Vrou Vrouer Vrouste

-
Dis ’n snaakse, sad, hopelose, hoopvolle woord-, kuns- en musiekreis na jou vredevolle self.
Henriette Lamprecht

Dis ‘n kragtige en kunsryke kombinasie van woordkuns, musiek en lewenservaring wanneer twee formidable vroue en kunstenaars elk in hul eie reg hul talente in een produksie op die verhoog saamsnoer. 

Die kragtige stem van musikant, liedjieskrywer en sanger Petronel Baard en kunstenaar en woordsmid Lidi de Waal se woordkuns in Vrou, Vrouer Vrouste sorg vir ‘n unieke en hartroerende produksie wat in Junie haar debuut op Namibiese planke maak.

Die produksie wat al wyd op groot feeste in Suid-Afrika en die buurland se platteland haar buiging gemaak het, balanseer humor en emosie en neem haar gehoor op ‘n reis vol lag, trane, hoop en selfontdekking. 

Lidi beskryf dit as "’n snaakse, sad, hopelose, hoopvolle woord-, kuns- en musiekreis na jou vredevolle self." Nie net blote vermaak nie, maar ook met diep sielsinhoud en menslike insig in ’n formaat wat eg en treffend is.

Lidi is digter, skrywer en veelsydige kunstenaar met dekades se ervaring in die omskep van die lewe se lag, liefde en lesse in woorde en kuns. Haar gedigte het reeds duisende aanlyn geraak, waar lesers keer op keer terugkom vir haar vermoë om presies te sê wat ons almal voel, maar nie altyd self kan verwoord nie. Wanneer sy nie skryf nie, kan jy vir Lidi kry besig met kleibeeldhouwerk, verfkwaste wat lewe bring aan ’n doek, of ’n glas wyn in die hand terwyl sy goeie vibes en kosbare oomblikke saam met haar familie geniet (en natuurlik haar geliefde troeteldiere wat dikwels deel word van haar inspirasie). Haar skeppings strek van innige gedigte tot skilderye en beeldhouwerke.

In haar hart is Lidi ’n storieverteller wat die eenvoudige vreugdes van die lewe vier: familie, pelskinders en die skoonheid van alledaagse oomblikke. Deur haar werk nooi sy jou uit om stil te raak, te glimlag en troos te vind in kuns en woorde wat soos tuiskoms voel.  

lately beleef ek soms tye

waar die lewe net perfek is

nie die soort perfek

waar niks verkeerd is nie

maar die soort perfek

waar al die verkeerd

rerig nie eintlik meer saakmaak nie

©Lidi 

Petronel het haar passie vir musiek tydens haar kinderjare op Villiersdorp in die Overberg in Suid-Afrika ontdek. Sy sou tussen die berge en die bome hardloop en haar hart uit sing, vertel sy. Op die brose ouderdom van 12 jaar word sy in ‘n plaaslike musiekproduksie ‘ontdek’ en weet al wat sy wil doen, is om te sing. 

In 1999 skryf Petronel vir ATKV Crescendo, ‘n nasionale sangkompetisie in die buurland in en stap met die louere weg. Haar wen lei tot die afskop van haar professionele loopbaan wat in alle erns begin. Sedertdien het sy al verskeie albums en enkelsnitte vrygestel en letterlik honderde optredes gedoen. 

Sy vind inspirasie orals om haar, vertel Petronel. In die see, die wind, die lug en mense. Hoewel sy spesialiseer in intieme teater, is sy net so gemaklik op groter platforms. 

Oor Vrou, Vrouer Vrouste sê Petronel dis ‘n persoonlike konsert sonder om te persoonlik te raak.

“Ons kan uit ‘n vroulike perspektief praat. Ons praat onder meer onder meer oor menslike emosies, soos wanneer jy mense moet seermaak as jy nie wil nie of andersom.”

Vir Lidi is die produksie ‘n skets van “perfekte imperfeksies” en ‘n eerlike uithaal en wys van ons menswees.

“Dis ‘n snaakse, hartseer, hopelose, hoopvolle woord-, kuns- en musiekreis na jou vreedsame self.”

Vrou, Vrouer Vrouste balanseer humor en emosie en neem haar gehoor op ‘n reis vol lag, trane, hoop en selfontdekking.

As jy wil kom ontborstrok en deel wil wees van hierdie viering van vrouwees, kreatiwiteit en menslikheid, maak solank ‘n merkie op jou kalender vir Vrydag 26 Junie en Saterdag 27 Junie. Vrydag is Lidi en Petronel om 18:30 by die Beach Hotel op Swakopmund te sien en Saterdag om 13:30 by Droombos buite Windhoek. Kaartjies kos N$300 per persoon en vir pensioenarisse is dit N$250. Verversings sal ook tydens die vertonings te koop wees. 

Lidi de Waal is bekend ook benewens haar unieke en lieflike kunswerke, as “digital creator” met etlike duisende volgelinge:

https://www.facebook.com/share/1CWGYAm2jD/

https://www.facebook.com/share/15fevs3Nb4/

Petronel Baard het ‘n volle, nuwe album geskep vir Vrou, Vrouer, Vrouste van Lidi se digkuns en ander musiek uit haar pen wat eksklusief by die vertonings te koop is. Gaan luister hier: https://youtu.be/ppG09Q6lgQ8?si=X7DnKs7n5s9ZRN4K

www.petronelbaard.com 

So handvol van die enkelsnitte vanaf die album is al vrygestel en doen baie goed:

https://open.spotify.com/album/1UwK1XQMRSgV1WHblMB7UP?si=tNOlBQVnS0-jZY0uzvSYGA


Kommentaar

Republikein 2026-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer