Botsende belange as Amta-voorsitter én Bokomo-bestuurder?
Vrae word gevra oor die raadsvoorsitter van die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta), Lorna Shikongo-Kuvare, oor ’n moontlike botsing van belange wat spruit uit haar voltydse indiensneming by Bokomo Namibië, wat in dieselfde graanverwerkings- en mieliemeelmark as Amta bedrywig is. Shikongo-Kuvare het voorheen as hoofbestuurder vir regulasies by die Namibiese Akkerbouaad (NAB) gedien, terwyl sy terselfdertyd Amta se raad gelei het.
Sy het op 1 April 2021 by NAB aangesluit en later na Bokomo verskuif, waar sy tans ’n senior bestuurspos beklee. Vrae het ontstaan omdat Bokomo graanprodukte verwerk en bemark, insluitend mieliemeel, terwyl Amta in dieselfde bedryf is en sy maalbedrywighede by Katwitwi in die Kavango-Wesstreek uitgebrei het.
Amta het bevestig dat die Katwitwi-meule witmielies en mahangu tot mieliemeel en meel verwerk as deel van sy inkomste-genererende bedrywighede vir waardetoevoeging.
Die agentskap bemark die produkte onder sy Golden Fresh-handelsmerk en die meule voorsien die produkte aan afgeleë noordelike gemeenskappe en staatsinstellings te voorsien. Bokomo vervaardig en bemark Champion Super-mieliemeel en Champion- gesifte mieliemeel.
‘OORVLEUELING’
Die oorvleueling, volgens kundiges in die bedryf, strek verder as dat die twee entiteite bloot in verwante landboubedrywe werk. Albei verwerk mielies, produseer mieliemeel en het kommersiële belange in dieselfde mark.
Amta is verder verantwoordelik vir die bestuur van Namibië se Nasionale Strategiese Voedselreserwe. Graan uit die reserwe word deur die kantoor van die eerste minister se direktoraat vir ramprisikobestuur vrygestel vir verspreiding onder die regering se ramphulpprogramme.
Ingeligtes by Amta beweer die agentskap en private meulenaars, insluitend Bokomo, kan sommige van dieselfde regeringsprojekte vir graanverwerking en voedselvoorsiening nastreef.
Die ingeligtes sê die oorvleueling laat vrae ontstaan oor of Shikongo-Kuvare die agentskap se kommersiële belange kan beskerm terwyl sy ’n senior pos by ’n maatskappy beklee wat mededingende produkte verkoop.
“Daar word van haar verwag om Amta se besigheid te bevorder terwyl sy voltyds vir Bokomo werk, wat mededingende mieliemeelprodukte verkoop.
“Wanneer besluite oor produksie, pryse, markte of institusionele kliënte voor die Amta-raad kom, wie se kommersiële belange kry voorrang?” word gevra.
Die ingeligtes het ook gevra of Shikongo-Kuvare haar indiensneming en kommersiële belange amptelik verklaar het en of sy haarself onttrek aan Amta-raadsbesprekings wat graanverwerking, -verkryging, droogteverligtingsvoorrade of ander sake behels wat Bokomo kan raak.
Die woordvoerder van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, Romeo Muyunda, het gesê die ministerie het kennis geneem van die kwessie, maar was nie bewus van bewyse wat toon dat Shikongo-Kuvare se pos by Bokomo haar verantwoordelikhede by Amta in die gedrang gebring het nie.
“Die ministerie is oortuig dat, in haar hoedanigheid as voorsitter van die Amta-raad, van Shikongo-Kuvare verwag word om haar verantwoordelikhede met die hoogste mate van professionaliteit, integriteit en objektiwiteit na te kom,” het hy gesê.
Muyunda het gesê enige bewyse van ’n werklike botsende belange, nie-openbaarmaking of ’n oortreding van goeie bestuur behoort aan die ministerie of Amta se raad vir oorweging voorgelê te word.
Die ministerie het nie bevestig of Shikongo-Kuvare haar pos by Bokomo verklaar het nadat sy by die maatskappy aangesluit het nie, en of sy haarself onttrek aan Amta-besluite wat Bokomo se belange kan raak.
“Rakende of die voorsitter haar belange ten tyde van haar aanstelling verklaar het, moet daarop gewys word dat die huidige Amta-raad aangestel is gedurende die tydperk toe Amta onder die toesig van die destydse ministerie verantwoordelik vir finansies en staatsondernemings geval het.
“Die ministerie het daarom vertroue dat die toepaslike oorwegings en vereistes vir goeie bestuur tydens die aanstellingsproses in ag geneem is,” het Muyunda gesê.
Kragtens die wet op die bestuur van staatsondernemings moet direkteure van openbare ondernemings eerlik optree en redelike sorg en ywer aan die dag lê. Die wet verbied hulle verder om hul posisies of inligting wat deur daardie posisies verkry is, te gebruik om hulself of ’n ander party te bevoordeel, of om die staatsonderneming te benadeel.
REAKSIE
Shikongo-Kuvare het ontken dat haar indiensneming by Bokomo ’n werklike botsing van belange is. Sy het op vrae van Republikein geantwoord dat die moontlikheid van ’n werklike, potensiële of vermeende botsing van belange deur Amta se vereistes vir openbaarmaking, verklaring en botsende belange bestuur word.
Sy het gesê Amta se bestuursraamwerk verbied nie ’n raadslid om gelyktydig ’n bestuursposisie by ’n private maatskappy wat in dieselfde sektor werksaam is, te beklee nie, mits dié vereistes nagekom word.
“Die saak word beskou as gepas openbaar gemaak en bestuur binne Amta se bestaande bestuursraamwerk en vorm nie, in die omstandighede wat beskryf word, bewys van ’n onbestuurde botsing van belange nie,” het sy gesê.
Shikongo-Kuvare het gesê verklarings van belange vir alle Amta-direkteure, insluitend haarself, word met tussenposes ingedien wat deur die agentskap se beleide voorgeskryf word, terwyl haar indiensnemingstatus aan die betrokke lynministers bekend gemaak is.
Sy het bygevoeg dat Amta se raad nie deelneem aan daaglikse tenders, graanverkryging of kommersiële kontraktoekennings nie, wat onafhanklik deur aangewese strukture onder die wet op openbare verkryging hanteer word.
“Werklike, potensiële of vermeende konflikte word amptelik bekend gemaak indien en wanneer dit ontstaan, en geraakte direkteure onttrek hulself van alle verwante beraadslagings en besluitneming,” het sy gesê.
Shikongo-Kuvare het verder ontken dat sy enige rol gespeel het in Bokomo se tenderprosesse of regeringskontrakte wat graanverwerking, mieliemeel of droogteverligtingsprogramme behels.
Sy het gesê sy het ‘geen kennis van, betrokkenheid by of hantering van’ beraadslaging van regeringsverkryging wat graanverwerkingskontrakte of Amta se moontlike oorweging as ’n regeringsverskaffer behels nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie