Olga se 50 foto's van hoop
Deur die slierte mis, letterlik en figuurlik, het sy hoop en veerkragtigheid ontdek. Om haar 50 jaar se sonstrale te vier wat deur die mis gebreek het, hou ‘n Oekraïense fotograaf ‘n uitstalling op haar tweede tuisdorp om dit te vier. Olga Nesterenko se uitstalling van haar unieke foto’s wat stories vertel, het gister in die Woermanhaus op Swakopmund met die gepaste titel 50 Rays of Sun Through the Mist geopen. Olga se spesiale foto-uitstalling weerspieël ‘n reis oor 10 000 kilometer en verweef loopbane, landskappe en stil stories van veerkragtigheid en hoop.
Sy woon reeds tien jaar op Swakopmund en het ‘n unieke harmonie gevind tussen haar Oekraïnse wortels en die asemrowende landskappe van Namibië, vertel Olga.
“Die uitstalling is soveel meer as net ‘n versameling van rame. Dit is die storie om jou lig te vind selfs wanneer die wêreld soos ons dit ken verander.”
Haar foto’s is nie die gevolg van iets wat sy bereik het nie, maar haar pogings om haar voete in Namibië te vind, sê Olga.
“Deur die 50 foto’s deel ek my eerlike verhaal om nie jouself te verloor wanneer die ou wêreld in mekaar tuimel nie. Ook die belangrikheid daarvan om gefokus te bly.”
Alle opbrengste van haar uitstalling foto’s gaan vir die ondersteuning van humanitêre behoeftes in haar geliefde Oekraïene.
Terwyl haar vaderland die afgelope drie jaar deur oorlog geteister word, vind Olga hoop, troos en inspirasie in die vasvang van die skoonheid van alles - van die alledaagse tot die buitengewone - in haar unieke foto's.
Ook bekend as die vrou met die pienk sonbril, erken Olga in ‘n vorige onderhoud met Republikein, dit was deur pure toeval dat sy die sonbril met die pienk lense gekoop het. Gou het dit egter haar voorkeur-manier geword om na die lewe te kyk. Want deur hierdie sonbril lyk die wêreld werklik helderder! sê die 48-jarige fotograaf Olga Nesterenko van Swakopmund.
“Daar is soveel donker kante aan ons lewens, so hoekom kleur ons dit nie in wanneer moontlik nie?”
Die Oekraïense boorling het bewustelik gekies om die lewe met oop arms te omhels en het grootgeword in Zaporizhzhia, een van die stede op die frontlinie van die oorlog met Rusland en met die slagveld net 30 kilometer weg.
LIEFDE MET DIE EERSTE OOGOPSLAG
Sy het dadelik tuis gevoel toe sy in Namibië aankom, sê Olga en dit was liefde met die eerste oogopslag”.
Deel van die Kosakke van haar tuisland, is dié is 'n oorwegend Oos-Slawiese, Oosters-Ortodokse Christelike volk bekend vir hul moed, onafhanklikheid en ‘n skerp sin vir geregtigheid.
“Land van die dapperes en land van vryheid is vir my nie bloot woorde nie, maar 'n leefstyl. Dit is die belangrikste gemeenskaplike kenmerke van Oekraïne en Namibië,” sê Olga.
Aanvanklik het sy gesukkel om op haar nuwe tuisdorp 'n werk te kry op Swakopmund. Nie een om "ledig te sit nie", het sy besluit om haar tot haar lewenslange stokperdjie van fotografie te wend.
“My pa het foto's geneem en het altyd toe ek klein was my na sy donkerkamer geneem om foto's te ontwikkel om vir my hierdie wetenskaplike betowering te wys.”
Die liefde vir fotografie gekweek deur haar pa het tot met volwassenheid voortgeduur, vertel Olga. Vriende en kollegas het dikwels geskerts dat, terwyl ander dalk hul beste skoene vir 'n reis pak, Olga seker gemaak het dat haar kamera die belangrikste deel van haar bagasie was!
In haar fotografie fokus sy op die vasvang van 'n verskeidenheid gebeurtenisse en onderwerpe, verduidelik sy.
“My vriende en kollegas het altyd gesê my foto's dra emosie oor, wat vir my die belangrikste ding is. Emosies word in jou geheue vasgelê en vul ons lewens. Die vreugde van 'n herdenking wat in foto's vasgevang word, kan 'n golf van herinneringe oproep, selfs 20, 30 jaar later.”
VERRYK
Die bywoning van geleenthede dien as 'n vorm van stresverligting en ontspanning vir haar, wat Olga toelaat om tydelik weg te stap van haar daaglikse roetine.
“Ek neem dikwels geleenthede af wat 'n rykdom aan kennis en leergeleenthede bied. Blootstelling aan verskeie idees, kulture en perspektiewe verbreed horisonne, daag aannames uit, en help jou om 'n meer deernisvolle uitkyk teenoor ander te ontwikkel. Dit bied my die geleentheid om nuwe mense te ontmoet en my netwerk uit te brei.”
Om met eendersdenkende individue te skakel wat soortgelyke belangstellings deel, laat haar ook voel “sy behoort” en verminder enige gevoelens van isolasie of eensaamheid,” vertel Olga.
Dit is Namibië se pragtige lug en haar unieke landskappe wat werklik haar hart gesteel het en haar passie vir natuurfotografie aangevuur het, erken sy.
“Dit is my gelukkige plekke. Natuurlike, skilderagtige skoonheid laat my lbinne ewendig voel!”
In Oekraïne het sy nie tyd vir fotografie gehad het nie, iets waaroor sy nou spyt is.
"Ja, ek het landskappe afgeneem, maar dit was alles in 'n haas. Die lewe in die Oekraïne is baie vinnig; jy is
altyd haastig. In Namibië was ek baie verbaas deur die stadige lewenswyse. Jy moet altyd die tyd neem om rond te kyk, om ten minste in die hier en nou te wees en dit te voel.”
Dit kan iets so oënskynlik gewoon wees soos 'n seemeeu wat afgunstig na die een langs hom kyk of 'n sonstraal wat deur 'n streep blare breek.
“Ek het altyd tyd gevind om hierdie oomblikke te memoriseer terwyl ek nog in die Oekraïne gewoon het. My man noem my selfs ‘Sonstraal’! Herinneringe en oomblikke het vir my nog meer spesiaal geword met die begin van Rusland se volskaalse inval in die Oekraïne.”
In Olga se landskapfoto's streef sy daarna om die oomblik vas te vang en word sy geïnspireer deur die wonderlike foto's van Solly Levy, wat sy as 'n mentor en onderwyser beskryf. As bemarkingspesialis en administratiewe bestuurder in haar vorige lewe in Oekraïne, probeer sy altyd om nuwe dinge te leer.
“Wanneer jy 'n nuwe vaardigheid ontwikkel, kry jy selfvertroue en moed, en jy voel meer bemagtig en selfversekerd.”
FOKUS OP DIE BLINK KANT
"Ons leer nuwe dinge in alle aspekte van ons lewens," sê sy. ‘n Paar jaar gelede het die paartjie 'n drie weke oue hondjie in hul erf gevind, en sy het geen idee gehad hoe om vir die onbeplande verrassing te sorg nie.
“Ek het geen idee gehad wat om daarmee te doen nie! Ek moes deur 'n klomp artikels gaan en honderde video's kyk. Maar as dit nie vir ons hond was nie, weet ek nie hoe ek sou oorleef het nie. 'n Hond is 'n natuurlike antidepressant. Sy verstaan jou sonder woorde. Wanneer ek huil, lê sy langs my sonder om te beweeg of my gesig te lek. Of sy begin blaf vir 'n stap en ek sou op daardie oomblik besef dis presies wat ek nodig het!”
Sy is bekend daarvoor dat sy na die lewe kyk deur 'n rooskleurige bril, erken Olga. “'n Ou vriendin van my het onlangs gesê ek bly die wêreld in 'n meer positiewe lig sien as wat dit werklik is en ek moet my rooskleurige bril afhaal. Maar ek probeer om positiewe dinge in elke situasie te vind en die wêreld vir myself in te kleur!”
Op enige reis probeer sy net aangename herinneringe terugbring, sê sy. “Ek het nog nooit mense verstaan wat êrens heen gaan en dan ontevrede bly met óf 'n sop in 'n restaurant wat een keer aan hulle bedien is óf 'n roestige kraan in 'n hotelkamer nie. Jy het tog nie gekom om die kraan te sien nie!”
Olga erken dat toe Rusland 'n deel van Oekraïne in 2014 beset het, die grys wel ingesluip het. En in 2022 het haar wêreld swart en wit geword.
“Daar is geen ander kleure in Rusland se inval in Oekraïne nie. Óf jy is aan die donker kant óf jy is aan die blink kant.”
Wat haar daaglikse lewe betref, sal sy altyd kies om dit deur rooskleurige lense te sien. Olga se uitstalling 50 Rays of Sun through the Mist is tot 24 Februarie in die Woermanhaus op Swakopmund te sien.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie