’n Besonderse geskenk vir Kersfees
Besoekers aan en inwoners van Swakopmund en die kus kan vir die eerste keer na ’n baie spesiale pottebakkersmark uitsien, aangebied deur die Pottebakkersvereniging van Namibië (PAN), wat vanjaar sy eerste buiging hier maak.
Die mark vind op Saterdag 19 Desember van 08:00 tot 13:00 in Trendhaus se binnehof plaas en word gevolg deur ’n keramiekuitstalling van 17:00 tot 21:00 as deel van die vakansiedorp se jaarlikse en immergewilde “Swakop by Night”.
Die mark volg op die sukses van PAN se Windhoekse Pottebakkersmark wat op 8 Augustus vanjaar by The Project Room gehou is. Die mark in Swakopmund gee kusbewoners en vakansiegangers ’n soortgelyke geleentheid om Namibiese pottebakkerswerk te ontdek.
Volgens PAN se voorsitter, Gigi Mathias, was die Windhoekse mark ’n reusesukses en is die een in Swakopmund ’n manier om hierop voort te bou en besoekers en inwoners ook die geleentheid te bied om Namibiese pottebakkers se unieke ware te ontdek. Werk van tieners tot pottebakkers in hul tagtigs sal deel van die mark op Swakopmund wees.
“’n Handgemaakte stuk is ’n besonderse geskenk omdat iemand tyd en sorg daaraan bestee het,” sê PAN se sekretaris, Svenja Garrard.
“Dit gee mense ook die geleentheid om keramiekwerk wat hier in Namibië gemaak word, te ondersteun.”
PAN het ’n ryk geskiedenis wat oor byna vier dekades strek en is in 1987 gestig. Sedertdien is verskeie geleenthede vir pottebakkers geskep om hul werk uit te stal, praktiese werkwinkels by te woon en vaardighede uit te ruil. Die vereniging se bedrywighede stel keramiek aan ’n groter publiek bekend en gee pottebakkers die kans om by mekaar te leer.
PAN vier volgende jaar sy 40ste bestaansjaar en planne vir die geleentheid sluit ’n uitstalling, werkwinkels met ’n besoekende Suid-Afrikaanse pottebakker en ’n boekie ter viering van die geleentheid in.
Die herdenking sal ’n geleentheid bied om terug te kyk op die vereniging se bydrae tot Namibiese keramiek en na te dink oor die pad vorentoe.
Desember se mark beloof ’n pragtige verskeidenheid handgemaakte pottebakkerswerk, met elke stuk wat die sorg en karakter van sy skepper weerspieël. Dit is ’n geleentheid om iets besonders vir jouself of ’n geskenk met betekenis vir iemand anders te vind.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie