Peperkorrel se klipfluisteraar
Sy is broos en fyn en die meer as 80 jaar op Moeder Aarde het haar rug begin krom trek en haar lyf gevoelig gemaak vir die pyne wat ’n hoë ouderdom so dikwels verseker.
Haar arms is wyd oop wanneer sy groet en wanneer sy praat, weet en voel jy hier is ’n vrou wat in ’n dieper dimensie as ander leef, wat een en in pas met die natuur is, ’n klipfluisteraar.
Tydens ’n besoek aan die internasionaal bekende beeldhouer Dörte Benner se plaas Peperkorrel waar sy en haar man Volker al vir meer as vier dekades hul vastrapplek in Afrika gekry het, is haar versameling beelde orals oor die werf, in skure en in ateljees en op stoepe versprei.
By elke enkele een huiwer sy vir ’n wyle om te vertel van waar sy die klip of marmer sou kry om die storie te vorm wat haar hart haar vertel het. Peperkorrel se beelde is ’n onthou, ’n waarskuwing, ’n gebed en ’n tasbare ode aan ’n brose beeldhouer en merkwaardige vrou wat met hamer en beitel haar komvandaan en haar toekomsblik verewig het.
Sy het op ’n jong ouderdom reeds geweet sy wil ’n kunstenaar wees en dat sy klip as haar medium gaan gebruik om die prentjies in haar kop uit te beitel.
Dörte Wunsch het waar sy saam met haar familie in Hamburg-Bergedorf, Duitsland as vlugtelinge uit Pozna (vandag bekend as Pole) in Duitsland gebly het, gereeld verby die werkwinkel van ’n klipmesselaar geloop.
Op ’n dag vra die 14-jarige Dörte of sy een van die afvalstukke kan kry. Terug by haar ouerhuis begin sy met ’n hamer en ’n skroewedraaier aan die klip timmer en besef dit is wat sy wil doen – om beelde uit klip te skep.
Na ’n internskap in keramiek, bestudeer sy teken- en beeldhoukuns in Duitsland, Switserland en Amerika. Terug in Duitsland trou Dörte met die tekstielkunstenaar en fotograaf Volker Berner, met die paartjie wat in 1966 na Namibië emigreer. Dis hier, in die stilte en ongerepte skoonheid van die Namibiese platteland waar Dörte haar kreatiewe stem in beeldhouwerk vind, met haar werk waarvan sommige meer as 500 kg weeg, wat oor vier vastelande sorg vir internasionale erkenning en roem sorg.
Sy word telkens oor die betekenis van haar beelde gevra, het Dörte in ’n onderhoud erken. En al wat sy kan sê is dat “die medium wat ek vorm, klip is en nie woorde nie”.
Volgens haar konsentreer sy op oorsprong en verhoudings om die doel en betekenis van menslike optrede te onderskei en dit in beelde te omskep.
“Daar is ’n krag of energie waarvan ek bewus is en waarvan ek die werking verstaan, maar wat ek nie kan verduidelik nie. Klip is ’n simbool vir massa, stilte en die verbintenis tot die aarde,” verduidelik Dörte.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie