Die Ierse sanger Ronan Keating, wat in Maart twee konserte in Suid-Afrika aanbied. Foto Netwerk24
Die Ierse sanger Ronan Keating, wat in Maart twee konserte in Suid-Afrika aanbied. Foto Netwerk24

Ronan Keating in Maart in SA

Yandi Du Plessis
Die Ierse sanger Ronan Keating (45) kom in Maart na Suid-Afrika vir ’n blitstoer.

Dié ster, bekend om treffers soos “When You Say Nothing at All” en “Life Is a Rollercoaster”, se eerste konsert is in die Kirstenbosch Botaniese Tuin, Kaapstad, en daarna is hy op die verhoog in die SunBet-arena in Pretoria.

Keating was in 1993 lid van die Ierse groep Boyzone. Hy het in 2000 met ’n sololoopbaan begin met die genoemde treffers wat gou op die gewildheidslys geklim het. Ná sy eerste treffer-album, Ronan Keating, het die album Destination gevolg, wat die treffer “If Tomorrow Never Comes” insluit. Die album was ’n topverkoper in 2002. Hy het ook in dié jaar ’n toer in Suid-Afrika aangebied.

As solokunstenaar en as lid van Boyzone het Keating wêreldwyd meer as 45 miljoen albums verkoop.

Hy tree op 3 Maart om 19:00 in Kirstenbosch op. Die hekke open om 18:00. Kaartjies kos R645. Daar is ook bykomende kaartjiegeld te betaal.

Op Sondag 5 Maart is hy in Pretoria. Die arena open om 16:00 en die konsert begin om 17:00. Kaartjiepryse wissel van R345 tot R1 195. Bykomende kaartjiegeld is betaalbaar. Kaartjies kan gekoop word by Webtickets.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-06-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer