Om te kan beHOORT

Tuis is 'n gevoel
Hoort is ’n kragtige viering van identiteit, ’n eerlike ondersoek na die impak van kultuur en geskiedenis en ’n inspirerende getuienis van ’n kunstenaar wat haar eie stem en krag terugneem.
Henriette Lamprecht

Sy het dit kleintyd aan moederskant daar in Humansdorp geleer en Afrikaans is die taal waarin sy droom. Inteendeel, daar was nog nie ‘n dag in haar lewe wat sy gedink het sy is Engels nie. 

“As jy na my kyk, sien jy iemand vir wie Afrikaans die grootste voordeel ooit was. Ek is verskriklik lief vir my taal en in die huis praat ons Afrikaans met mekaar,” vertel die aktrise en sangeres Stephanie Baartman in ‘n onderhoud met Alita Steenkamp op Afrikaans.com.

Stephanie is onder meer bekend en geliefd vir haar rol as Lettie Adonis in kykNET se telenovelle Diepe Waters, maar in Maart is sy in Namibië op die verhoog as deel van die FNB Windhoek Woordfees met haar bekroonde eenvrouvertoring Hoort. Die semi-biografiese kabaret vertel haar verhaal, die dogter van twee pastore, wat haar plek in die wêreld soek te midde van haar gemengde agtergrond en Suid-Afrika se komplekse geskiedenis. 

Maar eers het sy harte gesteel as die mooie Bibi in Getroud met Rugby wat soveel uitdagings te bowe moes kom. Stephanie erken in haar onderhoud met Afrikaans.com sy is “obesessed” met Diepe Waters en dit is vir haar baie lekker om te kyk wat die ander akteurs doen en wat in die ander storielyne aangaan. 

Sy het ná haar matriekjaar ‘n diensjaar vir Christus gedoen en in lande soos Duitsland, Portugal, Swaziland en Mosambiek saam met die res van die span die Woord met musiek en drama verkondig. Daarna skryf sy vir drama-opleiding in by die Northlink Kollege in Kaapstad waar die Woutrine Theron haar talent raaksien en keur om saam met ander studente aan die Technikon Pretoria drama te studeer. 

Soos vele ander moes Stephanie die moeilike pad volg om met kinderteater te begin, maar sê sy dit was ‘n wonderlike leerskool “en glad nie so maklik soos wat dit mag lyk nie!” Vir Bibi in Getroud met Rugby het Deon Opperman ‘n swart aktrise gesoek wat goeie Afrikaans praat. Toe deel van die korporatiewe wêreld het sy dadelik die geleentheid aangegryp om in Bibi se skoene te klim totdat die sepie in 2022 tot ‘n einde gekom het. 

Benewens haar werk by Diepe Waters is sy ook regisseur by een van E-tv se telenovelles en die stem van een van die karakters in Skerpioen, ‘n telenovelle wat tans op kykNET en kie uitgesaai word. Een van Stephanie se groot drome is om Turkye te besoek en sy spaar hard om dit te verwesenlik. 

God en haar geloof staan sentraal in haar lewe en loopbaan, sê Stephanie en erken “ek kan niks sonder Hom doen nie”. 

“Een ding waaraan ek myself elke dag herinner is: ek lewe, ek haal asem. Dan vra ek: ‘Here, wys my wat is jou doel vir my vandag, anders sou ek immers nie hier gewees het nie.’ Ek sien sy hand in elke liewe area van my lewe raak en ek is heeltemal verlore sonder Hom. Hy is my anker.”

Stephanie is ook die baie trotse ma van haar dogter Symphony en haar seun Duma wie se volle Zulu-naam Dumazeni is. Haar hart mik om die rigting van ‘n kabaretkunstenaar in te slaan want sy wil soos Laurika Rauch musiek sing wat ‘n storie vertel. In die onderhoud met Afrikaans.com vertel Stephanie van ‘n kabaret waaraan sy toe gewerk het met die musiek waarvan sy hou. Die afgelope paar jaar kon sy haar liefde vir sing en musiek uitleef saam met ander kunstenaar soos Anna Davel, Christo Davids, Jana Cilliers en Laurinda Hofmeyr as deel van die musiekteater: Mixtape van die liefde waar poësie en musiek sjarmant ineengevleg word.

In Hoort vat Stephanie Baartman haar krag van haar eie storie terug, skryf Kelly-Lee Ohlsen in haar resensie op Netwerk24.  Sy verwyt al die etikette wat mense oor haar geplaas het – nie bruin genoeg, nie swart genoeg, nie maer genoeg nie, haar hare nie glad genoeg nie. 

“Hierdie roerende semi-outobiografiese kabaret wys dat sy genoeg is. Sy weet waar sy hoort. Sy omarm haarself, haar talent en haar uniekheid en skep ’n vertoning wat opreg, sterk en inspirerend is.”

Wat Hoort so besonders maak, skryf Ohlsen, is hoe Stephanie persoonlike herinneringe en kulturele waarnemings in musiek en soms humor omskep. Elke lied word voorafgegaan deur ’n storie uit haar lewe, wat jou laat lag, maar ook jou hart roer.

“Jy leer ken haar familie en kennisse, van haar hardwerkende pa, tot haar vasberade ma wat nooit ophou studeer het nie, al het sy ’n man en kinders gehad om te versorg. Jy ruik haar ma se Moondrops-parfuum, sien hoe sy en haar suster met bakstene speel en word selfs teruggevoer na die kerk waar koortjies so vrylik en opgewek gesing word.”

Een van die hoogtepunte volgens Ohlsen is wanneer sy vertel van haar en haar suster se kinderjare, toe hulle verlang het na lang reguit hare en met ma se sykouse op hul koppe verbeel het dat hul hare heen en weer swaai. “Hierdie herinnering vloei na India Arie se ikoniese treffer “I am not my Hair” wat die tema van selfaanvaarding en identiteit versterk.” 

In Hoort raak Stephanie ook aan haar gemengde herkoms, slawegeskiedenis, gedwonge verskuiwings en die soeke na ’n plek waar sy werklik beHOORT. Met die lyn “How classification became culture” roer sy ’n diepgaande kwessie aan van hoe mense binne ’n stelsel van etikette en klassifikasie hul identiteit moes hervorm. Sy tref ’n vergelyking met bruin mense of verplaastes wat soos kinders in kinderhuise rondgeskuif word, wat noodgedwonge mekaar moes troos en familie geword het – ’n vergelyking wat die pyn, verlies en veerkragtigheid van gemeenskappe duidelik uitlig.

Haar vertelvermoë is uitstekend, skryf Ohlsen, met Stephanie wat elke storie bou met ’n perfekte balans van humor en hartseer en wat jou as gehoor jou eie herinneringe en emosies ervaar. Die kombinasie van haar stem en musiek is net so indrukwekkend. 

“Baartman se sangtalent, ’n mengsel van jazz, gospel en oorspronklike komposisies, bring die emosies van haar stories op ’n manier oor wat ontroerend en opwindend is. Elke noot, elke frase word ’n verlenging van haar storie en die gehoor voel die energie en intensiteit van haar ervaring.”


Hoort is ’n kragtige viering van identiteit, ’n eerlike ondersoek na die impak van kultuur en geskiedenis en ’n inspirerende getuienis van ’n kunstenaar wat haar eie stem en krag terugneem, sê Ohlsen. Die hoofgedagte wat sy oordra, is duidelik: Tuis is nie ’n plek nie, dit is ’n gevoel. - Bykomende bronne: Netwerk24/Afrikaans.com


Kommentaar

Republikein 2026-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer