BKS versprei na 11 plase
Bek-en-klouseer (BKS) het in minder as twee weke sedert die uitbreking na 11 plase in die Karasburg-distrik in die ||Kharasstreek versprei.
Die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming (MAFWLR), Inge Zaamwani, het Saterdagaand bevestig altesaam 79 uit 530 monsters het teen Vrydag positief vir BKS getoets, terwyl 450 negatief getoets het. Een bykomende monster is nog nie bevestig nie.
“Die uitbreking wat op 22 September tydens roetinetoesig op ’n plaas in die Graswater-gebied opgemerk is, is bevestig as serotipe SAT 1.”
Die minister het gesê die bevestigde infeksies bly gekonsentreer binne die Karasburg-distrik, maar ondersoeke duur voort om die volle omvang van die uitbreking te bepaal en om vas te stel of veebewegings moontlik tot blootstelling buite die geraakte plase gelei het.
Sy het gesê 30 toesigspanne is in die geraakte gebiede ontplooi.
“Teen 2 Oktober het veeartsenykundige beamptes 15 096 diere op 66 van die 81 geteikende plase geïnspekteer.”
Daar word verwag dat die oorblywende 15 plase teen vandag geïnspekteer sal word.
“Veebewegings wat 47 plase binne ’n radius van 30 km van die geraakte gebiede betrek, is ook ondersoek; dit strek tot ongeveer 50 km vanaf die geraakte plase,” het Zaamwani gesê.
Die regering beraam dat N$190,19 miljoen vir die inperkingsreaksie benodig word.
Dit sluit ongeveer N$47 miljoen in vir die nuwe siektebeheerheining van sowat 290 km langs ’n voorgestelde roete van Ariamsvlei deur Karasburg tot by /Ai-/Ais om die besmette sone af te kordon, het Zaamwani gesê.
“Soos die epidemologiese situasie ontwikkel, sal die ministerie die inenting van vee wat daarvoor in aanmerking kom binne die aangewese inperkingsone van Karasburg insluit, tesame met doelgerigte uitdunning, verskerpte toesig en streng bewegingsbeheer.
“Die voorgestelde inentingsbenadering sal vanaf die periferie van die inperkingsone na die episentrum beweeg,” het sy gesê.
Boere is gewaarsku om nie diere in te ent, vee te verskuif of ander siektebeheermaatreëls te tref sonder magtiging van die direktoraat veeartsenydienste (DVS) nie.
Die minister het gesê die tydige van-kant-maak van besmette diere bly ’n belangrike deel van die reaksie en dat reëlings getref word om die uitdunning in ooreenstemming met veeartsenykundige vereistes te fasiliteer.
“Ons erken dat die vernietiging van lewende hawe ernstige gevolge vir die betrokke boere inhou. Nietemin moet hierdie ingrypings beoordeel word in die konteks van die beskerming van die breër lewendehawebevolking en die voorkoming van verdere oordrag.”
Die uitbreking het ook gelei tot die opskorting van Namibië se relevante BKS-vrye status, wat toegang tot internasionale markte vir vee en veeprodukte beïnvloed.
“Die ministerie is in gesprek met handelvennote oor besendings wat reeds onderweg was, onlangs aangekom het of in berging was toe die uitbreking aangekondig is,” het Zaamwani bevestig.
Boere, veehandelaars, vervoerders, afslaers en abattoirs is aangemoedig om aan kwarantyn- en bewegingsbeperkings te voldoen, akkurate inligting oor lewendehawebeweging te verskaf en diere wat tekens van BKS toon, onmiddellik aan te meld.
Intussen het die Namibië Landbou-unie (NLU) benadruk die BKS Steunfonds gestig is as ’n gestruktureerde ondersteuningsmeganisme vanuit die privaat sektor om Namibië se paraatheid en reaksievermoë teen BKS te versterk en om die mandaat en werk van DVS aan te vul, nie te vervang nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie