Bek-en-klouseer vir leke

Inkubasietydperk is 14 dae
Namibië het in 1997 ’n erkende BKS-vrye sone deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) verkry waar inenting van lewende hawe teen die siekte nie toegepas word nie.
Francoise Steynberg

’n Uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) is op 23 September op ’n kommersiële plaas in die Karasburg-distrik in die ||Kharasstreek deur die regering aangekondig wat skokgolwe deur die land gestuur het.

Dit het tot onmiddellike streng inperkingsmaatreëls gelei het wat oor die naweek vir sekere gebiede Noord van die veterinêre kordonheining (bekend as die Rooilyn) en Suid van die Rooilyn effens verslap het, behalwe vir die ||Kharasstreek waar die episentrum Karasburg is.


WAT IS BKS?

BKS word veroorsaak deur virusse met ’n groot vermoë om te muteer, wat lei tot talle tipes en subtipes. 

Die inkubasietydperk vir BKS is 14 dae. Die virus behoort aan die familie Picornaviridae en is die enigste lid van die genus Aphthovirus.

Daar is sewe immunologies onderskeibare serotipes: A, O, C, SAT1, SAT2, SAT3 en Asia1, wat nie kruisimmuniteit bied nie.

In Suider-Afrika kom drie serotipes van die virus voor – SAT 1, 2 en 3 – wat gesamentlik 14 subtipes omvat. Onlangs is uitbrekings van BKS weens serotipes O en A ook in sommige Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-lande bevestig, terwyl serotipe O in 2022 ’n massiewe uitbreking in Namibië se besmette sone veroorsaak het. 

Alle mak gespletehoefdiere is vatbaar, insluitend beeste, varke, skape, bokke en waterbuffels. Alle wilde diere met gesplete hoewe is ook vatbaar, insluitend Afrika-buffels, wildsbokke, wildevarke, kameelperde, kamele en diere wat familie van kamele is. Ander diere, soos olifante, rotte en muise, kan moontlik ook vatbaar wees. 

By vee word BKS gekenmerk deur ’n hoë morbiditeitskoers, ’n lae mortaliteitskoers (behalwe by jong diere). 


KLINIESE TEKENS

 • BKS veroorsaak koors, wat gevolg word deur die ontwikkeling van blase en sere in die mond (tandvleis, lippe en tong), is rou en pynlik, wat dit moeilik maak vir die dier om te eet en veroorsaak dikwels kwyl en swak eetlus.

• Blase en sere tussen die tone en waar die hoewe by die vel aansluit, kan veroorsaak dat die diere mank word en nie wil loop nie. Soms kan besmette diere hul kloue of hoewe verloor.

• Koeie kan sere op hul spene ontwikkel. Dit lei tot ’n skielike daling in melkproduksie.


INKUBASIETYDPERK

Die inkubasietydperk vir BKS is twee tot 14 dae. Vir die doeleindes van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH)-kode word die inkubasietydperk vir BKS egter as 14 dae beskou.

Die erns van kliniese tekens wissel na gelang van die virusstam, die blootstellingsdosis, ouderdom, die gasheerspesie en die vlak van immuniteit by die gasheer. Tekens kan wissel van lig of onopvallend tot ernstig. Die morbiditeitsyfer kan tot naby aan 100% styg. Die mortaliteitsyfer is oor die algemeen laag by volwasse diere (1% tot 5%), maar hoër by jong kalwers, lammers en varkies (20% of hoër). Herstel in ongekompliseerde gevalle duur gewoonlik ongeveer twee weke.


OORDRAG

• Direkte kontak tussen besmette en vatbare diere.

• Direkte kontak van vatbare diere met besmette voorwerpe soos onder meer hande, skoene, klere, voertuie.

• Inname (hoofsaaklik deur varke) van onbehandelde, besmette vleisprodukte (voeding met kombuisafval).

• Inname van besmette melk (deur kalwers).

• Kunsmatige inseminasie (KI) met besmette semen.

• Inaseming van aansteeklike aërosols.

• In gematigde streke is daar aangetoon dat verspreiding deur die lug oor lang afstande ’n belangrike rol speel in virusoordrag. Dit is egter minder waarskynlik in die Namibiese konteks weens droë weerstoestande en die oorvloed van ultraviolet (UV)-lig.

• Mense kan die BKS-virus vir 24 tot 48 uur in hul lugweë dra; dit lei tot die algemene praktyk van ’n persoonlike kwarantyntydperk van drie tot vyf dae vir personeel wat in navorsingsgeriewe aan die virus blootgestel is.

Die BKS-virus hou geen bedreiging vir mense in nie, volgens dr. Francois Maree, direkteur: oordraagbare siektes, biologie en navorsing by Clinglobal. Ook nie die vleis van diere wat met die virus besmet was, hou enige gesondheidsgevare vir mense in nie.

BKS is uitsluitlik ’n dieresiekte en moenie verwar word met die menslike siekte, hand-voet-en-mondsiekte, wat deur ’n ander virus veroorsaak word nie.


BRON VAN DIE VIRUS

• Diere in die inkubasiestadium en diere wat kliniese tekens toon.

• Asem, speeksel, mis en urine; melk en semen (tot vier dae voor kliniese tekens verskyn).

• Blaasvloeistof bevat die hoogste konsentrasies virusdeeltjies en is dus hoogs aansteeklik.

• Vleis en neweprodukte waarin die suurgehalte (pH) bo 6 gebly het.

• Besmette voorwerpe, soos onder meer mense se klere, voer, voertuie, kan ’n bron van meganiese oordrag wees. Meganiese oordrag deur middel van besmette hipodermiese

naalde is ook moontlik.

• Blootgestelde mense, soos onder meer boere, veeartsenykundige beamptes en dierehanteerders kan die BKS-virus vir 24 tot 48 uur in hul lugweë dra; dit lei tot die algemene praktyk van ’n persoonlike kwarantyntydperk van driei tot vyf dae vir personeel wat in navorsingsgeriewe en tydens aktiewe uitbrekings blootgestel is.

• Draers: Diere wat herstel het of ingeënt en blootgestel is, en by wie die BKS-virus vir langer as 28 dae in die mond- en keelholte aanwesig bly.

Beeste kan ook ’n draerstatus ontwikkel nadat hulle besmet is. ’n Draerstatus word gedefinieer as ’n dier (insluitend wild) met ’n infeksie wat nie kliniese simptome toon nie en waaruit die virus 28 dae na die aanvanklike infeksie geïsoleer kan word. Die voorkomssyfer van draers onder beeste wissel van 15% tot 50%. Die draerstatus by beeste duur gewoonlik nie langer as ses maande nie, hoewel dit by ’n klein persentasie tot drie jaar kan voortduur; by skape en bokke kan dit tot nege maande duur, terwyl varke nie draers word nie. 


BUFFELS

Die Afrika-buffel is die vernaamste instandhoudingsgasheer vir SAT-serotipes en kan die virus vir ten minste vyf jaar dra.

In Suider-Afrika is daar vasgestel die Afrika-buffel dien as die hoofdraer van infeksie vir plaasdiere. Dit is dus baie waarskynlik dat ’n aantal onlangse uitbrekings in die streke van Zambezi en Kavango-Oos in Namibië aan hul teenwoordigheid toegeskryf kan word. 

’n Hoë persentasie buffels (70% tot 80%) ouer as drie jaar dra die BKS-virus in hul keelholte. Buffelkalwers raak akuut besmet op die ouderdom van drie tot agt maande, wanneer hul moederlike teenliggaampies afneem. Sodra hulle besmet is, skei hulle groot hoeveelhede van die virus uit, en daar word geglo dat dit die wyse van oordrag na ander spesies is. 

Die geskatte kalftydperk is net voor en tydens die reënseisoen; gevolglik word verwag dat kalwers ses maande later hul immuniteit sal verloor. Hierdie tydperk val saam met ’n fase waarin vee aan voedingstres blootgestel word, wat tot verlaagde immuniteit kan lei. 

Ander wilde diere met gesplete hoewe (soos rooibokke en koedoes) kan ook ’n belangrike rol speel, aangesien hulle as tussengashere tussen Afrika-buffels en plaasdiere met gesplete hoewe kan optree.


BKS-VRYE SONE

In 1997 het Namibië ’n WOAH-erkende BKS-vrye sone verkry waar inenting van lewende hawe teen die siekte nie toegepas word nie. Hierdie amptelik erkende WOAH-status (sonder inenting) stel die land in staat om toegang tot winsgewende markte vir diere en diereprodukte, met minimale sanitêre beperkings, te vekry. 

Daarbenewens het Namibië in 2014 ’n WOAH-goedgekeurde BKS-beheerprogram verkry vir die noordelike kommunale gebiede Noord van die Rooilyn.

Die sonering vir BKS speel ’n kernrol in die voorkoming en beheer van die siekte in die geval van ’n uitbreking. Namibië is ’n belangrike uitvoerder van lewende hawe en veeprodukte, wat nadelig geraak sou word deur ’n BKS-uitbreking. 

Lidlande wat aansoek doen om die herstel van status, behoort dit slegs te doen wanneer daar aan die onderskeie vereistes vir die herstel van status voldoen is. Wanneer ’n inperkingsone ingestel is, behoort die beperkings binne die inperkingsone slegs opgehef te word wanneer BKS suksesvol binne die inperkingsone uitgeroei is en die status herwin is ooreenkomstig die bepalings. Hierdie proses kan tussen drie en vier maande duur. 

– Bron: Ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming

Kommentaar

Republikein 2026-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer