Steenkamp is beskermvrou van meer as woorde

Francoise Steynberg

Afrikaans as ’n taal is deel van die mosaïek van Namibiese kultuur. 

Dit is die woorde van die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, wat Saterdag as die beskermvrou van die FNB Windhoek Woordfees aangewys is. 

Sy en haar dogter, Janine Cloete, het die vertoning van Vrou, Vrouer, Vrouste van die sanger en liedjieskrywer Petronel Baard en kunstenaar en woordsmid Lidi de Waal by Droombos buite Windhoek bygewoon.  

Die voorsitter van die komitee van die FNB Windhoek Woordfees, Elizma Theron, sê hierdie rol is nie aan Steenkamp se titel geheg nie, maar is aan haar persoonlik toegeken.

“Hierdie gaan nie vir ons oor ’n titel nie, dit gaan oor menswees en die mens wat Sanet is,” het Theron gesê.

Dit was die nuusredakteur van Republikein, Henriette Lamprecht, se briljante idee om Steenkamp as beskermvrou van hierdie gewilde kultuurfees aan te wys.

Die minister het benadruk Afrikaans is haar moedertaal.

“Afrikaans is deel van Namibië se kulturele mosaïek – een stem tussen baie, maar ’n stem wat verdien om met trots, nederigheid en vrygewigheid gevier te word.”

Sy sê dit is die taal waarin sy doom, lag, bid, huil en die wêreld leer ken het. 

“Elke taal dra sy eie skat van herinneringe, wysheid en kultuur. Afrikaans is vir my ’n kosbare erfenis wat trots koester en aan die volgende geslag oorgedra word,” het sy gesê.

Steenkamp het beklemtoon dat taal meer as woorde is. 

“Dit is emosie, dit is identiteit, dit is die stories wat ons vertel, die musiek wat ons raak, die gedigte wat ons troos en die teater wat ons laat lag, dink, soms laat huil.”

Oor haar moedertaal sê sy: “Mag ons aanhou om Afrikaans lief te hê, ons kunstenaars te ondersteun, ons jongmense aan te moedig om te lees, te skryf, te sing, te speel en hul stories te vertel.

“’n Taal leef werklik net wanneer dit met liefde gepraat, met moed geskryf, met vreugde besing en met oop harte gedeel word.” 

Oor Vrou, Vrouer, Vrouste het Steenkamp gesê die produksie benadruk die krag van vrouwees.

“Vroue dra nie net gesinne of staan gevestig in hul beroepe nie; ons dra ook die herinneringe, tradisies, geloof, warmte en natuurlik liefde.

“Die krag van ’n vrou is om gemeenskappe te vorm en ons toekoms van ons land te bou.”

Die minister het erkenning gegee aan die medestigter van die Windhoek Woordfees, dr. Chrisna Beuke-Muir, wat in haar studentejare haar lektor in Afrikaans was. Beuke-Muir het saam met die voormalige nuusredakteur van Republikein, wyle Ronelle Rademeyer, in 2013 die Windhoek Woordfees gestig. 

Mag die FNB Windhoek Woordfees nog vir baie jare mense byeenbring en ons harte, gedagtes en verbeelding verryk, is Steenkamp se wens as beskermvrou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer