Raaisel oor nuwe poste

Geen antwoorde van SSC
Die aankondiging van 130 000 nuwe werknemers in 2025 tydens die staatsrede is met skeptisisme begroet.
Augetto Graig

Daar is geen manier nie, absoluut nie.

Só het die bekende plaaslike arbeidskenner Herbert Jauch gesê oor die bewering dat meer 130 000 nuwe poste verlede jaar in Namibië geregistreer is.

Twyfel heers onder arbeidskenners en vakbondleiers oor beide die omvang en interpretasie van die syfers van meer 130 000 nuwe werksgeleenthede wat verlede jaar in die land geskep is.

In haar onlangse staatsrede (Sona) het President Netumbo Nandi-Ndaitwah rekords van die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) aangehaal om die syfer te gee.

“Ek is bly om die nasie in te lig dat, volgens die rekord van die Maatskaplike Voorsorgfonds, meer as 130 000 mense as nuwe werknemers gedurende die oorsigtydperk geregistreer is. Hierdie prestasies is noemenswaardig,” het Nandi-Ndaitwah gesê.

Volgens die Namibiese Statistiekagentskap (NSA) was ongeveer 546 805 Namibiërs in 2023 in diens van ’n werksmag van 867 247.

’n Toename van 130 000 werksgeleenthede sou ongeveer ’n sprong van 15% verteenwoordig, wat indiensnemingsvlakke tot byna 80% van die werksmag stoot – ’n verskuiwing wat ontleders sê moeilik sou wees om nie waar te neem nie.

Kritici sê die syfers stem nie ooreen met breër arbeidsmarkdata nie.

Jauch het gesê so ’n toename in indiensneming sou wyd oor die ekonomie gevoel gewees het.

“Daar is geen manier nie, absoluut nie,” het Jauch verlede week aan Republikein gesê.

Prominente vakbondlid Kavihuha Mahongora het die bewering as “belaglik, misplaas en ’n misbruik van inligting” afgemaak.

Jauch het voorgestel dat die syfer moontlik verhoogde registrasie van bestaande werkers weerspieël eerder as nuwe werkskepping, moontlik gedryf deur nakomingspogings by die SSC.

Volgens Jauch kan die syfer van die SSC verkeerd geïnterpreteer word, voortspruitend uit verhoogde registrasie van bestaande werknemers wat nog nie geregistreer was nie.

“Dit kan ’n werwingsveldtog wees om mense wat jare lank werk, maar nie geregistreer is nie, te registreer wat ongelukkig hierdie indruk geskep het. Ons kan slegs met jaarlikse arbeidsopnames seker wees,” het hy gesê.

Sonder opgedateerde data van die arbeidsmag, sê ontleders, is dit steeds onduidelik of die gerapporteerde toename werklike werksgroei of ’n statistiese verskuiwing in hoe werkers geregistreer word, verteenwoordig.


BESKIKBARE SYFERS

Die bevestigde gekombineerde toename in werksgeleenthede oor drie sektore – staatsdiens, mynbou en vissery – gedurende die tydperk was ongeveer 11 347 werksgeleenthede.

Eerste minister Elijah Ngurare het in Februarie bevestig dat die staatsdiens in 2025 tot 118 936 werknemers gegroei het, teenoor die 111 535 in 2024, wat 7 401 nuwe staatsamptenare bygevoeg het.

Volgens die Kamer van Mynwese van Namibië se mediaverklaring in Februarie was die 20 800 totale werksgeleenthede wat die sleutelsektor in 2024 verskaf het, 2 611 meer as die 18 189 in 2023.

Visserye het in 2024 op 19 440 gestaan, ’n toename van 1 335 werksgeleenthede teenoor die 18 105 wat in 2023 in diens geneem is.

Landbou, nog ’n groot werkgewer, het nie beduidende werksgroei aangeteken nie.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) het gesê die sektor het ’n afname in indiensneming per plaas gesien, met verwysing na stygende koste en strukturele uitdagings.

Werkstendense in die sektor wat tweejaarliks ​​deur die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) sedert 2002 aangeteken word, toon dat die gemiddelde aantal werknemers per boer van 2022 tot 2024 vanaf sewe tot ses gedaal het.

Volgens die NLU bly die vooruitsigte vir nuwe werksgeleenthede in landbou kommerwekkend, gedemp deur die impak van die implementering van die minimum loon, verliese as gevolg van voorvalle van mens-olifant-konflik en onbetroubare landelike konnektiwiteit.

Amptenare het tot dusver beperkte verduideliking verskaf. Die woordvoerder van die presidensie, Jonas Mbambo, het gesê die toespraak steun op verskeie databronne, terwyl die ministerie van justisie en arbeid vrae na die SSC verwys het, wat nog nie gereageer het nie.

Vrae wat reeds op 10 April 2026 per e-pos aan die SSC se bemarkingshoof, Castro Tjizoo, gestuur is en met sy toesighouer, Beverley Skrywer, waarnemende senior bestuurder vir kommunikasie en bemarking, gedeel is, het onbeantwoord gebly. Pogings om die uitvoerende hoof, Milka Mungunda, te bereik, het misluk ten spyte van ’n besoek van Republikein aan die hoofkantoor in Khomasdal in die hoofstad. 

Skrywer het aangedui dat die vrae na Mungunda gestuur is, maar die uitvoerende hoof se sekretaresse kon dit nie bevestig nie.

Namibië se mees onlangse opname oor die arbeidsmag is in 2023 gehou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer