Schott en Ndilula pak komedie aan

Irene-Mari van Der Walt

Irene-Mari van der Walt – Meer as tien jaar nadat die filmregisseur Florian Schott en die dramaturg Ndinomholo Ndilula begin het om ’n draaiboek vir hul eerste komediefilm te konseptualiseer, het die vroeë produksiefases vir African Relativity vanjaar afgeskop.

In ’n gesprek met Kletskompas het Schott gesê die oorspronklike idee vir die film het sowat ’n dekade gelede ontstaan ​, maar – nadat dit lank stof opgegaar het – eers die afgelope jaar weer momentum opgetel het.

Volgens hom is African Relativity ’n samevatting van die eienaardighede en teenstrydighede van ’n eg Namibiese identiteit, wat met breër internasionale komediese invloede verweef is.

“Vir ons het dit werklik gegaan oor al daardie eienaardighede van die Namibiese samelewing.

“Dit gaan oor al die dinge wat ons in onsself, ons gesinne en vriendekringe herken en om dit met internasionale elemente te vermeng – beide fisiese en verbale komedie,” het Schott gesê.

Hy verduidelik dat daar van die akteurs – wat gekies is ná ’n ope oudisie wat meer as 200 aansoeke gelok het, gevolg deur ’n tradisionele oudisieproses – nie bloot verwag word om die draaiboek op te sê nie, maar dat hulle die kreatiewe ruimte het om dit hul eie te maak.

“Die gebruik van die omgangstaal is vir ons baie belangrik, maar nie in die sin dat dit as voorbeeld van enigiets moet dien nie, maar eerder dat dit natuurlik moet voel.

“Ek dink vir my, juis omdat ek nie oorspronklik van Namibië af kom nie, gaan dit regtig oor vertroue in die akteurs. 

“Ons het dit ook tydens die oefeninge en die oudisies gedoen, waar ons op soek was na mense wat maklik tussen Afrikaans en Engels kon wissel op ’n manier wat natuurlik sou voel. . .

“Vir my gaan dit baie oor vertroue en dit is ook waarom die rolverdeling so lank neem. Ek kies mense wat nie net akteurs gaan wees wat doen wat ek wil hê nie, maar wat as medewerkers aan hierdie rolprent sal optree.

“Ek dink dis hoe ons die mees realistiese en snaaksste uitkoms sal kry,” sê Schott.

Hy verduidelik ook dat sy eerste komediefilm unieke uitdagings vir hom inhou.

“Dis ’n plesier om aan hierdie film te werk. Die oudisieproses en die skryfwerk is so lekker dat jy wonder hoekom ons ooit nog dramas maak,” skerts Schott.

“Op die ou einde dink ek die grootste uitdaging is om objektief te bly. Natuurlik, as jy dieselfde grappie oor en oor hoor, is dit nie meer snaaks nie. 

“In ’n stadium ken jy die slotreël van ’n grap of die verloop van ’n situasie so goed dat dit jou nie meer verras nie en, natuurlik, steun komedie en humor in ’n groot mate op die element van verrassing.

“Ek dink die belangrikste aspek vir ons tydens die skryfproses was om die materiaal voortdurend met ander te deel. 

“In ’n stadium verloor jy jou objektiwiteit en is jy nie meer die beste klankbord vir nuwe idees nie. 

“Om die materiaal vir ander te wys, help jou om te besef wat goed werk of dat ’n spesifieke grap dalk nog bietjie werk verg. Maar in die geheel is dit ’n baie aangename proses vir ons,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer