’n Perfekte fliek vir romcom-liefhebbers

The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk

Ek hoop al lank vir ’n egte romantiese komedie en ek dink ek het uiteindelik een gekry wat my weer in liefde laat glo.

You, Me & Tuscany is die eerste rolprent in ’n lang tyd wat my daaraan herinner hoekom liefdesverhale so spesiaal is. Dit het my weer laat dink oor hoekom romantiese komedies so magies kan voel. Dit voel soos iets uit die vroeë 2000’s; en ek bedoel dit as ’n kompliment.

Dit volg al die ou romcom-motiewe (tropes), maar is steeds modern en vars. Dis nie ’n foutlose fliek nie, maar dis beslis ’n lekker fliek om op die grootskerm te kyk.

Ek weet dat die meeste romantiese rolprente nie meer in teaters vertoon word nie, dis hoekom dit so wonderlik was om hierdie een op die silwerskerm te kon sien.

In die fliek vertolk Halle Bailey die rol van Anna, ’n “sjef” wat probeer om van haar hartseer te ontsnap en haarself in die lewe van ’n Italiaanse familie in te wurm.

Dis waarskynlik die beste manier om die storie te beskryf sonder om iets te verklap. Sy ontmoet dan vir Michael, gespeel deur Regé-Jean Page, en hy wys haar dat daar meer aan die lewe is as om jou pyn te vermy.

Dis ’n storie wat wys hoe hartseer ons op verskillende paaie kan neem en dat daardie pad dalk na liefde kan lei. Dis ’n hartroerende fliek wat jou sal laat lag én jou dalk selfs ’n paar trane sal laat pik. Dit voel regtig soos die romantiese komedies waarmee ek grootgeword het en dalk is dit hoekom dit aanklank by my vind.

Ek is mal oor die rolverdeling, want elkeen bring daardie Italiaanse familiegevoel na die film. Almal is so snaaks en ek kon net nie genoeg van hulle kry nie. Dit gesê, ek wens die storie het die ondersteunende karakters meer gegee om te doen. Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, want hierdie is immers ’n liefdesverhaal.

Toskane is beslis die derde hoofkarakter in die fliek, en dit is hoekom dit in die titel is. Jy sien nie net verskillende kante van Toskane nie, maar jy ervaar ook die mense, die kultuur, en die belangrikste – die kos. Ek sal jok as ek sê die fliek het my nie honger gemaak nie. Dit laat jou op Italië verlief raak.

Die storie is voorspelbaar, maar dis tipies van die meeste romantiese komedies. Ek dink ook nie al die grappies werk ewe goed nie, maar die mense in my teater het so hard gelag dat ek van die sagter dialoog nie kon hoor nie. Die dialoog is ook nie baie sterk nie, wat ek dink gepas is vir hierdie tipe fliek.

Die musiek het die perfekte atmosfeer geskep. Ek dink wat ek probeer sê is: Dit is die perfekte fliek vir romcom-liefhebbers, maar dalk nie vir mense wat die diepte van ’n film wil ontleed nie.

Dis ’n fliek wat 3 en ’n half uit 5 sterre verdien, bloot omdat ek daarvan gehou het en ek meer van hierdie tipe flieks soek.

My reis na Comic Con Cape Town het vandeesweek ook amptelik begin. Die geleentheid vind van 30 April tot 3 Mei in Kaapstad plaas. Om te sê ek is opgewonde, is nie genoeg nie.

Ek kan nie wag om hierdie geleentheid by te woon nie, wat ek regstreeks op my sosialemediaplatforms sal deel. Ek sal ook die geleentheid volledig in Kollig deel om al die Namibiërs saam met my op hierdie reis te neem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer