‘Boer is eerste linie van verdediging’
Die krisis van bek-en-klouseer (BKS) in Suid-Afrika het weer tydens verlede week se Nampo-landbouskou buite Bothaville in die Vrystaat weer onder skoot gekom.
Suid-Afrikaanse veeboere het ’n beroep op John Steenhuisen, die minister van landbou gedoen om alles te doen wat moontlik is om BKS onder beheer te kry, want boere is moedeloos en wil na normaal terugkeer.
Steenhuisen het al die telersgenootskappe op die Nampo-oesdag besoek en met hulle in gesprek getree. Die bestuur van verskeie genootskappe het hul angs en frustrasie oor BKS aan Steenhuisen oorgedra.
Intussen is nog 17 gevalle van BKS verlede week in die Noordwes-provinsie bevestig.
In Namibië se oostelike buurland Botswana het die landbouministerie verlede week bevestig daar is reeds BKS-uitbrekings in 24 plekke.
Die voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), Jako van Wyk het in die weeklikse nuusbrief van die Namibië Landbou-unie (NLU) geskryf BKS op Namibië se grense is ’n ernstige situasie.
“Dit is nie iets ver verwyderd van ons nie. Dit is nie teoreties nie. Dit is hier en dit plaas verantwoordelikheid direk op ons landboustelsel.
“Hierdie virus vat nie pos in Windhoek nie. Dit breek uit op plase,” het hy gesê.
Hy benadruk in tye soos hierdie is dit maklik om na instellings te kyk vir antwoorde, maar die werklikheid is eenvoudiger as dit. Van Wyk sê die uitkoms gaan bepaal word deur wat op plase gebeur.
“Namibië bevind hom tans in ’n posisie wat min ander lande nog handhaaf. Terwyl baie lande toegang tot sleutel-uitvoermarkte verloor het, behou Namibië steeds sy status.”
Die voorsitter sê dit het nie toevallig gebeur nie: “Dit is die resultaat van dissipline wat oor jare heen konsekwent deur boere oraloor hierdie land toegepas is.”
Van Wyk beklemtoon daardie dissipline is nou belangriker as ooit tevore.
Wat nou van boere verwag word is:
- Handhaaf streng biosekuriteit op jou plaas.
- Volg alle regulasies sonder uitsondering.
- Meld enige verdagte simptome onmiddellik aan.
- Hierdie is nie nuwe vereistes nie, maar op hierdie oomblik is hulle krities belangrik.
Wat dit beteken om die reëls te volg:
- Geen koop of verkoop van diere buite goedgekeurde kanale word toegelaat nie.
- Beheer toegang tot jou plaas, voertuie, besoekers en werkers.
- Ontsmet voertuie, toerusting en skoene waar risiko bestaan.
- Moenie voer of genetiese materiaal na jou plaas bring sonder om die oorsprong daarvan te
bevestig nie.
- Meld enige verdagte simptome vroeg aan. Moenie wag nie.
- Meld enige onwettige aktiwiteite aan, insluitend die smokkel van diere en genetiese materiaal soos semen en embrio’s.
Van Wyk verskaf die redes waarom dit saak maak:
“’n Virus respekteer nie grense nie. Een swak skakel skep risiko’s vir die hele sisteem. Hierdie sisteem werk net as almal op elke plaas elke dag saamwerk.
“Elke besluit wat jy neem, het ’n impak wat verder as jou plaashek strek. Elke optrede versterk die sisteem óf verswak dit.”
Hy sê die werklikheid is dat Namibiese boere hul posisie verdien het deur jare se dissipline en hoë standaarde, maar ons posisie is nie gewaarborg nie.
“Dit word beskerm of verloor deur wat nou gebeur. Wanneer druk toeneem, word die verantwoordelikheid duidelik.”
Van Wyk sê dit lê by die boer, op elke plaas, elke dag.
“Jy is die eerste én die laaste linie van verdediging.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie