Nuwe koninginne die naweek in Ooste gekroon
Die finaliste vir Mej. Namibië en Mej. Tiener Namibië 2026 maak gereed vir kroningsnaweek, terwyl organiseerders ’n viering van leierskap, doelgerigtheid en nasionale trots belowe.
Die soektog na Namibië se volgende koninginne bereik dié naweek sy hoogtepunt wanneer die finale vandag en môre by Die Dam op Gobabis plaasvind.
Volgens die organiseerders behoort die kompetisie aan elke Namibiër, ongeag waar hulle woon.
Die nasionale direkteur van die Miss Namibia-organisasie, wat ook toesig hou oor Miss Teen Namibia, Beaulah Boois-Beukes, het tydens ’n telefoniese onderhoud met Tjil gesê: “Miss Namibia behoort aan elke Namibiër, nie net aan een stad nie.”
Oor die besluit om die kompetisie na Gobabis te bring, het sy gesê dit bevestig hul verbintenis om dié nasionale platform vir gemeenskappe regoor die land toeganklik te maak.
“Deur die finale ronde in die streke aan te bied, stimuleer ons plaaslike ekonomiese aktiwiteite, skep ons geleenthede vir plaaslike besighede, kunstenaars en toerisme en gee ons jongmense die kans om die kompetisie van naderby te beleef,” het die nasionale direkteur gesê.
Boois-Beukes het ook oor vanjaar se finaliste en hul groei deur die kompetisie gepraat en gesê: “Wat my die meeste beïndruk het, is die merkwaardige transformasie wat ons deur hierdie reis gesien het – van die gasheerstreek tot die finaliste.”
Sy het benadruk dat gehore tydens die kompetisie jong vroue sal sien wat met selfvertroue praat, met doelgerigtheid leiding neem en hulself met egtheid dra.
Boois-Beukes het ook verduidelik watter eienskappe uiteindelik die wenner op die kroningsaand van die ander finaliste sal onderskei. “Skoonheid mag dalk aandag trek, maar karakter is wat ’n ampstermyn van ’n koningin volhoubaar maak,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat die beoordelaars op kroningsaand op soek sal wees na ’n jong vrou wat integriteit, emosionele intelligensie, selfvertroue, nederigheid en ’n opregte verbintenis tot diens aan ander verteenwoordig.
Boois-Beukes ook gefokus op die geleenthede én verantwoordelikhede wat die wenners, sowel nasionaal as internasionaal, sal ontvang.
“Die wenner se ampstermyn begin die oomblik wanneer die kroon op haar kop geplaas word. Hulle sal ambassadeurs vir Namibië word en ons land by gesogte internasionale kompetisies verteenwoordig, terwyl hulle ook sake met ’n goeie doel bevorder wat ’n positiewe impak op gemeenskappe tuis het.”
Sy het bygevoeg dat die wenners saam met vennote sal werk, aan nasionale veldtogte sal deelneem, by skole en jeuginisiatiewe betrokke sal raak, liefdadigheidsprojekte sal ondersteun en jong Namibiërs deur hul leierskap en voorbeeld sal inspireer.
“Dit sal ’n veeleisende jaar wees, gevul met reise, openbare optredes en internasionale verteenwoordiging, maar dit is ook ’n buitengewone geleentheid vir persoonlike groei en ’n lewenslange impak,” het Boois-Beukes gesê.
Sy het ook ’n spesiale boodskap aan die toptien-finaliste: “My ‘Baby Sharks’, onthou dat julle reeds iets buitengewoons bereik het. Julle het jul plek onder Namibië se uitnemendste jong vroue verdien en ongeag wat op kroningsaand gebeur, behoort julle ongelooflik trots te wees op hoe ver julle gekom het.”
Sy het ook ’n boodskap gedeel aan elke jong Namibiese meisie wat droom om eendag op die verhoog te staan.
“Aan elke jong Namibiese meisie wat kyk: Moet nooit toelaat dat jou omstandighede die grootte van jou drome bepaal nie. Glo in jouself, belê in jou onderrig, ontwikkel jou karakter en hou nooit op om daarna te streef om die beste weergawe van jouself te word nie.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie