Dr. Anja Boshoff-De Witt Foto Argief
Dr. Anja Boshoff-De Witt Foto Argief

DBV teen lewende uitvoer van diere

Namibiese beeste na Mauritius uitgevoer
Terwyl die lewende beeste per skip na die eiland uitgevoer is, is lede van die DBV by die hawe van Walvisbaai weggewys toe hulle hul teenkanting wou wys.
Jacques du Toit


Jacques du Toit en Francoise Steynberg


Die Namibiese beeste wat Sondag na Mauritius uitgevoer is, is ’n teken van vertroue in Namibië se veeartsenydienste sowel as sy siektebeheermaatreëls. 

Só sê dr. Anja Boshoff-De Witt, uitvoerende beampte vir gehalteversekering by die Lewendehawe- en Lewedehaweprodukteraad van Namibië (LLPBN). 

Sy het bygevoeg dat die uitvoer verder die belangrikheid beklemtoon om die land se status van “bek-en-klouseervry sonder inenting” te beskerm. 

Die geskiedkundige versending behels 3 000 stuks beeste wat by die hawe van Walvisbaai op die veevervoerskip Gelray Express gelaai en bestem is vir slagting in Mauritius. 



MAURITIUS KANSELLEER SA 

Die uitvoer volg nadat Mauritius alle nuwe invoervergunnings uit Suid-Afrika gekanselleer het ná die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) wat oor al nege van Suid-Afrikaanse provinsies versprei het. 

Op 13 Februarie het Suid-Afrikaanse owerhede die uitbreking ingevolge die wet op rampbestuur BKS as ’n nasionale ramp geklassifiseer. 

Die regering van Sint Helena het in ’n amptelike kennisgewing gedateer 6 Maart ook alle invoere van lewende diere en vleisprodukte uit Suid-Afrika verbied en bygevoeg dat dit nie bekend is hoe lank die verbod van krag sal bly nie. 

Mauritius, as ’n groot verbruiker van beesvleis gedryf deur sy middelklasbevolking en ’n florerende toerismebedryf, het lank op Suid-Afrika staatgemaak vir die invoer van lewende beeste. Met daardie voorsiening ontwrig, het Namibië ingetree om die gaping te vul. 

Boshoff-De Witt sê die ooreenkoms spreek boekdele oor Namibië se aansien in internasionale markte. 

“Dit is ’n teken van die vertroue in Namibië se standaard van veeartsenydienste, asook die siektebeheermaatreëls wat in plek is, en maak Namibië ’n gesogte handelsvennoot. 

“Dit beklemtoon verder die belangrikheid om hierdie status te beskerm.”

Die versending is as ’n private kommersiële transaksie beskryf. Neels Labuschagne van die Otjiwarongo-distrik het gister teen druktyd aan Republikein bevestig dat Waterberg Agri Trading CC een van “twee of drie party is” wat betrokke is by die uitvoer van die beeste na Mauritius. Hy was besig om beeste af te laai en kon nie verdere vrae beantwoord nie. 


DBV 

Intussen het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Namibië probeer om die uitvoer van die lewende beeste per skip teen te staan. 

Lede van die DBV het volgens die bedryfsdirekteur van die DBV in Windhoek, Sylvia Breitenstein, hawepermitte gekry en was by die hawe van Walvisbaai, maar is nie deur die Namibiese Haweowerheid (Namport) toegelaat om in te gaan nie. 

“Ons is vriendelik gevra om te gaan,” het sy gister aan Republikein gesê. 

Breitenstein bevraagteken ook die sluier van geheimhouding oor die uitvoere: “Ons het eers Donderdag hiervan uitgevind.” 

Die DBV en sy takke is sterk gekant teen die bedryf van die uitvoer van lewende diere per see.

“Dit is nie onwettig nie, maar dit is wreedheid teenoor diere. Mauritius is 11 dae weg,” het Breitenstein benadruk.

“Vanuit ’n menslike perspektief is dierewelsynsgroepe wêreldwyd gekant teen die uitvoer van lewende diere per see weens die inherente lyding en gepaardgaande risiko's. 

“Daar is geen regverdigbare rede om diere duisende kilometers per see te verskeep om dan ’n potensieel wrede dood in ’n vreemde land te verduur nie,” lui ’n verklaring van die DBV.

Breitenstein het haar kommer uitgespreek indien lewende Namibiese vee ook na die Midde Ooste uitgevoer word wat nog langer seereise verg "wat vir weke kan duur". 

Boonop voer Midde-Oosterse lande tans groot hoeveelhede verkoelde of bevrore vleis in, volgens die DBV

Die organisasie meen vanuit ’n ekonomiese perspektief is dit voordeliger om vleis binne Namibië te verwerk as om as ’n tussenpunt vir eksterne maatskappye te dien.

“Vanuit ’n wetlike perspektief stem die bedryf van die uitvoerhandel van lewende diere nie ooreen met die standaarde van dierewelsynswetgewing in Namibië en die verwagtinge van die Namibiese gemeenskap nie.

Hierdie praktyk ondermyn Namibiese wette en standaarde, volgens die DBV.

“Die Namibiese gemeenskap is trots, betrokke en opgewonde oor ons dierewelsynstandaarde. Ons is trots op hierdie feit. 

“Om die uitvoerhandel van lewende diere toe te laat om vanuit Namibië te bedryf, is ’n agteruitgang van hierdie standaarde. Die handel is argaïes en het geen plek in ons land nie.”

Die DBV meen hulle is nie die enigstes wat gekant is teen die uitvoer van lewende diere nie. 

“Wêreldwyd draai die gety teen die uitvoer van lewende diere omdat dit nie ooreenstem met aanvaarbare dierewelsynstandaarde nie en dit behels risiko's wat eenvoudig nie verminder kan word nie.”

Byna ses jaar gelede het ’n skip met lewendehawe wat van Nieu-Seeland na China onderweg was met byna 6 000 beeste en 43 bemanningslede aan boord gesink. Daar was net twee oorlewendes. 

Volgens die DBV het Nieu-Seeland reeds die lewende uitvoer van diere vir slagting verbied weens dierewelsynskwessies, maar teeldiere is steeds toegelaat. Op 3 September 2020 het Nieu-Seeland alle lewende uitvoere opgeskort.

[email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer