Skorpio met ’n -k

Die kersie op die koek
’n Moord, ’n teregstelling, twee ontploffings, nog ’n moord en wat samewerking vanaf die regering betref, net geslote deure. 
Henriëtte van Wyk

Henriëtte van Wyk – Die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer Deon Meyer se jongste boek Skorpio is op 31 Oktober 2025 deur Human & Rousseau uitgegee en was binne twee weke die topverkoper van Afrikaanse fiksie. 

Dit wil voorkom asof dit dieselfde pad gaan loop as Leo, sy vorige boek wat ook binne tien weke die topverkoper in Afrikaanse fiksie was en daarna die toekennings en pryse laat inrol het.

“He’s up there with the best in the world,” verklaar Marcel Berlins van The Times. Meyer self erken: “Dis die moeilikste boek wat ek nog geskryf het.” (Netwerk24, 19 November 2025.)

“Meyer het geen bekendstelling nodig nie – 15 spanningsromans, twee bundels kortverhale, ’n novelle en ’n draaiboekversameling. ’n Magdom van sy boeke is al verfilm. Pryse wat aan hom toegeken is, is nog meer. Hy het vir almal gewys wat moontlik is, en Skorpio wys hoe almal nog luister as hy praat,” aldus Stefaans Coetzee, op 11 November 2025 in sy LitNet-resensie, Moordsake met die meesters. 

“In 2025 het ’n magdom goeie spanningsliteratuur verskyn; Skorpio is die kersie op die koek,” die woorde waarmee Coetzee sy resensie afsluit.

Minimalisties opgesom verloop Skorpio so: ’n moord, ’n teregstelling, twee ontploffings, nog ’n moord en wat samewerking vanaf die regering betref, net geslote deure. 

Overgesetsynde: ’n oënskynlike selfmoordsaak wat deur kaptein Bennie Griessel asook brandstigtingsgevalle wat deur kaptein Vaughn Cupido ondersoek word, ontplof in ’n sensitiewe internasionale aangeleentheid. Die verhaal ontvou met rasse skrede wanneer daar ontdek word die teikenfiguur gaan nie tydens die BRICS-beraad in Stellenbosch vermoor word nie, maar op die luukse plaas van ’n voormalige KGB-lid.

Aldus Meyer in ’n video-onderhoud op 10 Desember 2025 met Christa Steyn-Bezuidenhout van Maroela Media, is hy nie goed met die kies van titels nie, maar sukkel om met ’n boek aan te gaan as hy nie ’n titel het nie.

Tydens sy soeke in 2024 na ’n titel vir Leo, het hy besluit om ’n drie-luik te skryf met die sterretekens as titels.

Die sterreteken Scorpio het Meyer aan die Skerpioene, ’n eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, laat dink en het hy die feit dat ’n skerpioen oor sy rug heen met sy angel kan toeslaan later as ’n nuttige element in die storie gebruik.

Die Griekse mite naamlik dat Scorpio vir Orion, die groot jagter, dóódsteek asook die redakteur se voorstel, “Skorpio met ’n -k-”, was ’n onmiddellike skryfuitdaging aan Meyer. Volgens hom het daardie skorpio met ’n -k- “’n interessante en integrale invloed op die loop van die storie gehad”.

Sukseselemente van Meyer sluit in:

GENRE: Hy is ’n bekroonde skrywer van Afrikaanse spanningsverhale en misdaadfiksie. Verrassend is Meyer se kommentaar in die onderhoud met Christa Steyn-Bezuidenhout daarop: “Nee,” sê hy, “. . . ek probeer om ’n goeie, geloofwaardige stórie te skryf. My mikpunt is vermaak. Resensente en my redakteur moet maar besluit in watter genre die boek val.”

TAAL: Meyer skryf hoofsaaklik in Afrikaans, sy moedertaal, omdat hy dit makliker vind om die regte woorde te vind en sy lojale Afrikaanse leserspubliek te bedien, want hulle is sy eerste lesers. Maar die boeke sluit ook Engels, Xhosa en Zoeloe in wat in die vertalings behou word.

STORIEVERTELLING: Meyer word beskryf as ’n meesterstorieverteller wat ingewikkelde, veelvuldige storielyne en sub-intriges behendig saamsnoer wat lesers op die punt van hul stoele hou. Die pas is dikwels vinnig en aksiebelaai.

KARAKTERONTWIKKELING: Sy karakters, soos die ikoniese speurder Bennie Griessel en Vaughn Cupido, is menslik en geloofwaardig, met hul eie interne konflikte soos Bennie se stryd met alkohol en Vaughn se gewig of persoonlike verhoudings.

LIGGING EN MILIEU: Suid-Afrika is ’n integrale deel van sy boeke. Hy gebruik werklike Suid-Afrikaanse nuusgebeure en sosiale kwessies, soos korrupsie en misdaad, as agtergrond vir sy fiksie, wat sy stories ’n outentieke en aardse gevoel gee. Hy doen uitgebreide navorsing om feite en fiksie te balanseer.

FILMIESE KWALITEIT: As ’n ervare draaiboekskrywer vir televisie en film, het sy boeke dikwels ’n hoogs “filmiese”  kwaliteit, met presiese tydsberekening en duidelike tonele. 

Lesers en kritici beskou Skorpio as ’n hoogtepunt in sy werk.

* Henriëtte van Wyk lei die KRIT-boekbespreking van Skorpio op Dinsdag 17 Februarie 2026 om 18:30 by die Windhoek-Oos NG Kerk by te woon. Die toegangsfooi is N$50.

 

PRYSE EN TOEKENNINGS

Blake Friedmann reken die vertaalde uitgawes van Skorpio (vertaal deur K.L. Seegers) lei ’n nuwe hoofstuk vir Deon Meyer in – vertaalde uitgawes soos uitgegee deur Pan Macmillan in die Verenigde Koninkryk, Grove Atlantic in Amerika en Kanada, Aufbau in Duitsland, en A.W Bruna in Nederland.

Deon Meyer se boeke word reeds in 40 lande wêreldwyd verkoop. So het hy dan ook wêreldwyd toekennings ontvang: die Deutsche Krimi in Duitsland, ATKV-pryse in Suid-Afrika, die Martin Beck Toekenning in Swede en Le Grand Prix de Littérature Policière en Le Prix Mystère de la Critique in Frankryk. Cobra was op die kortlys vir die 2015 CWA International Dagger, Thirteen Hours ook op die kortlys vir 2010 CWA International Dagger. 

Heart of the Hunter is uiteindelik aangewys as een van Chicago Tribune se 10 beste Mysteries and Thrillers van 2004. The Dark Flood is genomineer vir 2023 CWA Dagger vir vertaalde misdaadfiksie.

Tydens die Suid-Afrikaanse Boeketoekennings in 2024 is Leo uiteindelik as Beste Volwasse Fiksie asook Boek van die Jaar aangewys. Met Leo ontvang Meyer ook ’n ATKV-Woordveertjie toekenning: Beste Afrikaanse Spanningsverhaal. 

Ook in die rolprentbedryf behaal Deon Meyer groot sukses met sy stories. Blake Friedman lig dit as volg uit:

“In April 2024, Heart of the Hunter topped the global Netflix film charts, becoming the first African film to do so, with over 11 million views in its first two days alone. Devil’s Peak was also adapted for a miniseries by Lookout Point and Expanded Media Productions, premiering on M-Net in South Africa in 2023 before reaching international audiences. In 2020, Trackers, produced by Three River Fiction and Scene 23, aired on Sky Atlantic in the UK and HBO in the USA, as well as Australia and New Zealand, and across the Nordic countries and Europe. His latest adaptation, The Invisible (from the novel Blood Safari), starring Abbie Cornish and Dougray Scott is currently in production through M-Net, Scene23, Berkeley Media Group (BMG), and ITV Studios.”

Kommentaar

Republikein 2026-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer