Rolprent- en kassietreffers dié Maart

Barry de Klerk

Januarie en Februarie het ’n paar goeie flieks opgelewer, maar ek dink die bioskoop gaan eers regtig in Maart momentum kry.

Maart kan gesien word as die maand wat die lokettrefferseisoen inlui en daarom word sommige van die groter flieks van die jaar in dié maand vrygestel. Nie net kom daar goeie rolprente uit nie, maar daar is ook ’n paar uitstekende televisiereekse wat hul debuut maak.

Ek het wyd en syd gesoek sodat ek vir jou kan vertel waarna jy kan uitsien. Hierdie lys is nie in chronologiese volgorde nie, maar is eerder gebaseer op wat ek dink die grootste vrystellings is en wat ek glo die meeste mense sal kyk. Ek dink dit maak ook sin om te begin met ’n fliek waarna ek regtig uitsien, Project Hail Mary.


1. PROJECT HAIL MARY

Ryan Gosling speel die hoofrol, wat my reeds baie opgewonde maak. Die fliek is gebaseer op ’n roman deur Andy Weir. Gosling vertolk die rol van ’n wetenskaponderwyser, Ryland Grace, wat op ’n ruimteskip wakker word en aan geheueverlies ly. Soos sy geheue stadig terugkeer, besef hy dat hy die raaisel agter ’n geheimsinnige stof wat veroorsaak dat die son besig is om dood te gaan, moet ontrafel. Dit lyk of dit die perfekte wetenskapsfiksiefliek gaan wees om die jaar mee af te skop. Dit begin op 20 Maart in rolprentteaters draai.


2. HOPPERS

Ek het dit reeds gekyk, en al wat ek kan sê is dat dit baie kinders en gesinne gelukkig gaan maak. Dit voel vars, maar ook ’n bietjie bekend. Piper Curda vertolk die rol van Mabel, ’n jong meisie wat nuwe tegnologie gebruik om geheime van die diereryk te ontdek wat ver bo haar verwagtinge is. Die fliek word amptelik op 6 Maart vrygestel.


3. READY OR NOT 2: HERE I COME

Dié gruwelreeks brei uiteindelik uit en ek is baie opgewonde om te sien wat hulle volgende gaan doen. Samara Weaving keer terug as Grace, saam met Kathryn Newton as haar suster, Faith. Grace besef sy het die volgende vlak van die nagmerrie-speletjie bereik en sy moet weer eens probeer oorleef. Dit begin op 20 Maart in rolprentteaters draai.


4. ONE PIECE – Seisoen 2

One Piece is waarskynlik die grootste reeks wat terugkeer. Die Straw Hat Pirates pak nuwe avonture in dié seisoen aan terwyl hulle nuwe en ou vyande teëkom. Netflix het ’n reusetreffer op hul hande met hierdie reeks, en die feit dat dit in Kaapstad verfilm is, maak dit nog meer spesiaal. Ek is ook genooi om die Kaapstad-première op 8 Maart by te woon. Die reeks word op 10 Maart op Netflix vrygestel.


5. INVINCIBLE – Seisoen 4

Mark Grayson en die ander helde uit die Invincible-heelal keer op 18 Maart terug. Dit is een van die beste volwasse animasiereekse en dalk selfs die beste superheldreeks tans op televisie. Ek is net bly dit het Amazon nie jare geneem om hierdie nuwe seisoen vir ons te bring nie.


6. TED – Seisoen 2

Ek weet Ted is nie vir almal nie, en moet asseblief nie jou kinders dit laat kyk nie. Ek is ’n aanhanger van Seth MacFarlane en ek dink die Ted-televisiereeks is die beste ding wat hy in jare gedoen het. Dit sal lekker wees om te sien wat Ted en John volgende aanvang. Die reeks sal op 18 Maart op Showmax beskikbaar wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer