‘BKS kan veebedryf N$2,4 miljard in ses maande kos’
Namibië moet doeltreffende siektebestuur van bek-en-klouseer aan ’n proaktiewe strategie vir marktoegang koppel wat lewensbestaan beskerm, werksgeleenthede behou en die produktiewe kapasiteit van sy veebedryf en breër ekonomie bewaar.
Dit is die mening van Leigh-Ann Nehoya, landbou-ekonoom van die Namibië Landbou-unie (NLU).
“In ’n ekonomie wat reeds beduidende werkloosheid in die gesig staar, bedreig die langdurige ontwrigting ook bestaande werkgeleenthede en die inkomste wat huishoudings onderhou,” het sy gesê.
“Namibië se landbousektor het al droogtes, ontwrigte markte en tydperke van groot onsekerheid deurstaan. Sy veerkragtigheid is herhaaldelik op die proef gestel. Tog maak veerkragtigheid die sektor nie immuun teen langdurige ontwrigting nie.”
Nehoya sê die BKS-uitbreking in 2026 het die ekonomiese belangrikheid van veeboerdery skerp in fokus gebring: Veeverkope is nodig vir boerderyuitgawes, lone, huishoudelike behoeftes en besighede wat van ’n funksionerende sektor
afhanklik is.
“Insetverskaffers verskaf die voer, toerusting, dieregesondheidsprodukte en ander goedere wat nodig is om produksie te handhaaf, met ’n geraamde jaarlikse omset van meer as N$6 miljard,” verduidelik Nehoya.
“Veeprodusente verdien ’n geraamde N$9,15 miljard in jaarlikse verkoopsinkomste deur verskillende bemarkingskanale, insluitend die uitvoer van lewende diere. By slagpale beloop die beraamde jaarlikse waarde van beeste en kleinvee wat geslag word N$3,66 miljard, met ’n verdere N$914 miljoen in beraamde waardetoevoeging.”
Sy sê veilings is ook ’n belangrike kanaal, veral vir kommunale produsente, waardeur boere vee in kontant omskakel.
“Veilings fasiliteer jaarliks sowat N$2,69 miljard se veeverkope en genereer na beraming N$162 miljoen se kommissie-inkomste,” het Nehoya gesê.
’n Kommunale boer in die Otjozondjupastreek het aan Republikein bevestig om sy vee maandeliks op veilings te verkoop, is sy brood en botter wat sy gesin voed en sy kinders op die skoolbanke hou. ’n Privaat skool in dieselfde streek hou jaarliks ’n veeveiling wat die skool ’n hupstoot van sowat N$1 miljoen gee om uitgawes te dek.
BESTEDING
Die handhawing van produksie vereis ook aansienlike besteding.
Volgens Nehoya het veeprodusente suid van die veterinêre kordonheining na raming N$3,73 miljard se jaarlikse bedryfsuitgawes, wat lone en aankope van goedere en dienste insluit. Uitgawes aan veevervoer, wat plase, veilings en
slaggeriewe verbind, word op ’n verdere N$228 miljoen per jaar beraam.
Die landbou-ekonoom sê na raming is 52 000 mense in die landbousektor suid van die veterinêre kordonheining werksaam, terwyl hierdie inkomste moontlik 200 000 afhanklikes kan ondersteun, met die aanname dat daar vier afhanklikes per werknemer is.
“Hierdie syfers illustreer die finansiële druk wat geskep word wanneer veebemarking ontwrig word.”
Vir veeprodusente alleen skat die NLU dat maandelikse kontantuitgawes ongeveer N$155 miljoen beloop (gebaseer op die aanname dat boere onmiddellik 50% op hul normale uitgawes verminder), asook ’n verdere N$75 miljoen wat benodig word vir skuldterugbetalings.
“Dit bring die gekombineerde maandelikse kontantbehoefte op ongeveer N$230 miljoen te staan, gelykstaande aan N$7,7 miljoen per dag.
“Hierdie verpligtinge duur voort selfs wanneer produsente nie hul diere kan bemark nie, terwyl sommige bedryfskoste, insluitend uitgawes soos brandstof en die onderhouding van diere kan toeneem namate die ontwrigting voortduur.”
Nehoya sê die finansiële gevolge strek oor die hele veewaardeketting: “Oor ’n ontwrigtingsperiode van ses maande beloop die beraamde finansiële verliese ongeveer N$2,4 miljard (N$13 miljoen per dag).
“Hoe langer bemarkingsbedrywighede ontwrig bly, hoe groter is die druk op besighede dwarsdeur die waardeketting, met gevolge vir indiensneming, huishoudelike inkomste en die breër landelike ekonomie.”
Sy sê die beramings in die tabel is gebaseer op die aannames wat die ses maande lange ontwrigtingscenario bekragtig en weerspieël nie noodwendig die bykomende impak van ander skokke, soos droogte of verdere stygings in insetkoste nie.
“Die werklike ekonomiese gevolge kan dus groter wees, sou hierdie druk saam met langdurige markontwrigting plaasvind.”
DIE PAD NA HERSTEL
Nehoya beklemtoon BKS bedreig nie net vee nie; dit bedreig die besighede, werksgeleenthede en lewensbestaan van almal in die veebedryf.
Sy sê terwyl die voorkoming van die verdere verspreiding van BKS en die beskerming van Namibië se dieregesondheidstatus noodsaaklik bly, word die ekonomiese gevolge van langdurige markontwrigting toenemend moeilik om te volhou.
“Inperking moet gepaard gaan met ’n praktiese en gekoördineerde pad na ekonomiese herstel. Namibië moet sy dieregesondheidstatus beskerm terwyl dit aktief geleenthede nastreef om marktoegang te herstel, toegelate vee- en vleisbewegings te fasiliteer, binnelandse voorsieningskettings te onderhou en alternatiewe uitvoergeleenthede te verseker waar veeartsenykundige en invoerlandvereistes dit toelaat.
“Dit vereis ’n duidelike padkaart wat die toesig, bewegingsbeheer, toetsing, naspeurbaarheid en ander vereistes wat van toepassing is op die betrokke gebiede identifiseer, met gedefinieerde verantwoordelikhede, voldoende hulpbronne en
duidelike mylpale om tydige implementering te ondersteun,” sê die landbou-ekonoom.
Sy sê die doelwit is om te verseker dat pogings om die siekte te beheer met doelbewuste, gekoördineerde optrede gepaardgaan om ekonomiese bedrywighede te herstel.
“Namibië moet proaktief wees in samewerking met veeartsenykundige owerhede in gevestigde en potensiële handelsmarkte om geleenthede te identifiseer vir die handhawing, hervatting of uitbreiding van handel onder huidige toestande.
“Hierdie besprekings moet toepaslike veeartsenykundige en regulatoriese vereistes verduidelik, uitstaande hindernisse vir marktoegang identifiseer en die stappe vasstel wat nodig is om lewensvatbare handelsgeleenthede te bevorder.”
Nehoya sê Namibië moet ook aktief geleenthede ondersoek om uitvoere te diversifiseer, insluitend markte wat veeprodukte van erkende BKS-vrye sones aanvaar waar inenting toegepas word, onderhewig aan die relevante vereistes.
“Dit sal Namibië in staat stel om alternatiewe markte na te streef terwyl pogings voortgesit word om toegang tot gevestigde handelsvennote te herstel.”
Die herstel van BKS moet uiteindelik nie net gemeet word aan vordering in die beheer van die siekte nie, maar ook aan die herstel van lewensvatbare bemarkingsgeleenthede en die vermoë van die veewaardeketting om weer te funksioneer, benadruk Nehoya.
“Elke bykomende maand van ontwrigting plaas verdere druk op besighede, werkers en huishoudings wat van die sektor afhanklik is.”
Intussen het die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming verlede week dringende inligtingsessies oor BKS vir boere en rolspelers in die ||Kharasstreek gehou met adjunkminister Ruthy Masake teenwoordig.
Hierdie vergaderings op Keetmanshoop, Aroab en Karasburg het gefokus op die verduideliking van die nuut voorgestelde BKS-beperkingsone, verpligte inentings van lewende hawe, biosekuriteitsvereistes en die bewegingsbeperkings.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie