BKS-beheersone in ||Kharas afgekondig

Streng maatreëls geld
Die streng beperkings op die verskuiwing van vee se doelwit is om die land se siektevrye uitvoerstatus te beskerm.
Jacques du Toit

Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het amptelik ’n bek-en-klouseerbeheergebied in die

||Kharasstreek verklaar. 

Dit is ’n poging om Namibië se siektevrye status en uitvoermarkte te beskerm en is aangekondig in die Staatskoerant No. 8866, gedateer 17 Maart 2026.

Die verklaring, onderteken deur landbouminister Inge Zaamwani, is gemaak ingevolge die Wet op

Dieregesondheid van 2011 en dek ’n strook van twee plase (ongeveer tien kilometer) suid van die Mata

Mata-grenspos tot by die Oranjerivier, asook ’n ooreenstemmende strook noord van die Oranjerivier

wat weswaarts strek tot by die Atlantiese Oseaan.

Namibië beskik oor ’n gerespekteerde BKS-vrye status (sonder inenting), wat die land se toegang tot

premium internasionale beesmarkte ondersteun. Hierdie verklaring is ’n proaktiewe maatreël om

daardie status te beskerm, veral in die lig van die huidige vlak van BKS-aktiwiteit in buurlande.

Boere binne die beheergebied staan voor ’n aantal streng vereistes:

• Alle gespletehoefdiere (insluitend wild) mag slegs die gebied verlaat met ’n geldige veterinêre bewegingspermit.

• Vee moet ’n minimum isolasietydperk van 30 dae onder veterinêre toesig ondergaan voordat

hulle die beheergebied verlaat.

• Plase moet oor toegewyde, geregistreerde isolasiegeriewe beskik of alternatiewelik kan die

hele plaas as sodanig dien.

• Alle gespletehoefdiere moet uit kampe langs die grensheinings en uit die Oranjerivier verwyder

word.

• Diere moet behoorlik geïdentifiseer word met goedgekeurde oormerke en geregistreer word op

die Namibiese vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel (NamLITS).

• Die beweging van veevoer uit die beheergebied is ook beperk en vereis ’n veterinêre permit.

Indien ’n BKS-uitbreking in ’n buurland binne tien kilometer van die grens in die voorafgaande 30 dae

aangemeld word, sal alle dierebewegings uit die beheergebied onmiddellik opgeskort word.

Die Staatskoerant bepaal dat besoekende jagters verplig is om ten minste drie dae in ’n dorp of akkommodsiegeriewe, weg van gespletehoefdiere, deur te bring voordat hulle enige plaas in die gebied betree.

Voertuie en skoeisel moet skoon en vry van rommel wees voordat plase betree word. Plaas- en lodgeeienaars is ook verplig om alle besoekers by aankoms te ontsmet en moet nie toelaat dat besoekers met gespletehoefdiere in aanraking kom nie.

Nie-nakoming word in ’n ernstig lig beskou. Enigiemand wat hierdie kennisgewing oortree, staar ’n boete van tot N$100 000, gevangenisstraf van tot vyf jaar, of beide in die gesig.

Die verklaring het onmiddellik in werking getree en bly van krag totdat dit deur die minister by kennisgewing in die Staatskoerant herroep of gewysig word. 

Boere, vervoerders, handelaars en die publiek word dringend versoek om ten volle aan alle instruksies te voldoen wat deur gemagtigde veeartsenybeamptenare uitgereik word. – NLU

Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer