BKS bring meer vrae as antwoorde
Die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) het boere en werknemers by uitvoer-abattoirs, slagpale en kleiner vleisaanlegte met groeiende finansiële onsekerheid gelaat, sonder enige duidelike aanduiding wanneer normale bedrywighede weer sal hervat.
Die ekonomiese impak van die siekte op die Namibiese vleisbedryf kring uit met Beefcor wat die aflegging van tot 393 werknemers oorweeg, en Meatco wat nuwe uitvoermarkte soek, terwyl ander kleiner slagpale reeds hul bedrywighede gestaak het.
Die algemene sekretaris van Namibiese Voedsel- en Verwante Werkersunie (Nafau), Jacob Penda het gistermiddag aan Republikein bevestig dat die vakbond en Beefcor môre sal vergader.
“Ek hoop so,” het hy gesê.
Albertus !Aochamub, die waarnemende uitvoerende hoof van Meatco, het bevestig dat gesprekke met potensiële kliënte in Oman, Dubai, Katar, Ghana, Nigerië, die Demokratiese Republiek die Kongo en die Kongo gevoer word.
Francois Roux (36), ’n slagpalebestuurder by Meat to Market op Keetmanshoop, sê die abattoir het ’n dag ná die BKS-uitbreking in die Karasburg-distrik in ||Kharas op 23 September aangekondig is, gesluit.
“Ek is een van 18 mense wat vir eers met betaalde verlof huis toe gestuur is. Vir hoe lank, weet niemand van ons nie," het hy Dinsdag aan Aitsa! gesê.
“Ek dink elke keer as diere positief toets, word die kwarantynperiode van drie maande ook aangeskuif. As ons weer oopmaak, wanneer sal ons toegelaat word om diere te slag?” het hy gevra.
Roux, wat getroud is en drie kinders het, waarvan twee op skool is, sê die uitbreking raak al moeiliker om te hanteer.
“My vrou was aanvanklik kalm daaroor, maar die erns van die situasie begin nou insink. Ons het begin om uitgawes by die huis te sny.
“Vyftien geraakte plase en 126 besmette diere is nie ’n grap nie. Die siekte kom al nader en nader en ons weet nie waar ons staan nie.”
Roux sê dat min finansiële verpligtinge, buiten huur, hom tot dusver gehelp het om die situasie te hanteer.
“Ek moet my gesin voed en my grootste bekommernis is hoe lank my werkgewer my nog ’n salaris sal kan betaal sonder dat ek werk en sonder dat daar ’n einde aan die BKS-uitbreking in sig is.
“Sodra my salaris ophou inkom, sal ek nie die huur kan betaal nie en ek sal die huis verloor,” het hy gesê.
Roux sê hy is ook bekommerd oor sy kollegas en die 30 boere wat elke week diere aan die slagpale voorsien.
“Hulle het geen ander manier om te oorleef nie en is heeltemal afhanklik daarvan dat die slagpale hul diere koop sodat hulle hul lopende koste kan dek. Ek kan hulle nie eens enige raad gee nie.”
Hy sê die slagpale het “so stil soos ’n begraafplaas” geword.
“Dit is neerdrukkend om hier te wees. Die vleisvoorraad wat nog in ons slaghuis beskikbaar is, raak vinnig op.”
Intussen het Roux opgemerk dat vleispryse by ander verkooppunte skerp gestyg het.
“Al wat ons vir eers kan doen, is om te wag en te sien. Sodra die antwoorde kom, sal ons weet watter pad om te neem.”
Roux sê die ǁKharasstreek behoort heeltemal ingeperk te word en dat owerhede moet oorweeg om diere in te ent om die verspreiding van BKS te stuit.
“Dit is duidelik dat die besmette diere in die Ariamsvlei-grensgebied is en die BKS-uitbreking versprei soos ’n veldbrand.
“Toetse moet in en om Keetmanshoop gedoen word en die gebied moet oopgemaak word as geen diere positief toets nie. Hulle moet aan die res van Namibië dink,” het hy gesê.
Volgens Roux is sommige besighede reeds gedwing om toe te maak weens die vleistekort wat deur die BKS-uitbreking veroorsaak is. Hy sê een van hul kliënte op Lüderitz en baie ander staar ’n onseker toekoms in die gesig.
“Ons het geen vleis beskikbaar nie. Ons het vroeër gemiddeld 100 skape en 20 beeste per week geslag en hierdie getalle het aan die einde van die maand aansienlik toegeneem.
“Kliënte bel my aanhoudend, op soek na antwoorde, en ek het geen om te gee nie. Ons is almal in die duister,” het hy gesê.
Roux sê hy verstaan die onsekerheid om ’n werk te verloor, aangesien hy voorheen afgelê is ná die sluiting van die Scorpion Zinc-myn.
“Ek het vir Coleman Transport by die myn gewerk en toe dit skielik toegemaak is, het ek sonder ’n werk gesit,” het hy gesê.
Roux, wat ook met varke boer, sê hy het voedselrantsoene vir die diere op sy plaas ’n paar kilometer van Keetmanshoop ingestel.
“Ek weet byvoorbeeld dat lusern ’n groot draer van BKS is, maar ons is heeltemal in die duister oor hoe die siekte in die ‘Land of the Brave’ versprei.
“Ek het die varke altyd ekstra voer gegee, maar ek kan dit nie meer doen nie. Ek voer die varke ook uit my eie sak. Dit is nie diere wat jy sommer net kan los om in die bos te gaan vreet nie,” het hy gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie