Onvergeetlike avonture

Natuurverkenning met ’n doel
Die derde seisoen van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod neem kykers op adrenalienbelaaide avonture oraloor die wêreld.
Annemarie du Toit

Die bekroonde Suid-Afrikaanse aanbieder en filmmaker Bonné de Bod gebruik al 16 jaar lank die impak van televisie om mense nader aan die natuur te bring. 

Met die derde seisoen van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod op kykNET neem sy kykers op ’n reis vol verwondering, hoop en inspirerende bewaringsverhale.

Sy inspireer steeds kykers om met nuwe oë na die natuur te kyk. Van die Namibwoestyn se klein “superkrag-goggas” tot haaie in die Karibiese See, gebruik sy storievertelling om hoop, verwondering en die bewusmaking van bewaring na mense se sitkamers te bring.

Vir Bonné het dit alles met gesinsuitstappies na die Krugerwildtuin begin. Van kleins af het haar ouers en grootouers haar en haar susters aan die wonders van die natuur blootgestel – waar daar altyd gestop, gekyk, gepraat en geleer is.

“Dit is waar my passie en liefde vir die natuur gebore is,” vertel sy.

Hoewel sy nie ’n opgeleide bewaringswetenskaplike is nie, glo sy elke mens het ’n verantwoordelikheid om die aarde te beskerm.

“As jy ’n geloofsmens is, soos ek, dan is dit ’n opdrag van God om na die skepping om te sien.”

Dié passie het haar uiteindelik na televisie en dokumentêre filmvervaardiging gelei, waar sy die geleentheid gehad het om die natuur se verhale met miljoene mense te deel.

Sy sê sy het sy van jongs af geweet sy wil meer as net ’n toeskouer wees.

“Televisie en films het ’n groot invloed op die wêreld. Ons kan dit gebruik om mense die wonderskoonheid van die natuur te laat waardeer.”

Sestien jaar later is daardie missie steeds dieselfde. Wat sy hoop kykers uit die program put, is eenvoudig: Inspirasie en hoop.

“Daar is soveel slegte nuus waarmee ons daagliks gebombardeer word. Hierdie stories herinner ons dat daar steeds mense is wat elke dag opstaan om hierdie kosbare planeet te beskerm.”

Volgens haar onderskei die reeks hom van tradisionele natuurprogramme omdat dit nie net op wilde diere of plante fokus nie, maar ook op die mense wat hul lewens aan die natuur wy.

“Dit gaan oor merkwaardige individue wat ongelooflike werk vir ons wilde diere en wilde ruimtes doen. Jy kan nie help om deur hulle passie aangesteek te word nie.”

Die derde seisoen neem kykers op adrenalienbelaaide avonture oraloor die wêreld.

Van die sneeubedekte Sierra Nevada-berge in Noord-Amerika tot die troebel waters van die Knysna-riviermond en die kristalhelder Karibiese See – het die span gehardloop, geklim, skubaduik, kajak en selfs helikopterritte onderneem om buitengewone stories vas te vang.

Een ervaring staan egter bo al die ander uit.

“Sonder twyfel om saam met die haaifluisteraar [Cristina Zenato] te duik,” sê sy.

Dié episode fokus op ’n navorser wat met haar kaal hande vishoeke uit haaie se bekke verwyder. Vir Bonné was dit ’n byna geestelike ervaring om te sien hoe hierdie gevreesde roofdiere hulself aan ’n mens se genade toevertrou.

“Soms word ek sprakeloos gelaat en hierdie was een van daardie oomblikke.”

Die natuur het haar ook een belangrike les geleer: Geduld.

Of dit nou was om te wag vir sneeustorms in Noord-Amerika of orkane in die Karibiese gebied om verby te beweeg – die natuur bepaal uiteindelik die tempo.

“Die natuur dwing geduld af.”

’n Hoogtepunt van die huidige seisoen is die episode oor die NamibRand-natuurreservaat.

Daar bestee sy tyd saam met die bekende entomoloog, dr. John Irish, en verken die merkwaardige wêreld van die Namibwoestyn se klein inwoners.

Bonné beskryf haar eerste besoek aan NamibRand as asemrowend.

“Die landskap slaan jou asem weg en kry ’n permanente plekkie in jou geheue.”

Sy vertel die reservaat het al haar verwagtinge oortref, veral nadat goeie reën die gebied in ’n groen graslandskap omskep het.

Vir haar is die Namibwoestyn alles behalwe leweloos.

“Hierdie dorre landskap hou ’n besonderse misterie in en is lewendig met spesiale plante en diere.”

Tydens die verfilming was sy verstom oor die verskeidenheid aanpassings wat die woestyninsekte gemaak het om te oorleef.

Van die snuitkewer wat dood speel om roofdiere te mislei tot die miskruier wat geleer het om sy misballetjie te trek eerder as om dit te stoot, het elke spesie sy eie unieke “superkrag”.

Die toktokkie het haar veral beïndruk.

“John noem hom die 4x4 van die woestyn. Sy ontwerp is eenvoudig verstommend.”

Vir Bonné is navorsers soos Irish van onskatbare waarde. Sy wys daarop dat die wetenskaplike navorsing oor die Namib se unieke ongewerwelde diere ’n belangrike rol in die erkenning van die Namib-sandsee as ’n Unesco-wêrelderfenisgebied gespeel het.

Wanneer dit by die grootste uitdagings vir bewaring in Suider-Afrika kom, glo sy die konflik tussen mense en wilde diere hou steeds die grootste bedreiging in.

Tog glo sy gewone mense kan ook ’n verskil maak.

“Besoek ons nasionale parke. Die geld wat ons daar bestee, word vir bewaringspogings aangewend.”

Sy het ’n eenvoudige boodskap vir jongmense: Kom buite.

“Voel die son en verken die lewe buite die betonmure. Die natuur is kragtig.”

Hoewel sy reeds ongelooflike plekke oraloor die wêreld besoek het, is daar nog baie avonture wat voorlê. 

Sy werk tans aan haar volgende fliek, Kingdoms van Duine, Gletsers en die Befaamde Ridders van die Ronde Tafel, ’n projek wat kykers van die Namibwoestyn na die ysvelde van Suid-Amerika en die misbedekte valleie van Wallis sal neem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer