In sy ernstigste scenario skat Simonis Storm die fiskale impak van BKS kan tot N$4,39 miljard styg. FOTO ARGIEF
In sy ernstigste scenario skat Simonis Storm die fiskale impak van BKS kan tot N$4,39 miljard styg. FOTO ARGIEF

BKS: ‘N$1,8 mjd. tot N$4,4 mjd. uit staatskas’

Koste van voorkoming onderskat
Die geraamde uitgawes sluit in die monitering van die siekte, die suidelike kordonheining, vergoeding vir diere wat van kant gemaak is en bystand aan geraakte boere en abattoirs.
Ogone Tlhage

Namibië se uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) kan die regering na raming N$1,8 miljard aan bykomende uitgawes en verlore belastinginkomste kos. 

Volgens Simonis Storm Securities kan dié bedrag in ’n ernstiger scenario tot N$4,39 miljard styg. 

Die geraamde uitgawes sluit in die monitering van die siekte, die suidelike kordonheining, vergoeding vir diere wat van kant gemaak is en bystand aan geraakte boere en abattoirs.

In sy vooruitskouing op die middeltermyn-begrotingshersiening wat gister gepubliseer is, het Simonis Storm gesê die regering het die koste van voorkoming onderskat.

“Voorkoming was onderbefonds. Ongeveer N$1,5 miljard is in Februarie aangevra, terwyl slegs N$57,5 miljoen goedgekeur is,” lui die verslag.

Die finansiële risiko’s strek verder as die onmiddellike koste om die siekte in te perk. Beperkings op die beweging van lewende hawe en die ontwrigting van ekonomiese bedrywighede kan belastinginkomste en landbou-uitsette verminder.

Simonis Storm se basis-scenario sluit N$800 miljoen in verlore belastinginkomste in, wat voortspruit uit swakker ekonomiese bedrywighede.

Na raming sal ongeveer N$1 miljard van die totale impak in die 2026-’27-boekjaar val. Dit bestaan uit N$600 miljoen aan bykomende uitgawes en N$400 miljoen aan verlore inkomste.


SCENARIO’S

Simonis Storm se ramings is gebaseer op drie scenario’s wat grootliks van die duur van die beperkings op die beweging van lewende hawe afhang.

In die scenario waar die siekte ingeperk word – wat ’n verbod van vier weke veronderstel – word die fiskale koste op N$630 miljoen geraam. 

Die basis-scenario fokus op ’n verbod van nege weke, terwyl die “stres”-scenario fokus op beperkings wat 13 weke duur (tesame met inentingsmaatreëls) en die koste op N$4,39 miljard beraam.

Dié ramings kom te midde van die bevestiging van BKS in die ||Kharas- en Zambezistreek. Die jongste beskikbare syfers dui op 131 diere op 18 plase in die Karasburg-veeartsenydistrik in ||Kharas wat positief getoets het, asook 12 positiewe monsters van ’n uitbrekingspunt op Kalala-eiland in die Zambezi. 

Simonis Storm beraam sowat N$8,8 miljard se toegevoegde ekonomiese waarde – gelykstaande aan 3,1% van die bruto binnelandse produk (BBP) – is direk aan die uitbreking blootgestel. 

Namibië se beesvleisuitvoere is jaarliks ​​ongeveer N$5,5 miljard werd, waarvan na raming N$3,3 miljard na die Europese Unie (EU), die Verenigde Koninkryk (VK) en Noorweë gaan.

Die uitbreking kan ook ekonomiese groei onderdruk. Simonis Storm voorspel ’n reële BBP-groei van tussen 2% en 2,3% in 2026, vergeleke met sy basislyn van 2,5% voor die uitbreking. In ’n ernstiger scenario kan groei tot 1,8% daal.


DROë SEISOEN

Navorsers het ook gewys op die risiko van droogte wat met El Niño verband hou. Dit verhoog die druk op die landbousektor, wat in die eerste helfte van die jaar tot ekonomiese groei bygedra het. 

Die potensiële fiskale las kom op ’n tydstip waar die regering te kampe het met inkomste wat laer is as wat begroot is, stygende rentekoste, asook druk om die begrotingstekort te beperk. 

Die verwagting is dat die ministerie van finansies se middeltermyn-begrotingshersiening ’n bygewerkte oorsig van staatsfinansies sal bied en sal verduidelik hoe bykomende maatreëls vir siektebeheer gefinansier sal word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer