staat beskikbaar stel om die siekte te beperk,” lui ’n verklaring wat Woensdagaand uitgereik is.
Die NLU sê hulle ondersteun die hoofveeartsenykundige beampte, dr. Kenneth Shoombe, en die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming ten volle en het boere en die publiek aangespoor om veeartsenykundige en wetstoepassingsinstruksies te volg.
“Hierdie siekte respekteer nie heinings, grense of goeie bedoelings nie. Dit word slegs deur dissipline gestuit en daardie dissipline moet van ons almal kom,” het die unie gesê.
“’n Ongemagtigde veebeweging, ’n ongerapporteerde geval of ’n nalatige besoeker kan die beperkingspogings ondermyn,” waarsku die NLU.
Vee-eienaars en lede van die publiek word aangespoor om op te hou om gesplete hoefdiere en produkte wat daarvan afkomstig is, te verskuif en om vermoedelike gevalle of ongemagtigde bewegings onmiddellik by die naaste staatsveearts aan te meld.
“Boere word ook aangespoor om biosekuriteitsmaatreëls te versterk en die verspreiding van ongeverifieerde inligting te vermy.”
Dit volg op Namibië wat sy nasionale noodplan vir bek-en-klouseer (BKS) in werking gestel het nadat ’n uitbreking in die Karasburg-distrik op ’n kommersiële plaas in die omgewing van Velloorsdrif in die ǁKarasstreek bevestig is. Die plaas is nie reg langs die Oranjerivier geleë nie.
Die president van die NLU, Thinus Pretorius, het gister aan Republikein gesê die protokol is dat 30 km rondom die episentrum gemonitor word.
“Bly weg van inentings en fopnuus. Die belangrikste is ons is Namibiërs en ons werk saam,” is sy kernboodskap.
Dié uitbreking van die verwoestende en hoogs aansteeklike dieresiekte is Woensdag deur die waarnemende landbouminister, Charles Mubita, in die parlement aangekondig.
Shoombe, het Woensdagaand in ’n amptelike kennisgewing gesê die plan is in ooreenstemming met die Wet op Dieregesondheid (Wet No. 1 van 2011) geaktiveer om die uitbreking te beheer.
Die beweging van alle diere met gesplete hoewe en hul rou produkte is landswyd met onmiddellike effek opgeskort.
“Alle bemarking en handel in diere met gesplete hoewe, asook die invoer, uitvoer en deurvoer van hierdie diere en hul rou produkte, is opgeskort,” het Shoombe gesê.
“Die slag van diere met gesplete hoewe by uitvoer- en plaaslike abattoirs, informele markte en tydens sosiale geleenthede moet ook gestaak word.”
Die hoofveearts het boere ook gemaan om nie onwettig BKS-entstowwe in te voer of diere binne die BKS-vrye sone in te ent nie.
“Sulke optrede is ’n oortreding van die wet en kan tot regsgevolge lei,” het hy gewaarsku
PADBLOKKADES
Intensiewe toesig is ingestel om die volle omvang van die uitbreking te bepaal en padblokkades word op strategiese plekke opgerig om beheer oor die beweging van diere met gespelte hoewe en hul rou produkte af te dwing.
“Boere en die publiek word hiermee versoek om enige verdagte gevalle van bek-en-klouseer sonder versuim by die naaste staatsveeartsenykantore aan te meld,” het Shoombe gesê.
Hy doen ’n beroep op alle Namibiërs om saam met DVS te werk om hierdie uitbreking so vinnig moontlik onder beheer te bring.
SKOUE
Die Grootfontein Skou is tydens hul opening Dinsdag wreed onderbreek met die skoknuus.
“Alhoewel alle beeste en kleinvee met onmiddellike effek na hul plase van oorsprong moet terugkeer, sal die res van die skou en die perdevertonings tot vandag voortgaan,” het skoukomiteelid, Elvira Hattingh, gesê.
Die skoukomitee doen ’n beroep op die publiek om hulle steeds te ondersteun, veral met al die harde werk wat hulle daarin gesit het.
“Dit bly die moeite werd om die skou te besoek.”
Dieselfde geld vir Gobabis Skou wat gister afgeskop het. Boere se opdrag is om hul diere na hul plase terug te vat. Hul boodskap aan mekaar is om positief en kalm te bly. Hulle is bekommerd, maar praat mekaar moed in en hou mekaar koelkop, berig Iréne-Mari van der Walt vanaf Gobabis Skou.
“Ons is bekommerd oor die situasie, maar my grootste bekommernis is die werkers. As ’n boer nie kan bemark nie, kan hy nie betaal nie. Ons moet nou ons rieme dun sny, wat noodsaaklik is, want ons weet nie hoe lank hierdie gaan voortduur nie,” het Japie Engelbrecht gesê wat 80 km noordoos van Witvlei boer
Venotjari Mbaisa van die Wolle Brahmanstoet sê dit is ’n reuse-teleurstelling om nie te kan skou nie, maar beskou BKS as ’n oorlog.
“Bek-en-klou is ’n oorlog, so ons moet doen wat ons kan om [die verspreiding] te voorkom, sodat ons weer hierdie diere in die toekoms kan ten toon stel. As ons dit nie doen nie, gaan ons die virus die land vol versprei, so ons moet doen wat ons kan om die instruksies van die direktoraat vir veeartseny uit te voer.”
Die besturende direkteur van die Windhoek Skouvereniging, Harald Schmidt, het gister aan Republikein bevestig dat Windhoek Skou volgende week voortgaan, maar wel sonder die lewende hawe, behalwe pluimvee.
“Ons glo dat ons alles moet doen om te voorkom dat die pandemie oor die hele land versprei. Dit is die regte besluit en ons ondersteun dit ten volle, het hy gesê.
Hy is teleurgesteld oor die uitbreking van BKS met meer as ’n 1 000 diere wat ingeskryf was met byna 500 stuks grootvee en meer as 500 stuks kleinvee.
“Daar was groot planne en drie beoordelingsringe is geskep. Gelukkkig is ons in ’n bevoorregte posisie dat geen diere nog afgelewer is nie en ons deelnemers is van die bykomende koste gespaar,” het Schmidt gesê.
Die goeie nuus is dat daar steeds ’n uitstalling van pluimvee sal wees met onder meer eende, ganse en hoenders.
Nóg goeie nuus oor die Windhoek Skou is dat alle sale en buitestalletjies sedert die Covid-pandemie vol bespreek is.
“Dit is ’n baie positiewe verwikkeling van die mark. Daar is ook gerugte versprei dat die Windhoek Skou uitgestel is. Dit is onwaar en fopnuus,” het Schmidt beklemtoon.
VEILINGS
Veilingshuise word ook geraak en alle veilings is gekanselleer.
Agra Auctions moedig alle veeprodusente aan om ingelig te bly, amptelike veeartsenykundige riglyne te volg en biosekuriteitsmaatreëls op hul plase te versterk.
“Die beskerming van Namibië se veebedryf is ’n gedeelde verantwoordelikheid.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie