Namibiërs blink uit in New York

Tanja Bause
Die twee Namibiërs Allen Tambrescu (16) en Rayne Sadler (14) het Saterdag talle pryse by die 50ste Talent America-kompetisie in New York ingepalm.

Dit is die eerste keer dat Namibiërs aan die kompetisie deelneem.

Allen is as Talent America se algehele wenner aangewys. Hy het ook skoonskip gemaak in die kategorieë vir instrumentaal, sy kunstenaarstuk, vir sy ouderdomsgroep en in sy afdeling – asook as die Talent America-beoordelaarskeuse en die beste internasionale kunstenaar.

“Die eerste twee stukke wat ek gespeel het, was van Chopin. Dit was ernstige klassieke stukke. Die laaste stuk was Für Elise van Beethoven en ek het dit begin soos ’n musikale komedie. Ek het my musiekblaaie onderstebo gehad en baie grappe gemaak. Ek het toe die blaaie in die lug gegooi en my eie weergawe van die stuk gespeel. Die beoordelaars het dit baie geniet,” het Allan uit New York gesê.

“Dit is so ongelooflik en onwerklik. Ons is so trots op hom en Rayne,” het sy tannie Beatrice Schultz gesê.

Allen het gedurende die Covid-10-pandemie – op 13-jarige ouderdom – homself leer klavier speel.

Die sangeres Rayne is van Swakopmund en het op negejarige ouderdom aan haar eerste sangkompetisie deelgeneem.

Rayne het in drie kategorieë ingeskryf en al drie gewen.

Sy is ook as wenner in haar afdeling en as algehele wenner aangewys.

“Die dag was baie besig en ek was op my senuwees, maar nadat ek die eerste liedjie gesing het, was my kop en ek reg. Dit was ongelooflik om al die verskillende talent van oraloor die wêreld te kan sien en te beleef,” het Rayne vanuit New York gesê.

Daar was vyf beoordelaars en Rayne is deur drie van hulle teruggeroep. Dit is wanneer agente en talentsoekers onderhoude met die kunstenaars voer.

Die bekende talentsoeker Barry Shapiro het gesê sy het ’n ongelooflike stem en dat hy haar op ’n CD kan hoor sing.

“Die agent Kat Hollander het gevra hoe maklik ek terug na die Verenigde State kan kom, as dit nodig is. Sy het ook gesê ek moet video’s en opnames van liedjie vir hulle stuur.”

Terry Camp, ’n vermaaklikheidsprokureur, het ook sy besigheidskaartjie vir Rayne gegee.

“Hy het gesê ek sal ver gaan en dat daar baie skelm mense in die bedryf is. Ek kan kom enige tyd kontak ongeag waar ek is en hy sal na die kontrakte kyk om te verseker dat ek nie ingeloop word nie.”

Allan is ook deur drie beoordelaars teruggeroep.

“Die een is die prokureur en die ander een is ’n bestuurder wat beide hulle dienste aangebied het. Die derde een wou weet of ek kan dans en toneelspeel. Hy het ook gesê as ek na die Verenigde State sou terugkeer, hy my met die ontwikkeling van die twee sal help en dat hy sal probeer om vir my ’n rol in ’n fliek te kry. Volgens hom het ek die voorkoms. Ons sal moet wag en kyk wat die toekoms inhou,” het Allen gesê.

“Beide die kinders het ongelooflik hard gewerk om hier te kom. Hulle het ure lank geoefen en ons soms teen die mure uitgedryf met hulle aanhoudende musiek, maar dit het alles vrugte afgewerp en ons bars van trots,” het Rayne se ma, Nicky, gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer