Oranjemund ontmoet in Windhoek

Kreatiewe platform
Drie kunstenaars deel van 'n maandlange inwonende program het die landskap as inspirasie in hul onderskeie werke as inspirasie gebruik.
Henriette Lamprecht
Foto’s, skilderye en keramiek, elk die produkte van ‘n maandlange inwonende program vir kunstenaars met die Oranjemund Kunssentrum as gasheer, maak volgende week hul buiging in Windhoek. Die OMDis Artists in Residence: 2025 Kunsuitstalling wat in Mei ook in Oranjemund te sien was, open Dinsdag by die Namibiese Kunsvereniging en spog met foto’s deur die lens van Hildegard Titus, skilderye deur Edeltraut Rath en keramiek deur Kevlyn Gowases, elk geïnspireer deur Oranjemund se unieke omgewing.

Hildegard Titus het gefokus op temas van vrouwees en mawees en die keuse om 'n ma te wees of nie. "Vrug van haar baarmoeder" - 'n verkennende projek wat deur film en fotografie gevorm word - delf in identiteit, vrugbaarheid en reproduktiewe regte.

Deur 'n stil, verkennende proses het sy oorweeg hoe sorg, verwagting en selfbeeld mekaar kruis. Haar residensiewerk neem vorm aan oor film, fotografie en installasie, en nooi kykers uit na 'n ruimte van beide introspeksie en dialoog.

Hildegard is 'n visuele kunstenaar, filmmaker, kurator en dekoloniale aktivis met haar tuiste in Windhoek. Haar interdissiplinêre werke handel oor temas van ras, geslag, kultuur en die omgewing en dikwels deur 'n persoonlike en kritiese lens.

Deur 'n stil, verkennende proses het sy oorweeg hoe sorg, verwagting en selfbeeld mekaar kruis. Tydens haar verblyf op Oranjemund het haar werk vorm met die hulp van film, fotografie en ook installasie aangeneem. Dit is ‘n uitnodiging na 'n ruimte van beide introspeksie en dialoog.

Edeltraut Rath is skilder gebaseer in Duitsland maar het ‘n lang verhouding en noue band met Namibië sedert 2000 wat steeds groei danksy voortgesette artistieke uitruiling en samewerking. Tydens haar maand op Oranjemund het Edeltraut die kruising van natuur en kleur deur ‘n eksperimentele lens ondersoek. Bekend vir haar gebruik van ondeursigtige akrielverf en fasadeverf, het sy werke geskep met ‘n deurskynende laag-op-laag-tegniek en die fokus op kleur. Haar gids was die uitsonderlike lig en teksture van Oranjemund se omgewing en haar inspirasie die woestynlandskappe, inheemse plante en die sagte kleuroorgange van die lug tydens sonsopkoms en sonsondergang.

Kevlyn Gowases is ‘n vaardige en verbeeldingryke keramiekkunstenaar wat in Windhoek woon en primêr handtegnieke gebruik om meestal abstrakte werke, maar soms ook funksionele werke te skep. Haar skeppings is bekend vir ingewikkelde detail, dinamiese teksture en die byvoeg van sterk, beeldhoutegnieke.

Danksy haar kennis van die verwerking van wilde klei, bring Kevlyn 'n sterk verbintenis met grond en materiaal in haar werk. Haar verblyf in Oranjemund was gebaseer op die verryking van die plaaslike gemeenskap met hul tuisgrond, en die verkenning van die terapeutiese potensiaal van werk met klei.

Tydens die opening Dinsdagaand om 18:00 sal die katalogus vir die uitstalling ook beskikbaar wees wat foto’s van al die werke van die kunstenaars bevat, asook skryfsels van die kunstenaars en die kurators.

Die Oranjemund Kunssentrum wat die gasheer van die inwonende program is, dien as ‘n dinamiese platform vir kreatiewe uitdrukking, ontwikkeling van vaardighede en kulturele uitreiking. Die sentrum wat in 2023 gestig is, was van 30 April tot 31 Mei Edeltraut, Hildegard en Kevlyn se tuiste en gedeelde ateljeeruimte. Die uitstalling kan tot 29 Augustus Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 17:00 besigtig word.

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer