’n Fliek vir die hele gesin

The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk

GOAT is dalk hierdie generasie se Coach Carter of Remember the Titans. Dis ’n emosionele sportverhaal met ’n groter emosionele impak as wat ek verwag het.

Die fliek volg vir Will, ’n klein bokkie wat ’n kans van ’n leeftyd kry om “roarball” professioneel te speel –  ’n hoë-intensiteit, volkontak sport wat amper soos basketbal is. Die sport word deur die vinnigste en grootste diere oorheers. 

Hy sluit aan by die Vineland Thorns waar hy deur sy spanmaats onderskat word, maar dit dryf hom net meer om die sport te verander en te bewys dat klein diere ook kan speel.

Ek was van die begin af geboei, al het ek geweet watter rigting die storie gaan inslaan. Soms werk ’n voorspelbare fliek beter as een vol misterie.

GOAT bewys dat ’n klassieke sportfliek-formule steeds kan werk as dit met oortuiging vertel word. Die fliek lyk pragtig en die stemwerk is uitstekend. Ek kan nie die animasie se mooi kunswerke uit my kop kry nie.

Die storie voel soms bekend, dit het my baie aan Like Mike laat dink. Wat die fliek wel laat uitstaan, is die karakters en animasie, dit maak die fliek amper beter as Space Jam. Dis nie net ’n storie oor ’n Dawid wat ’n Goliat moet verslind nie, maar iemand wat homself wil bewys. Dit is ook ’n storie van iemand wat glo hulle het nog iets om te bied. 

Ek fokus altyd eers op hoe ’n fliek my laat voel, en hierdie een het al die regte emosionele note getref. Dis warm, opreg en het my amper ’n traan of twee laat pik. Terselfdertyd is die storie met slim, meta-humor gebalanseer. Ek dink sommige van die jonger span sal al die verwysings na popkultuur geniet.

Caleb McLaughlin vertolk die rol van Will Harris, met Gabrielle Union as Jett Fillmore, ’n jaguar en ervare speler wat aanvanklik vir Will as ’n bedreiging sien. Hul dinamika werk uiters goed en een van die fliek se sterkste punte is hoe hul verhouding ontwikkel. 

Die rolverdeling sluit ook Stephen Curry, Nicola Coughlan, Nick Kroll, David Harbour, Jenifer Lewis, Aaron Pierre en Patton Oswalt in.

McLaughlin lewer ’n sterk vertoning as Will, wat dit maklik maak om jouself in die karakter raak te sien. Die res van die rolverdeling is ewe indrukwekkend, met Nick Kroll se komododraak wat gereeld die kollig steel. 

Natuurlik help dit dat die fliek visueel ongelooflik goed lyk.

Die animasie is deur dieselfde span agter die Spider-Verse- en Kpop Demon Hunters-flieks behartig, en jy kan dit sien. Die wêreld voel lewendig en vars, met “roarball”-bane wat elkeen uniek ontwerp is en die sport soos ’n uiterste ervaring laat voel. 

Die diereontwerpe is kreatief en Will se voorkoms herinner selfs effens aan Stephen Curry, wat ook die fliek vervaardig het. Klank speel ook ’n groot rol, en GOAT se klankbaan is sterk, met sommige karakters wat selfs kletsrym-spotliedjies lewer. 

Die mengsel van stadsgeluide en natuurklanke werk uitstekend. GOAT bewys dat oorspronklik geanimeerde rolprente steeds ’n plek tussen al die opvolgverhale het.

Dis ’n fliek vir die hele gesin en een wat die beste op die grootskerm ervaar word. Ek gee dit 4 uit 5-sterre. Die fliek begin vandag in rolprentteaters draai.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer