’n Koedoe vol kleur en kuns

Henriette Lamprecht

Op ’n plattelandse dorp in die noorde van die land het ’n kleurvolle “mal” koedoe haar verskyning gemaak. 

The Crazy Kudu-kunsgalery op Grootfontein het die naweek haar deure amptelik geopen en bring kleur en kuns nie net na dié dorp nie, maar ook die omgewing wat meer bekend vir sy mielies is.

The Crazy Kudu is die breinkind van Wimpie en Merike Heath en is die hoogtepunt van ’n jarelange droom en die gesond word ná intense persoonlike trauma.

Hulle is altwee maar “arty farty” erken Merike met haar wat skilder en Wimpie wat musiek maak.

“Die galery het ontstaan uit trauma en ons eie, persoonlike reis na heling. Die hoop is om dit later ook as ’n sentrum vir kunsterapie te gebruik,” vertel Merike.

Merike het sielkunde bestudeer en die kunswerke in die ingangsportaal van The Crazy Kudu fokus op geestesgesondheid en die belangrikheid daarvan.

“Wat jy vir jouself sê en wat jy dink, reflekteer in jou lewe,” verduidelik sy.

In aanloop tot die droom om later ’n sentrum vir kunsterapie te open, het die Heath’s besluit om solank die ruimte as ’n galery te vestig.

“Plaaslik het ons ‘amazing’ kunstenaars op Grootfontein en Tsumeb en die omgewing wat nie ’n platform het om uit te stal nie.”

Tans is daar drie kunstenaars wie se unieke kunswerke op The Crazy Kudu se mure te sien is. Buiten vir Merike is dit Jurrieta Otto en Ralf Senke, “drie uiteenlopende kunstenaars”, wat tans hier uitstal. 

Die galery is vir “enigiemand wat voel hy of sy het iets om uit te stal,” sê Merike.

“Ons sal ’n gaatjie kry en dit opsit.”

By The Crazy Kudu kan dit nou gesien en gekoop word.

“Almal sit net met kaste en kaste vol kuns wat net stof vergader. Ek het ook nie meer plek in my eie huis nie!”

Lank voor die trauma wat sy en Wimpie ervaar het, was die droom al daar om ’n galery te open, erken Merike.

“Ek was nog maar altyd ‘arty farty’ gewees en het gedink dit sal lekker wees. Maar daar was altyd ander dinge wat eers moes aandag kry.”

Die seer en “geweldige stryd” van die afgelope vyf, ses jaar het egter tot ’n plek gelei waar die mooi en die boodskap van kuns met ander gedeel kan word.

Vir meer inligting kan Merike by 081 1696 665 gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer