Om ’n wêreld en karakters met hout of papier te skep

’n Notaboek vol idees wat wag om op die skerm te verskyn
Sy is ’n kind van Khorixas in wie se are stories bruis en wat met haar kort-raam-animasieprojekte die wêreld ver anderkant Damaraland se mopaniebome en ‘torraklippe’ verower.
Henriette Lamprecht

Dit sou ’n gedig van Boerneef wees wat haar lewensreis vorentoe sou bepaal met iets wat eintlik nooit deel van haar toekomsplanne was nie. 

Maar toe is Erentia Bedeker se kort stop-raam-film wat sy sommer so met haar selfoon gemaak het, goed genoeg om gekies te word vir ’n projek om animasiefilms van Afrikaanse gedigte te maak. 

Tydens ’n gap-jaar om voor te berei vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryf, ontmoet Erentia die kunstenaar Diek Grobler wat in samewerking met die ATKV die projek, Filmverse, bestuur om animasiefilms van Afrikaanse gedigte te maak. Enigiemand kon ’n voorlegging maak om een van die gedigte te verfilm. 

Erentia vat ’n kans, maak ’n kort stop-raam-film met haar foon, stuur dit in en word “wonder bo wonder” gekies om die film vir Boerneef se gedig “Die berggans het ’n veer laat val” te maak. Die res is soos hulle sê geskiedenis. Tien jaar ná hierdie eerste film het sy nege projekte op haar kerfstok. 

Stories was beslis nog altyd ’n baie belangrike deel van Erentia se lewe en loop sterk in die familiebloed, vertel sy. 

“Ek het nog altyd die behoefte gehad om stories te vertel wat jou hart so effens laat pyn soos die films waarna ek graag gekyk het. 

“My ouma was ’n storieverteller van formaat en bykans almal aan my ma se kant van die familie is skrywers. 

“My pa het self later in sy lewe aan’t skrywe gegaan – so stories en die geskrewe woord is deel van my erfenis,” sê Erentia. 

Sy het van skooltyd af graag gedig en het selfs haar honneurs in Afrikaans gedoen sodat sy kreatiewe skryf by die befaamde Suid-Afrikaanse skrywer en digter Marlene van Niekerk doen. 

“Die idee was altyd om ’n digbundel of twee te skryf voor ek by die animasie ingetrek is.”

Saam met die stories het Erentia graag “goed gemaak en met my hande gewerk”. 

Sy het gereeld haar pa bygestaan in die garage as hy houtwerk gedoen het of langs hom op die lessenaar gesit terwyl hy leerwerk doen. 

“Ek wou vroeg begin help en my eie goedjies maak en my pa moes aanvanklik menigte projekte maar self deursien, omdat ek nie lekker geweet het wat ek doen nie!”

Haar ma het haar weer leer naaldwerk doen en Erentia het graag haar eie klere gemaak. Snags as sy nie kon slaap nie, het sy prente geverf agter teen haar kamerdeur of op die badkamermuur.

Stop-raam-animasie kombineer al hierdie liefdes – stories en om ’n wêreld en karakters met hout of papier te skep, sê Erentia. 

Wanneer mense gevra het wat sy eendag wil word, was die antwoord altyd “’n kunstenaar”, vertel Erentia. 

Toe sy moes kies watter “soort” kunstenaar, was drama die enigste rigting waarvoor sy kon aansoek doen. 

“Ek het glad nie kuns op skool gehad nie, so ek kon nie die portefeulje bybring wat ’n mens nodig gehad het om vir kuns aansoek te doen nie.”

Haar onderwysers was nie baie beïndruk met haar nie, erken sy en eintlik het sy ’n beurs gehad om BSc in fisika te gaan studeer. Haar ouers wat vandag steeds op Khorixas woon waar sy grootgeword het, het Erentia gelukkig toegelaat om self te kies. 

Eintlik was sy heeltemal te inkennig vir die verhoog, sê sy, maar die drie jaar as dramastudent op Stellenbosch het haar geweldig baie van haarself en die uitvoerende kunste geleer, iets wat sy vir niks sal verruil nie. 

In haar laaste jaar van drama spesialiseer sy in poppeteater waar sy “so bietjie blootstelling” aan stop-raam-animasie ook kry.

Met stop-raam-animasie word ’n fisiese objek of tekening met klein inkremente beweeg en elke beweging word afgeneem, verduidelik Erentia. 

Elke sekonde van beweging op die skerm bevat ten minste 24 foto’s. Wanneer die foto’s aaneen gespeel word, skep dit die illusie van beweging. 

“Dit was basies die beginpunt van animasie voor rekenaars nog uitgedink is. Hoe vinniger jou beweging wat jy wil animeer, hoe groter is die inkremente tussen elke foto; hoe stadiger die beweging hoe kleiner die inkremente waarteen jy die objek beweeg.

“Een tree wat ’n karakter oor die skerm gee, word dus opgedeel in sê maar 12 inkremente vir ’n rustige stappie. Vir elke sekonde gee die karakter dan twee tree.”

Haar eerste groot projek en narratiewe kortfilm was Ruby & Roach wat by 77 filmfeeste wêreldwyd vertoon en met 18 pryse bekroon is. Haar en haar lewensmaat wat saam met haar die animasie- en grafiese ontwerpstudio Wreckless Creative in 2018 in Johannesburg geopen het, se jongste kortfilm is The Stonemason. 

Dit het sewe jaar geneem om klaar te maak, vertel Erentia en is haar eerste poppe-animasiefilm waarvoor sy self al die poppe uit hout gekerf en gemaak het. 

“Elke stel is gebou en elke rekwisiet met die hand gemaak. Die finale film bestaan uit 21 550 foto’s. En dit is maar skaars die helfte van die totale foto’s wat ek geneem het vir die film!”

Sy het “sommer ’n swetterjoel” idees en drome vir toekomstige films, sê Erentia en daar is een spesifiek wat sy graag in Damaraland sal wil kom skiet. 

“My notaboek is vol idees wat wag om op die skerm te verskyn.”

Vir die kind van Khorixas wie se speelgrond Damaraland se “torraklippe” en mopaniebome en die Namib se oop vlaktes is “waar jy jou drome daar op die horison kan sien sit en wag”, word stories stop-raam vir stop-raam waar. 

– [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer