Piet se jongste roman boei

Die reus uit die bos
Wees gewaarsku: Wanneer 'n mens begin lees, kan jy die boek nie neersit nie.
Joan Hambidge

Die Namibiese skrywer, Piet van Rooyen se jongste roman, Die reus uit die bos' is ’n boek wat jy nie kan neersit as jy dit eers begin lees het nie.

Piet van Rooyen is die skrywer van twee uitstekende romantekste. Die spoorsnyer, wat in 1994 die Tafelberg/De Kat/Sanlamprys verower het, en Die olifantjagters, wat die M-Net-prys in 1998 losgeslaan het. Hy is ’n digter wat bundels soos Draak op die erf (1973). Rondom ’n boorvuur (1983) en Kwansuis (2008) gepubliseer het.

So klink ’n gedig van hom:


malman

een namiddag betrap ek onverwags

’n vreemde wese by my waterkrip

met baard en wilde wenkbroue

dis wrintiewaar die grotman self

hy steek met hande-viervoet vas

maar glimlag tog met breë tande

dieselfde aand hoor ek hom hard

uit die bek van sy hol spelonk

op god en op die geeste skree

die gekheid van die malles

verskrik my nie die minste nie

dis om die absoluut-gesondes

die sogenaamd-normales


Die gedig is ’n sleutel vir sy jongste boek.

Om sy jongste roman, Die reus uit die bos, te probeer tipeer, is werklik onmoontlik. ’n Teks oor primordialiteit en paranoia. ’n Soort versoening tussen Arthur Conan Doyle en Alfred Hitchcock. Dalk ook ’n tydsdokument.

Op ’n uiters behendige manier word die spanning tussen jagters en gejagtes verbeeld, die "skemerwêreld tussen weet en niksweet".

Van die reise van Odusseus tot Moby Dick is hier aanwesig. ’n Teks oor die Goeie en die Bose. Die soektog sluit alles in van Polufemos se klip voor sy stinkende grotbek tot die klip wat die Romeinse offisiere voor Christus se graf geplaas het. Tot by die moderne arena van videospeletjies waar mense verskillende identiteite kan aanneem en die gevare van die internet waar ’n identiteit gekaap kan word.

Daar is ook werklike jagtogte met vriende: "Nou gaan jag hulle een maal ’n jaar saam in die Kalahari, gewoonlik in die Van Zylsrus-omgewing, naby die Kalahari Gemsbokpark" (bl. 10), teenoor verbeelde, sielkundige jagtogte.

Die roman aktiveer eweneens die geweld van ons moderne samelewing met huurmoorde en gewetenloosheid, wat ’n alledaagse verskynsel geword het. Van rekenaardatabasisse tot die dier by die Rashtrapati Bhavan-paleis wat verdwyn. Hindustan Times beskryf dit as ’n vierpotige wollerige vriend" en Times of India as ’n "katagtige wese". Mense het die gebeure alles op TV gevolg (bl. 121). Regdeur die roman word die werklikheid geplaas teenoor verbeelding.

Doepie, die argitek, is die waarnemer of fokalisator in hierdie verhaal. Hy dink: "Dit bewys net weer vir hom hoe onverklaarbaar sekere voorvalle selfs in die hedendaagse lewe kan wees en dat ’n mens moet wakker sit om elke moment wat om hom gebeur, raak te sien en teen voorsorg te tref." (bl. 121)

Ons beleef die verkragting van ’n vrou, die moord op ’n man, ’n kind wat vermink word. ellendes op ’n jagtog met terrorisme, ’n inbraak, die verwurging van ’n hondjie. besoeke aan toordokters en ontmoetings met mense van die nag - alles verbind aan die verskrikking in ’n park.

Ek wil nie as resensent leesplesier bederf nie. Wat gebeur, is onvermydelik. Ons lees van bakwetas en Swahili. Die stad - en veral Langstraat - is ’n belangrike ruimte van onrus en word helder beskryf.

Waar lê die onrus? Waarom is Doepie so gedrewe om daarby betrokke te raak?

Die opmerkings van Tia en Dawid is dalk ’n sleutel, soos die droom van sy vrou (bl. 11). Die begrip onderbewuste word gebruik. Die tarot word ’n handige gids vir die name wat verander met jagtersbyname: Theo (Doepie), Melt (Skutter), Sarel Visser (Slang) en Louis (Lupus) op ’n jaarlikse jagtog na die Kalahari. Louis se swartgalligheid is onaangenaam en hy drink te veel. En hier tref die ergste ellende Louis. (Lees maar self.)

In hoofstuk 15 word Raka ’n ander belangrike kode wanneer Petro eweneens gekonfronteer word met háár donker kant. Die sielkundige geweld spoel oor na die verminking van Estelle se kind, aangerand deur ’n ondier. Die oordrag van psigiese energie (via C.G. Jung) in die teks is verstommend. Veral die hoofstukke rondom Petro en Louis ruk aan die keel.

Op dieselfde tyd wat hierdie leser die roman lees, word Francis Ford Coppola se The Conversation, ’n fliek uit 1974 waarin Gene Hackman as ene Harry Caul se lot as afluisteraar verbeeld word.

Omdat hy die woorde in die boodskap op die bande verkeerd interpreteer, is die moord nie op die twee dwalendes nie. Die baas wat aan hom die opdrag gegee het. sterf in ’n ongeluk.

Teen die einde van die rolprent verwoes Harry Caul sy hele woonstel omdat hy soek na die afluisterapparaat in sy woning. Hy wat so gesteld was op privaatheid, se hele binnelewe is ook vernietig.

Min skrywers vang ons tydgees so goed vas soos Piet van Rooyen in hierdie boek. Alles van ons tyd is hier aanwesig. Alfred Hitchcock sou volpunte gegee het en as hy nog gelewe het, dit waarskynlik wou verfilm het.

Wees gewaarsku: Wanneer ’n mens begin lees, kan jy die boek nie neersit nie.


• Piet van Rooyen is op Vryheid in KwaZulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1971 in Windhoek. Daarna voltooi hy sy studies aan die Universiteit Stellenbosch met ’n Ph.D in Ontwikkelingsbestuur. Kort voor Namibië se onafhanklikheid, keer hy en sy gesin terug na sy hartland. Hy huur ’n plaas in die Gobabis-distrik, waar hy begin boer voordat hy later sy eie grond koop. Hy aanvaar ’n vakante pos by die Ju/‘hoan Boesmanstigting naby Tsumkwe in die Otjizondjupastreek van Namibië. Hier ontmoet hy die filosoof, draadspanner en jagter /Ui Chapman, en deur Piet se persoonlike gesprekke met hom neem sy eerste roman, Die Spoorsnyer, vorm aan. Hy verwerf mettertyd verskeie toekennings met sy skryfwerk. Hy is tans afgetree as emeritus-professor aan die Universiteit van Namibië. Hy en sy vrou bly op hulle plaas naby die Gamsberg van Namibië. Pelgrims en bannelinge is welkom om te kom besoek aflê. Sy lewenstaak is om te skryf.


*Joan Hambidge is ’n senior navorser en genoot aan die Universiteit van Kaapstad. – Rapport


Kommentaar

Republikein 2026-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer