‘BKS is ’n maak-of-breeksituasie’
Bystand aan boere wat deur die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) geraak is, die nakoming van inperkingsmaatreëls en die oprigting van ontsmettingstasies by padblokkades is as kernprioriteite in die ||Kharasstreek geïdentifiseer.
“Die streek bly die episentrum van ’n kritieke landboukrisis ná die bevestigde opsporing van bek-en-klouseer. Landswye beperkings is ingestel ná die opsporing en om die siekte te stuit,” het die sreekgoewerneur, Dawid Gertze, Maandag gesê tydens ’n vergadering om die streek se reaksie op die uitbreking te bespreek.
“Ramprisikobestuur moet op die grond wees en ’n noodtafel by die goewerneur se kantoor word ingestel om gereelde opdaterings oor die situasie aan inwoners deur die betrokke belanghebbendes te koördineer,” het hy gesê.
Die goewerneur het ’n beroep op inwoners gedoen om die BKS-regulasies na te kom en die polisie aangespoor om dit sonder vrees of guns toe te pas.
“Dit is ’n maak-of-breek-situasie en ons moet almal by die regulasies hou, ongeag wie ons is. Boere moet ook toesien dat mense wat plase binnegaan en verlaat, daaraan voldoen. Laat ons nie die doel van hierdie oefening verydel nie,” het Gertze gesê.
“Ons kan nie toelaat dat die onverantwoordelikheid van een persoon die hele streek in gevaar stel nie. As mense karkasse vervoer en hulle aangekla moet word, kla hulle aan.
“Ek sê nie mense moet mishandel word nie; ek sê tree binne die perke van die wet op.”
Gertze het gevra vir ’n gekoördineerde reaksie wat gemeenskappe, tradisionele owerhede, boere, veiligheidsagentskappe en veeartsenydienste insluit.
“Die [gedeeltelike] verbod is vir die res van die land opgehef, met die uitsondering van die ǁKharasstreek. Om daardie rede is daar ’n ernstige behoefte dat ons saamwerk as gemeenskapslede, tradisionele owerhede, kommunale en kommersiële boere, die veiligheidskluster en ook die veeartsenydienste om te verseker dat ons binne die kortste moontlike tyd uit die situasie kom,” het hy gesê.
Gertze het beklemtoon dat die uitbreking ’n beduidende impak op lewensbestaan en die ekonomie van die streek het.
“Dit het soveel paniek en onsekerheid in hierdie streek veroorsaak. BKS raak die lewensbestaan van die streek se inwoners en die staatskas direk,” het hy gesê.
“Daar is mense wat hoofsaaklik op boerdery staatmaak en as geen boerderybedrywighede plaasvind nie, soos verkope, raak dit hul vermoëns om hulself te onderhou en staande te hou. Om daardie rede is dit baie belangrik dat ons tot die maksimum saamwerk sodat ons so vinnig as moontlik uit die situasie kom.”
Hy het gesê beperkings kan verslap word as inwoners die maatreëls nakom en staatsagentskappe saamwerk.
“Vir ons om hieruit te kom, moet die inwoners voldoen en die staatsagentskappe moet saamwerk, anders gaan ons nie uit dié situasie kom nie,” het Gertze gesê.
Die goewerneur het inwoners ook aangespoor om die uitbreking ernstig op te neem, veral dié wat beplan om begrafnisse of ander sosiale byeenkomste by te woon.
“Sommige mense maak nog grappies oor die situasie en daar is geen manier dat ons dit kan bekostig nie. As ons dit nie ernstig opneem nie, gaan ons baie langer in hierdie inperkingsituasie bly,” het hy gesê.
“Voorwaardelike verligting is aan die res van Namibië gegee, met uitsluiting van die ǁKharasstreek, dus bly die risiko nog by ons. Ons is op die oomblik nie as ’n nie-kritieke of nie-besmette sone verklaar nie.
“Dié van ons wat na begrafnisse gaan of sosiale aktiwiteite gereël het, moet kennis neem. Ons is in ’n sone waar sekere dinge steeds nie toegelaat word nie.”
Gertze het gesê woede en frustrasie sal nie die verspreiding van die siekte stop nie.
“Wat die verspreiding van hierdie siekte in die kortste moontlike tyd sal stuit, is die streng nakoming van die bewegingsbeheer, kwarantynprotokolle en biosekuriteitsmaatreëls wat deur ons owerhede afgedwing word. Samewerking is ons enkele kragtigste hulpmiddel,” het hy gesê.
“Deur hand aan hand saam te werk, kan ons hierdie uitbreking uitdoof, ons streeks-ekonomie beskerm, ons vee-uitvoerstatus beveilig en die ǁKharasstreek vinnig weer op koers kry,” het Gertze afgesluit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie