Decima deur Eben Venter. FOTO VERSKAF
Decima deur Eben Venter. FOTO VERSKAF

Treurlied aan ’n oermoeder

Ter wille van ’n spesifieke dier
In die lig van Wêreldrenosterdag, wat Dinsdag gevier is, val die fokus op Eben Venter se roman Decima, waarin die binnewêreld van ’n renoster aan die leser bekend gestel word.
Ingrid van Graan

Die behoefte om oor ’n renoster te skryf was na aanleiding van die skrywer Eben Venter se besoek aan ’n plaas vir renosterwesies, Care for Wild, in Mbombela in die vroeglente van 2018. 

Dit was veral die kyk van die linkeroog van die kalfie, smekend om niks meer as net ’n plek in die bos te kry, wat hom laat besluit het om meer oor die swartrenoster te wete te kom. Om daaroor te skryf, in ’n poging om die respek wat die groot soogdier toekom, in ere te herstel.

“Dié slag skryf ek nie net ter wille van skrywe nie, maar ter wille van ’n spesifieke dier, ’n poging, niks meer nie, om Decima as sensoriese wese na vore te laat tree, om die gevoelvolheid van haar te verstaan soos Valerius Catullus, die digter van die eerste eeu, dit uitgedruk het: ‘Fieri sentio et excrucior’: Ek voel dit aan, ek is gefolter daardeur”.

Die titel Decima is Latyn vir ’n tiende, ’n grootsheid en Diceros bicornis is die wetenskaplike naam vir die swartrenoster. Die houtdrukwerk op die voorblad is van die kunstenaar Albert Dürer en plaas die fokus op die mitiese rol wat die swartrenosterkoei in die roman vertolk. Die skets deur Dürer was ’n geskenk aan Pous Leo die Tiende. Die spesifieke renoster is in 1551 in voetheuwels van die Himalajas gevang. Die renoster sou onder die eerstes wees om in Europa aan te kom en daar sink die skip met renoster en al, voor dit deur die Straat van Gibraltar kon vaar. Dürer het toe sy tekening met enkelhoring en gepunte mond, gebaseer op ’n beskrywing van juis die Indiese renoster. Dit is ook dié een wat op die Chinese medisyneman se inkopielys is.

Hierdie breed uitgewerkte prosa-verhaal, ofte wel roman, word eerstens as outofiksie beskryf omdat baie dele van die roman gebaseer is op ervarings wat die skrywer self meegemaak het. 

Venter self beskou Decima as ’n versnit van outofiksie, fiksie, fabel (waarin diere die vermoë het om te praat) en ’n diep nagevorsde niefiksie. Die skrywer verleen boonop ’n ekologiese perspektief aan die teks deur die mens se verhouding tot sy fisiese omgewing krities te ondersoek. Die delikate balans tussen die mens en die omgewing word ’n toenemende motief in Decima.

Die karakter Decima is geskoei op ware verhale van renosterstropery om die voortdurende stryd in die bewaring van skaars spesies te belig.

Verder het die roman ’n omgewingsmotief wat lesers wêreldwyd aanspreek. In die roman kom fyn waarneming en nog fyner beskrywings soos in Venter se ander romans sterk na vore. Veral op ’n taalvlak is dit ’n boeiende roman, omdat die outeur se Afrikaans ook ’n soort bewaringsaksie word soos deur die benaming van “al my geliefde bossies van die Groot-Karoo”.  

“Bababoutjies en lammerlat, boesmankers en vêrpis, kwaaiman en ghaap, dawidjiewortel, beeskloutjie en brakslaai en spinnekopbolletjies en haasballetjies, onsegbaar in enige ander taal, name verewig in hulle wortels, hulle lattakke en saaddoppe.” 

Die verhaal speel op verskeie plekke af: Die Groot Visrivierpark, die Oos-Kaap, Hazyview, die Nasionale Krugerwildtuin, Hongkong en vele ander plekke.

Venter benadruk in vele onderhoude dat Decima nie as ’n roman oor wildstropery gelees moet word waarin die renoster bloot ’n hulpelose slagoffer is nie, maar veel eerder as ’n soort ode aan die swartrenoster as gevoelvolle wese. 

“Die renoster as gevoelvolle wese memoriseer, dra kennis oor, druk emosies uit op ’n renostermanier en maak dwarsdeur hulle lewe so.”

Die hele kwessie van navorsing en etniese kwessies word subtiel aangespreek. Wat mag ’n navorser in ’n studie weergee? Wat mag uit ander dagboeke of vertellings “oorgeneem” word in ’n roman? Daarom is die lang lys van erkennings so opvallend aan die einde van die roman. 


KARAKTERS

Die roman bevat ’n volledige mengsel van verskillende stemme of karakters. 

Daar is karakters in die boek wat die diere respekteer. Daar is ander wat die diere wil gebruik vir hul eie doeleindes. Hulle het ’n totale onbegrip vir wat hierdie diere in hul omgewing beteken. Daar is mense wat net gewoon niks omgee vir die voortbestaan van die swartrenoster nie. Elke karakter kyk deur die lens van sy eie lewe na die renoster.

Die rolspelers in die stropingsbedryf word stelselmatig blootgelê: Die verhaal word beurtelings vanuit die perspektief van die verskillende karakters vertel m.a.w elkeen van die rolspelers tree afwisselend as

vertellers op. So speel Venter met die tradisionele romanvorm.

Die Australiese navorsers Roslyn Lung en Leigh Biggs voer onderhoude met twee praktisyns van tradisionele Chinese medisyne (TCM) oor die gebruike van renosterhoring. 

Die navorsers stel uiteindelik vas dat wilde renosterhoring gebruik word om uitermatige hoë koors te breek of bloeding te stop. Die mite dat renosterhoring medisinale waarde het, is ’n siening wat uit ’n antieke Chinese gids, Materia Medica, kom. Die praktisyns raak geïrriteerd met die navorsers se vrae, vervloek hulle en jaag hulle weg.

Die wildbewaarder Ziyanda Nelson is ’n veldwagter in die Groot Visrivierpark. Sy is diep besorg oor die renoster en die stropers wat jag maak op haar. Sy ontwikkel ’n band met Decima en voer haar snoephappies. Decima laat haar sowaar toe om haar te vertroetel!

Sy onderrig kinders in die omgewing van die park in die bewaring van die swartrenoster en beleef intense innerlike konflik oor die toekoms van mens en dier. Sy verteenwoordig die goeie mense.


STROPERS EN STROPERY

Die oes van renosterhoring word as grondmotief vir die stroping van veral die swartrenoster voorgehou. 

Die swartrenoster is die mees gesogte spesie om te stroop vir sy “wildehoring, ’n horing waaraan rou vel en grond en ou bloed nog kleef aan die rande”. 

Die stropers en hul kliënte het agter hulle ’n hele ketting van mense. Die stropers is Athule Bomvana en Frankie van der Merwe wat hulle voorberei vir ’n stropingsgeleentheid. Hulle leer mekaar ken en ontwikkel ’n band. Verder ontdek hulle dat die oes van renosterhoring ’n hoogs gespesialiseerde bedryf is en uit vyf vlakke bestaan. Hulle is die stropers (vlak 1); vlak twee is die persoon wat die “hardeware” (’n byl, ’n saag en ’n AK47) organiseer en die koördinate aan die stropers verskaf; vlak drie (die “kingpin”) word beskryf as die persoon wat nie by die aksie betrokke is nie, maar bloot die lewering van die horing inwag; vlak vier is die persoon wat die horing in Hongkong moet kry, die Chinese diplomaat; vlak vyf is die persoon, die tradisionele medisyneman, wat die horings koop en die siek vrou daarmee sal behandel volgens die 16de eeuse Chinese geskrif Materia Medica. 

Deur Venter se veelseggende dialoog, kry al die stropers lewe en word hulle skimagtige verpersoonlikings van die bose.

Maureen Venter, Venter se ma bly in die Paradys-aftreeoord in Jeffreysbaai, in die Oos-Kaap, waar hy met tye gedurende sy navorsing vir dié boek bly. Dit roep herinneringe op aan hoe sy verhouding met haar gevorm is deur sy grootwordjare op ’n Oos-Kaapse plaas, ook hoe veilig en geliefd sy hom as klein kind laat voel het. 

Hoe diep die verbintenis met en die liefde vir sy ma ook al is, voel hy dat dié herinneringe bevlek is deur die geskiedenis van “overpowering” en ongelykheid wat hulle bestaan onderlê het. Dié skuldgevoel is ’n gegewe wat hom deurlopend volg en hy probeer dit nooit ontwyk nie.

Die bejaarde ma het ook die ouer Afrikaans gepraat. Die moontlike verlies van sy ma en die taal wat hulle gepraat het, is vir hom ewe vreesaanjaend as die uitwissing van die renosterspesie.

Die aangrypende beskrywing van Maureen se dood, tweedehands, omdat Venter, ten tyde van haar dood nie in Suid-Afrika was nie, spreek van intense meelewing en foltering. 

Uiteindelik word die moeder Maureen en Decima die swartrenoster teenspelers van mekaar. Beide moeders wat sterf, hoe hulle van hul waardigheid gestroop word en die dood wat dan op die ou end die groot stroper is.


DIE EK-VERTELLER

Die ek-verteller, Venter die skrywer, neem dit op hom om navorsing te doen oor die stroping van renosters. 

Venter se navorsingsverhaal, sy verhouding met en afsterwe van sy ma én die verhaal van die fiktiewe Decima gaan hand aan hand. Hy besef verlies is deel van die menslike bestaan. Dit is ten diepste ’n verhaal van liefde en verlies. 


DECIMA

Die belangrikste karakter bly vir my steeds die swartrenosterkoei Decima. 

Venter beeld haar uit as ’n gevoelige wese met die vermoë om te onthou hoe haar ma doodgemaak is deur stropers en die trauma van daardie ervaring in herinnering te roep.

Die verhaal van Decima is volgens Venter ’n elegie of treurlied aan ’n oermoeder. Dit is nie ’n misdaadverhaal oor renosterstropery nie. Venter hoop om met Decima se verhaal mense te oorreed om diere as gevoelvolle wesens raak te sien.

Dít is die ware “magic” wat hierdie roman onderskei van enige ander ekofiksie. Decima as ’n realiteit, is vertel vir ’n mensegehoor. Haar bewus wees van haar omgewing, haar vermoë om inligting bymekaar te maak deur reuke op te tel in die briesie of die mis van ander renosters en die son wat verskuif en die siklusse van die maan, ontbloot haar ryk innerlike bestaan.


SPANNINGSELEMENT

Die naderende volmaan dien voorts as deurlopende en saambindende spanningselement. 

Soos die maan voller word, word Decima al hoe banger. Sy weet die grootste bedreiging van haar spesie is dié van die mens en die volmaan gee haar nêrens plek om weg te kruip nie.

Dierestudies as subkategorie van ekokritiek word deur die roman betrek en beklemtoon die wending in letterkunde waarvolgens diere as “embodied souls” bestempel word. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer