Shap-shap Mieliepap!
Die Oshana Afrikaanse fees is vanjaar vir die tweede keer op Ongwediva aangebied met die doel om Afrikaans as taal onder jong leerlinge en ouers te bevorder, terwyl die ryk kultuur ook gevier word.
Tradisionele geregte, spreekkore, poësie, drama, kletsrym, volkspele, speletjies en kompetisies is alles tydens die fees ingespan om die ryk kultuur van die taal te deel en in die streek te bevorder. Vanjaar se fees, wat deur die Ondangwa Prof Primêre Skool by die Ondangwa-handelsentrum aangebied is, het aan leerlinge die geleentheid gebied om taalkundige diversiteit te vier, selfvertroue te bou en kulturele begrip in ’n opvoedkundige omgewing te versterk.
Skole wat deelgeneem het en Afrikaans as vak aanbied, sluit in Kleine Kuppe Privaatskool, Lighthouse Akademie, Cabatana Privaatskool, Erundu Primêre en Sekondêre Skool, Oshakati Privaatskool, TNAP, Liberty Heritage, Evululuko Skool en Genuine Privaatskool.
Die kompetisiewenners was Ondangwa Prof Primêre Skool (volkspele, koor, poësie, kletsrym en spreekkoor), Cabatana Privaatskool (drama) en Erundu Sekondêre Skool (solosang en tradisionele danse).
Spur en sy gelukbringers was ook deel van die feesvieringe en het koopbewyse en geskenkies geborg.
Die Afrikaanse fees het weer eens die merkwaardige talent, toewyding en spanwerk van leerlinge en onderwysers gewys, sê Nicolene Enslin, skoolhoof van Ondangwa Prof Primêre Skool.
“Ouers en ondersteuners het ’n belangrike rol gespeel om deelnemers aan te moedig en die geleentheid ’n onvergeetlike viering van uitnemendheid in Afrikaanse onderwys en die uitvoering van die kunste te maak,” sê sy trots. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie