'n Afrikaanse Aspetat

Stories vir kinders van drie tot tien jaar
Al is sy 'n gesoute joernalis, is Elvira Hattingh in wese 'n kunstenaar met enorme kreatiewe energie wat nou 'n uitlaatklep het danksy die kinder- en feëverhale wat sy skep.
Henriette Lamprecht
Toe sy uiteindelik amptelik as ‘n graad eentjie agter ‘n skoolbank kon inskuif, was dit met net een droom - om so gou as moontlik te leer hoe om te skryf sodat sy ook kon stories skryf.

Dis soos immergroen Abba in Thank you for the Music sing van I am a bit of a bore and if I tell a joke, you probably heard it before – but mother says I was a dancer before I could walk, a singer before I could talk, sê Elvira Hattingh. Want om die een of ander rede resoneer dit met haar en haar woorde en stories wat lank reeds in haar kop was nog voor sy dit kon sê of skryf. Sy is wyd in landboukringe bekend as jarelange gesoute landboujoernalis wat die bedryf en sy mense met passie in haar pen verteenwoordig en vasvang in haar nuusartikels, maar het haar nuustande geslyp in artikels van letterlik die maan tot by ‘n dam. Kortom, jy kan vir Elvira die joernalis in enige ‘beat’ die nuus laat soek, sy sal dit kry. Maar dis die harde wêreld van feite en ‘deadlines’ waar kreatiwiteit maar weinig indien ooit haar sagte siel voed. Maar ‘n vrou soos Elvira maak ‘n plan en laataand, wanneer haar twee woelwaters Chris en Lisa-Marié in die bed en die nuus geskryf is, dryf haar passie vir stories skryf haar weer agter haar rekenaar in.

“Ek kyk nie TV nie, dit verveel my. Met uitsondering van ‘n goeie dokumentêr af en toe!,” erken sy.

Haar liefde vir kinderstories kom uit haar kinderdae, vertel Elvira. Danksy ‘n geduldige ma (en soms self ouma) wat elke aand voor slaaptyd vir haar en haar sussie storieboek gelees het.

Sy glo vas die Here rus jou van meet af toe met die nodige talente vir die planne wat Hy met jou lewe het, erken sy.

“Jy kan net vir Hom die eer gee.”

Jaareinde se skoon bladsye agter in haar skoolboeke het volgens haar net een doel gehad – om haar eie stories in te skryf.

“Onthou, ek het op ‘n plaas grootgeword in ‘n era sonder elektrisiteit en televisie, my neus was maar altyd in boeke!”

Natuurlik word sy toe ‘n joernalis en daarmee saam is Afrikaans immer ook haar hartstaal.

As die ma van 'n agt- en vierjarige is sy bekommerd oor die gebrek aan die beskikbaarheid van moderne Afrikaanse stories, liedjies en leermateriaal, sê Elvira.

“Ek het uit gesprekke met talle ander ouers besef daar is ander wat ook so voel. Dit is vir my ook baie belangrik om my eie twee aspetatte met 'n liefde vir Afrikaans groot te maak.”

Sy voel Afrikaanssprekende kinders ‘verloor’ aan die Engelse media wat die kapasiteit het om ‘n oorvloed uitstekende en fassinerende materiaal vir ons kinders te skep.

“Kunsmatige intelligensie (KI) het sy voordele. Waar dit voorheen onmoontlik was om binne minute en sonder ‘n studio en ‘n span kundiges self animasies vir jou stories te skep, is dit nou doenbaar.”

En danksy ‘n beroep in die media moes Elvira leer om KI te gebruik.

Sy is seker dit is net ‘n genadegawe van Bo, maar haar Afrikaanse Aspetat-reeks vir kinders is tot dusver ‘n redelike sukses, vertel Elvira.

“Ek het “Die Drie Varkies” sowat drie maande gelede op Youtube gelaai en sedertdien is dit meer as 94 000 keer gekyk! Dit word elke dag ver meer as ‘n 1 000 keer gekyk.”

Die Gemmerbroodman is ‘n maand gelede opgelaai en is reeds 28 000 keer gekyk. Die Rooi Hennetjie is maar twee weke gelede opgelaai en is reeds 13 000 keer gekyk.

Dis harde werk erken Elvira, met ‘n storie van ses tot agt minute wat minstens 20 ure neem om te skep.

Sy skryf graag eie rymstories vir kinders in Afrikaans en het ook haar hand gewaag aan liedjies, maar besef die gewildste bly Aspetat se feë- en kinderverhale – ou bekendes soos die Drie Varkies, die Gemmerbroodman, Rooikappie, Hansie en Grietjie en die Rooi Hennetjie.

“Ek mik die stories op kinders van sowat 3 jaar tot 10 jaar oud.”

Dit is inderdaad ‘n skrille kontras, erken Elvira. Die harde, wetenskaplike nuus- en landbou-artikels wat sy skryf teenoor die feëverhale wat sy vir Aspetat skep.

“Ek wonder self daaroor! Miskien lei dit my aandag af en versag dit die skerp hoeke van my werk. Ek is in wese ‘n kunstenaar met enorme kreatiewe energie, ek is net so gemaak. Miskien is Aspetat my uitlaatklep.”

Al Aspetat se stories is tans op Youtube beskikbaar by https://www.youtube.com/@aspetat. Aspetat se prettige storie-, leer- en kinderaktiwiteitsboeke is alles beskikbaar by https://payhip.com/AspetatKinderboeke/.

Kliek hier: https://q.my.na/ORMK

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer