Bielie van ’n mielie-oes
Sowat 114 000 ton mielies is in 2026 geoes, wat deur die Akkerbouprodusente-vereniging (APV) as een van Namibië se grootste oeste tot dusver beskou word.
Ondanks gunstige mieliepryse het die seisoen beklemtoon hoe belangrik dit is om produksie in lyn te bring met meulens se behoefte, bergingskapasiteit en tydige betalings aan produsente.
Weens stadige mieliemeelverkope tydens Junie en Julie is minder mielies gemaal en is sommige meulens tydelik gesluit. Produsente kon aanvanklik vrylik lewer, maar lewering is middel Junie onderbreek en middel Julie hervat. Hierdie onderbrekings het ’n agterstand veroorsaak terwyl daar steeds geoes is.
Die APV het die lewering van mielies in die sentrale en Karst-produksiesones gekoördineer.
Weeklikse toekennings is bepaal deur die beskikbare volumes vanaf produsente asook die meulens se innamekapasiteit. Dit het deurlopende opdaterings oor uitstaande tonnemaat en skakeling met produsente en meulenaars vereis.
Vanaf begin Augustus is silosakke as bykomende bergingsruimte by meulpersele gebruik. Al die mielies is nou by die meulens gelewer, wat die onmiddellike druk op plase verlig. Lewering beteken egter nie noodwendig dat die mielies gekoop is nie. ’n Groot deel van die graan bly die eiendom van produsente en word in silosakke geberg, terwyl daardie produsente die bergings- en hanteringskoste dra totdat dit verkoop word.
Die APV se betrokkenheid het dus verder as leweringskedules gestrek en sluit opvolgwerk in oor aankooptydlyne, bykomende meulkapasiteit, die hertoekenning van mielies asook bergingskoste.
By Otavi word mielies wat by Namib Mills geberg word, ook deur ander meulenaars gekoop. Duidelike inligting oor toekennings en verwagte aankope bly noodsaaklik om produsente op hoogte te hou van hul toekomstige inkomste.
Betalings word ontvang soos mielies aangekoop word, wat inkomste oor die komende maande versprei en produsente se finansiële beplanning raak. Dit is veral uitdagend vir gemengde akkerbou -en veeboere, wie se geleenthede om beeste te bemark ook deur bek-en-klouseer (BKS) beperk word.
Die seisoen se groot oes is ’n belangrike produksieprestasie. Die APV bedank Namib Mills en die deelnemende meulenaars vir hul samewerking om inname en berging te fasiliteer asook vir produsente vir hul geduld en samewerking met die leweringskedules. Hierdie gekoördineerde poging het gehelp om die onmiddellike druk vir bergplek in die sentrale en Karst-produksiesones te verlig.
Dit is steeds ’n prioriteit om die oes in inkomste om te sit deur voortgesette aankope, duidelike kommunikasie en die oplossing van uitstaande reëlings oor bergingskoste. – APV


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie