’n Langtafelkuier saam met Frik

Ses disse uit ses lande
As kos en reis jou palet prikkel, maar jou beursie is dun en die vakansie ver, is 'n koskuier en -stories saam met die bekende Kuierkos-skrywer en -sjef Frik de Jager dié Saterdag skuins buite Windhoek jou antwoord.
Henriette Lamprecht
Hy is nou wel ’n sjef en dit gaan gevolglik immers oor kos, maar vir Frik de Jager gaan dit eintlik oor die storie, want “elke dis begin by ’n persoon”. Sy momente van euforie en nirvana is ’n kuier saam met goeie vriende om ’n tafel met lekker kos. Dit is presies waarna Frik jou Saterdagaand op Herboth’s Blick buite Windhoek nooi wanneer jy die voorreg het om saam met hom om ’n langtafel te kuier met ses disse uit ses lande – van die Karoo tot in Kaïro en van Rusland tot in Rome – met alles wat onder jou neus en voor jou oë gebeur. Om jou mond te laat water, jou smaakkliere te prikkel en te laat wonder oor die komvandaan van elke dis, kyk wat is op die spyskaart: Voorgereg: Varsgebakte ciabatta met twee verskillende smere met die oorsprong in die Mediterreense streke van Italië. Dit word gevolg deur Gazpacho uit Spanje wat dateer uit die 1500’s, ’n koue sop met onder andere tamatie en komkommer. Die spyskaart reis dan na Koshari, uit Egipte. Koshari is ’n kombinasie van lensies, kekerertjies, witrys en elmboogpaste saam met ’n tamatie-en-uiesous. Dit is ’n dis wat deur die arbeiders voorberei is uit al die oorskietgroente en dinge wat dan verpulp en saamgeneem word na die landerye as middagete. Koshari – net soos die vorige Gazpacho, het albei glo ’n effense byt. Die vierde dis is ’n Russiese filet saam met vars “rocket” en radyse op ’n sosatiestokkie. Die hoofgereg en pièce de résistance is ’n tradisionele Marokkaanse huweliksdis van die Berber-gemeenskap: Hoender, oornag gemarineer in suurlemoen, olyfolie, koljander en nog ander kruie en speserye. Daarby kom nog amandels, dadels en appelkoos, wat saam met koeskoes met gekaramelliseerde uie bedien word. Om die spyskaartreis af te sluit, is die kersie op die koek – ’n roomystert uit Griekeland met ’n suurlemoensmaak met klapper, lemoenbeskuitjies en lemoenstroop. Volgens Frik is sy ses disse uit ses lande “peasant”-kos, met ander woorde dit ruk nie jou beursie nie en is plat op die aarde boerekos. Sy jongste kosskryfsel is Storiekos: Op reis na resepte en is onlangs deur Naledi-Uitgewers vrygestel. En dit is juis resepte uit hierdie boek wat hy gaan opdis, saam met die storie oor hoe dit op sy bord en in die boek beland het. Frik se ses disse is ’n kulinêre reis om ’n langtafel wat jy nie kan misloop nie. Bespreek jou plek aan die tafel vir Saterdag om 18:00 by Chris en Chrisna se huis op Herboth’s Blick 61. Kaartjies is aanlyn teen N$350 per persoon by etickets.my.na beskikbaar. Bring jou honger en eie drankies! – [email protected] Klik hier: https://q.my.na/K5WL

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer