'Untitled' open vanaand. Foto Project Room
'Untitled' open vanaand. Foto Project Room

‘Untitled’ verken potensiaal

Iréne-Mari van der Walt
’n Gesamentlike uitstalling deur die kunstenaars Nicole Schaller, Nghihaluka (Luka) Ndivayele, Stephnie Mans en Pontsho Kemba open vandag om 18:00 by die Project Room-galery.

Die uitstalling ‘Untitled’ ondersoek die vroeë fases van ’n kunswerk se ontwikkeling en eksperimentering en vier sodoende iets meer boeiend as kunswerke wat voltooi is – dit vier potensiaal.

“Die naam ‘Untitled’ kyk na die begin van iets betekenisvols – werk wat steeds vorm aanneem, stories wat nou eers begin gedeel word en kunstenaars wat hul stem in ’n veranderende kulturele landskap vind.

“Die uitstalling is dus ’n uitnodiging vir kykers om 'n oomblik van artistieke ontvouing te aanskou,” lui ’n verklaring van die Project Room.

Schaller, gebore in Otjimbingwe en nou in Windhoek gebaseer, het oorspronklik in juweliersware begin as ’n student aan die Kollege vir die Kunste, maar sou later met tekstiele werk. Haar werk put inspirasie uit die erfenis van die Kunenestreek en verken kulturele identiteit, veral dié van die Damara-kultuur.

Ndivayele het sy begin gevind in olieverf, maar sê sy verhouding met kuns kon nie vermy word nie.

“Ek was nooit geïnspireer nie – ek het myself nooit enigiets anders sien doen nie,” sê hy.

Mans is ’n deeltydse kunsstudent en praktiserende fisioterapeut. Haar gemengde mediawerke ondersoek emosie – soos gevoelens van hartseer, vreugde en verlange.

Op die jong ouderdom van 21 verken Kemba se olieverfwerke identiteit, liggaamspolitiek en die verskuiwende werklikheid van vrouwees. Haar ma was ’n bloemiste en het haar met kuns en kleur omring, en Kemba glo die kreatiwiteit waarmee sy as kind omring was, haar beïnvloed het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer