Vuurvrou van die taal
Erika Terblanche - “Lady Di is aan die woord in die opening van die produksie Woorde op akkoorde, waarvan ek in 2020 die voorreg gehad het om regisseur te wees: “Daar is hoop in elke sonstraal. In ’n lug blou en kaal. Daar is ook hoop in ’n wolk waarin genesende water kolk [...] Jy hoef nie jou hoop gevange te hou in ’n woord nie! Gee die hoop ’n lyf. Gee die hoop ’n stem!'. So skryf Mercy Kannemeyer in ‘n huldeblyk aan die gevierde Diana ofte wel Lady Di ná die merkwaardige vrou en méns se dood op 30 Januarie.
Diana is op 29 Augustus 1953 in Worcester gebore, die derde oudste van ses kinders van Ann en Jacobus Ferrus. Haar kinderjare was redelik stormagtig. Haar pa, ’n skrynwerker wat by die val van Tobroek deur die Duitsers gevange geneem is en haar ma, wat ses kinders moes grootkry, het albei heelwat gedrink. Haar ma leer haar egter van dapper wees en die digkuns. “Eintlik is ek die skrywer wat sy moes gewees het,” vertel Diana aan Susanne Beyers. (Die Burger, 8 September 2006)
By ouma Bettie Elias kry Diana standvastigheid en die jare saam met haar was Diana se gelukkigste. Toe sy haar ouma op dertienjarige ouderdom verloor, is dit asof sy alleen agtergebly het. Om te vergoed vir die moeilike tye by die huis, het Diana op skool begin uitblink. Sy woon die Nederduitse Gereformeerde Sendingskool by en gaan later na Esselenpark Hoërskool, waar sy in 1972 matrikuleer. Sy skryf haar eerste gedig op vyftienjarige ouderdom.
Sy gaan na Nederland as deel van haar studie vir haar honneursgraad. En dit is daar waar die verlange haar begin inspireer en die bekende gedig oor Sarah Baartman sy ontstaan het. Diana vertel self aan Murray la Vita oor hoe al die dele van dié deel van die geskiedenis gebeur het en bymekaargekom het: “My bewustheid van Sarah het gekom nadat ek begin studeer het. Ek het haar, dank die vader, nooit uitgestal gesien nie; ek het haar net gesien toe ons haar gaan haal het – die gipsafgietsel en die skelet, nét dit.
“Ek het die gedig oor Sarah geskryf terwyl ek in Utrecht studeer het. Dit was inténs, want ek was in ’n vreemde land; ek was homesick en ek het geleer sy het in ’n onderhoud gesê sy wil net huis toe gaan.
“Dít was vir my die groot ding: Huis en die moeder en die moederland, want ek was in Holland die jaar nadat my ma gesterf het. Een aand het ek so in my kamer gestaan en ek was só homesick, ek het súlke heimwee gehad. En ek het gekyk na die sterre en ek het vir myself gesê hulle is so vér hiervandaan, maar as ek in mý land was, sou ek hulle kon aanraak het.
“En toe is dit asof ek ’n stem hoor wat sê, en ek weet nie hoekom in Engels nie: ‘I want to go home! I want to go home!’ Toe het ek, met die tráne wat oor my wange loop, na my tafel toe gegaan en ek het daar die eerste lyn geskryf: I’ve come to take you home … En ek het nooit geweet hoe profeties dit sou wees nie. Daai aand het die hele gedig gekom; ek het later net een lyn bygesit.” Die Suid-Afrikaanse regering het Diana genooi om saam te gaan toe hulle vir Sarah gaan haal het.
Oor haar bewuswording van slawerny vertel sy aan Murray la Vita: “My ouers het nie eintlik daaroor gepraat nie. My óóm het iets gesê; hy het my vertel dat hulle die afskaffing van die slawehandel herdenk het. Ek is so spyt ek het nie vir hom méér gevra nie – hy’t so ’n liedjie ook gesing wat hulle gesing het in daardie tyd. Maar die wérklike bewuswording was toe ek, net ná demokrasie, wou werk met die identiteit van die sogenaamde bruinmense want ek het besef daar is ’n klomp genesing wat moet plaasvind; toe het ek begint met geskiedenis en dit nogal met Afrikaans.
“Die mense het skaam geraak oor Afrikaans praat, en vir mý was dit ’n groot ding want Afrikaans is deel van hulle identiteit en … ek het net as kind al gekyk na die sosiale euwels in onse gemeenskap. Ek verbeel my ek was nege of tien toe ek vir myself gesê het: dit is nie reg dat dit lyk soos dit is nie en dit het my daarna gelei om iets te wil doen om dit te laat verander en genesing te laat plaasvind.
“En toe word ek bewus van die taal en die mense wat die taal praat en ek besef mense wil meer en meer nie Afrikaans praat nie as gevolg van ’n klomp dinge wat met die taal gebeur het. Die regte oorsprong van Afrikaans moet meer belig word.
“Ons moet die woorde wat ons uitgehaal het van die slawe en die Khoi terugbring in die taal. Dit moet regtig ’n onafhanklike taal word. Op skool mag ons nie ‘kooi’ gesê het nie, ons moes gesê het ‘bed’. Kooi is ’n Khoi-woord vir bed. En ek dink toe agterna hoeveel woorde is uitgehaal uit die taal. En toe ek nou agterkom hoeveel woorde die slawe en die Khoi gebring het na die taal toe, toe besef ek dan moet ek nou meer uitvind van slawerny en ek kom ook op die ding dat die mense name van maande het en ek besef waar dit vandaan kom.
“En toe grip dit my so dat ek besef, orraait, nou moet ek hieroor skryf en ek moet dit voordra en ek moet dit uitbring want dit gaan help met die herstelling en ook met ’n soort trots waar ons vandaan kom. Daarom het ek die gedig ‘Ons komvandaan’ geskryf. Daarin sê ek oor die name van maande wat aan hulle gegee is.”
Die laaste woorde hoort aan Lady Di:
Nou, na die stormjare,
dans sy nie meer so flink
maar sy omhels die skouers van haar susters
en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
in die Afrika-renaissance vind sy haar weg.” (LitNet, 2 Februarie 2026). Bron: Litnet/
Diana Ferrus (1953–2026)


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie