The Movie Guy: Spioene en Ohana

Barry de Klerk
Ek het die afgelope week twee rolprente gekyk wat baie verskillend is, maar albei het dieselfde boodskap – familie.

Mission: Impossible – The Final Reckoning (MI8) en Lilo & Stitch draai tans in rolprentteaters en ek dink die twee flieks gee almal die geleentheid vir ’n heerlike uitstappie. Ek kan met alle eerlikheid s? beide films is die moeite werd om te kyk. Ek het sommer albei vier uit vyf sterre gegee.

Kom ons gesels eers oor die nuwe Mission: Impossible.

Tom Cruise s? dit is die laaste keer wat ons sy Ethan Hunt-karakter op die silwerdoek gaan sien, maar ek glo dit nie. In MI8 moet Ethan Hunt en sy span vir oulaas probeer om die wêreld te red, maar dié keer is dit rêrig amper onmoontlik. Die span het net ’n paar dae om ’n kunsmatige intelligensie (AI)-virus te keer.

Ek was nog altyd ’n Mission: Impossible-aanhanger en ek glo die fliek sluit die storie goed af. Dit is wel nie die beste fliek in die reeks nie, die storie is maar voorspelbaar en ek voel daar was beter maniere om die karakters te groet. Ek het ook gehoop karakters van die vorige flieks sal dalk hul verskyning maak, maar dit het toe nie gebeur nie.

Wat ek wel gaan sê, is dat van die nuwe akteurs ’n groot impak op my gemaak het en ek sal nie omgee om meer van hulle te sien nie. Weer eens is Tom Cruise se toertjies die hoogtepunt van die fliek. Hy het van die een vliegtuig na ’n ander gespring terwyl hy oor Suid-Afrikaanse landskappe vlieg.

Vadersdag is om die draai, so dalk kan pa so drie ure vir homself neem om MI8 te gaan kyk. Die res van die gesin kan dan deur Disney se nuwe fliek betower word. Lilo & Stitch is weer eens een van Disney se maniere om geld uit nostalgie te maak, maar dié keer gee ek nie om nie.

In plaas daarvan om ’n ou storie oor te vertel, gee hulle vir ons ’n hele nuwe verhaal wat op sy eie bene kan staan. As jy ’n aanhanger van die oorspronklike rolprent was, dan sal jy beslis dié een ook waardeer.

Ek moet sê ek was bietjie skepties toe ek die teater ingaan, maar ek het met ’n glimlag uitgestap.

Die fliek se tema van Ohana – ofte wel familie – is nogal baie hartroerend en ek dink ek het ’n paar trane in die teater sien rol.

Dis snaaks en Maia Kealoha, wat die rol van Lilo vertolk, sal almal se harte steel. Ek weet dat aanhangers van die oorspronklike film nie gelukkig is oor sekere karakters wat uitgelaat is nie, maar om hierdie spesifieke storie te vertel, was dit die beste besluit.

Ek dink van al die ou Disney-rolprente wat tot dusver herverwerk is, is Lilo & Stitch een van die bestes of dalk die beste. Ouers en kinders kan dit saam geniet, so dit is perfek vir ’n gesinsuitstappie. Ek kon nie genoeg van Stitch kry nie, ek dink ons almal het ’n bietjie meer van hom in ons lewens nodig.

Die twee rolprente was tot dusver baie suksesvol en dit bring my by nog goeie nuus – die rolprente wat die komende naweek in teaters draai.

Eerstens aan die beurt is Karate Kid: Legends met Jackie Chan en Ralph Macchio. As jy ’n aanhanger van die eerste fliek of Netflix se Cobra Kai is, dan kan jy nie die een misloop nie. Dit het dalk nie die vonk van die oorspronklike reeks nie, maar dis ’n teaterkaartjie werd.

Tweedens is daar ’n nuwe aksiekomedie, Guns Up, met Kevin James uit.

Volg my op Instagram of TikTok vir meer film, TV, en popkultuur insae.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer