Bek-en-klouseer is hier!
Bek-en-klouseer (BKS) is op ’n kommersiële plaas in die Karasburg-distrik in die ||Kharasstreek deur veeartsenybeamptes opgespoor.
Die skoknuus is gister in die parlement deur die waarnemende minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Charles Mubita, bevestig.
“Vandag staan ek hier met diepe hartseer en besorgdheid om die ongelukkige opsporing van bek-en-klouseer in ons bek-en-klouseervrye sone aan te kondig.”
Mubita het gesê monsters is Dinsdag van 11 beeste geneem wat kliniese tekens getoon het wat ooreenstem met BKS. Die laboratoriumanalise is by die sentrale veeartsenylaboratorium in Windhoek uitgevoer. Tien van die 11 monsters het positief getoets.
“Dit bevestig ’n aktiewe uitbreking van bek-en-klouseer in Namibië se bek-en-klouseervrye sone, soos erken deur die WOAH [Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid]”, het hy gesê.
“Hierdie ontwikkeling hou ernstige gevolge en implikasies vir die nasionale ekonomie en die bestaan van die Namibiese bevolking in as gevolg van die opskorting van die bemarking van lewende hawe en veeprodukte, beide plaaslik en internasionaal,” het hy gemaan.
Mubita sê gevolglik dwing hierdie nuwe ontwikkeling die landbouministerie om onmiddellike beheermaatreëls in te stel, soos bepaal in die Wet op Dieregesondheid (Wet No. 1 van 2011), ten einde die uitbraking so vinnig moontlik te beheer en in te perk.
Die maatreëls wat met onmiddellike inwerkingtreding geïmplementeer word, is:
• Opskorting van die beweging van diere met gesplete hoewe en hul produkte landwyd;
• Opskorting van die invoer en uitvoer van alle diere met gesplete hoewe tot verdere kennisgewing.
Verder sal die direktoraat veeartsenydienste (DVS) ’n openbare veeartsenykennisgewing uitreik wat al die beheermaatreëls in volle besonderhede uiteensit.
Mubita het die nasie verseker die ministerie sal onverpoosd werk om die siekte so vinnig moontlik in te perk.
“Daarom doen ek ’n beroep op alle mede-Namibiërs vir samewerking en ondersteuning van alle staatsdepartemente en -agentskappe, die veebedryf, belanghebbendes, die publiek en alle relevante instellings om saam te staan in die stryd teen hierdie verwoestende en hoogs aansteeklike siekte.
“Dit is ’n nasionale verantwoordelikheid vir elke Namibiese burger dat die herstel en normalisering van die bemarking van lewende hawe ons hoogste prioriteit bly,” het Mubita gepleit.
Die uitbreking kom op die begin van die skouseisoen met die Grootfontein Skou wat gister begin het en Gobabis Skou wat vandag afskop.
Afgetrede veearts, dr. Pete Morkel, wat ’n plaas teen die Oranjerivier het en telkens oor grensbeheer gewaarsku het met beeste wat oor die rivier beweeg het, het op navraag van Republikein gesê die uitbreking was onvermydelik.
“Nou hoop en bid ons net dat ons dit spoedig onder beheer kan kry, anders gaan ons sien hoe ons lewendehawebedryf en soveel meer gaan ineenstort.”
Ian Collard, uitvoerende hoof van Savanna Beef, het aan Republikein gesê as BKS by Karasburg en Keetmanshoop beheer kan word, die ramp kleiner sal wees, “maar dit is ’n helse slag vir die hele ekonomie.
“As diere tot by uitvoerslagpale beweeg, dan is dit ’n gemors.”
Savanna Beef noord van Okahandja slag 250 beeste per dag en voer beesvleis na die buitelandse markte uit.
“Die vergadering wat ek vandag met DVS bygewoon het, voel soos Covid-vergadering. Ons maak nou alles toe en dan besluit ons. Maandag sal ’n bietjie realiteit inskop,” het Collard gesê.
Hy sê die uitbreking het ’n domino-effek vorentoe en agtertoe op die hele ekonomie. “Diere wat na veilings en skoue op pad is, moet teruggaan plase toe.”
Sarel du Toit voorsitter van die DAS-groep wat Reho Meat Processors (RMP) en Desert Wagyu insluit, sê die hoofverantwoordelikheid is dat Namibië as die laaste land in Afrika met BKS-vrye status, die uitbreking nugter te hanteer.
“Veeartseny het die regte benadering om alle beweging, verslagting, veilings en skoue op te skort totdat die probleem geïdentifiseer en gesoneer is,” het hy aan Republikein gesê.
“Die aanvanklike eerste periode gaan ’n moeilike tydperk wees om te isoleer en in die proses nugter denke op die tafel te sit.
“Nou is die onus op die taakspan van DVS om ’n plan van aksie uit te rol en die omvang te bepaal en dan kan ons op optrede besluit.”
Hy sê daar moet ’n uitvoerbare plan wees wat die Europese unie (EU) en uitvoerlande sal wil sien en tevrede gaan stel om weer uit ’n BKS-vrye sone na hulle uit te voer.”
Du Toit sê tydens die onbepaalde interimtyd gaan produsente, abattoirs, verwerkers, voerkrale, veilingshuise, die vervoerbedryf en die uitvoerders baie swaar kry en in ’n enorme krisis sit.
“Ons gaan ’n baie onsekere tyd in met El Niño wat op pad is, weidingsdruk, tekort aan voer, enorme kontantvloeidruk op almal en pryse op die binnelandse verspreiding op produkte.
“Die omvang en onsekerheid van die tyd sal ons met tyd leer – hoe lank dit gaan vat om oplossings te kry en hoe die oplossings gaan lyk,” het hy gesê.
Du Toit is is egter positief oor die sonering in Namibië wat hy sê prakties geweldig goed haalbaar.
“In die Suide, in terme van landskap, is dit moontlik om beheer uit oefen, toevoerroetes is beperk en eenhede vir misdaadvoorkoming is goed.”
Hy sê die Suide kan geïsoleer word en isolasie kan relatief maklik op grondvlak uitgevoer word.
“Organisatories is dit meer van ’n uitdaging. Die grootste uitdaging is om ons buitelandse markte te oortuig om veilige produkte van ons te ontvang,” sê Du Toit.
Tog sê hy hoopvol “in elke probleemomgewing ontstaan geleenthede. Ons sal oplossings kry. Die private sektor is vrywillig verplig om oplossings te kry.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie